Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
FOTO’S: Tuindag landwyd gevier
Gerda, Gischell, Jan en Jayden Kamfer van Perdeskoen op Babylonstoren. Foto: Verskaf

Sondag was Tuindag en natuurliefhebbers oor die land heen het dit gevier deur tyd buite deur te bring, omring deur die lieflike geure van blomme en plantegroei.

In die Wes- en Oos-Kaap is pryse uitgedeel vir dié met uitstekende tuinmaakvernuf, en in Gauteng het jongelinge die kans gehad om die dag in die natuur te geniet.

Mense in die Wes-Kaap het heerlike vars vrugte en groente geniet en ’n glasie op die dag geklink.

Tuindag is ’n inisiatief van Candide, ’n gratis app wat tuiniers met mekaar, openbare tuine en kwekerye verbind. Die app bevat ook tuinmaak-wenke en inligting oor plante.

Op Babylonstoren, ’n geskiedkundige landgoed in Franschhoek, is Tuindag op ’n baie spesiale manier gevier. Pryse is aan die werkers met die mooiste tuine uitgedeel en hulle is ook vir hul harde werk vereer.

Toe Abram Louw en sy gesin nege jaar gelede in een van die 25 werkershuise op die landgoed ingetrek het, was een van die eerste dinge wat hy gedoen het om tuin te maak.

Vanjaar het Louw ’n tweede plek in die tuinkompetisie gewen, met Jan Kamfer wat met die louere weggestap het.

Kamfer is veral geprys vir sy goed versorgde grasperke omring deur laventelbosse en ’n verskeidenheid vetplante.

Louw onthou dat daar glad nie ’n tuin om sy huis was toe hy daar ingetrek het nie. “Ek hou van tuinmaak, so ek het dadelik ’n tuin begin uitlê en begin plant.”

Sy beloning is nie net die rustigheid wat die tuin vir hom en sy gesin meebring nie, maar ook die waardering van die eienaars van Babylonstoren.

Jacolean en haar man, Abram Louw, klink ’n glasie op Tuindag.Foto: Verskaf

Louw en Kamfer is inwoners van Perdeskoen, die klein dorpie op Babylonstoren, wat internasionaal bekend is vir sy tuine en hul meer as 300 eetbare plante.

Louw, nou ’n wingerdproduksiebestuurder op Babylonstoren, het ’n roostuin, ’n Eugenia-heining en vetplante. Sy vrou werk af en toe in die tuin, maar hy het ook ’n klein helper in die vorm van sy vyfjarige seun wat met sy eie graaf en vurk inklim.

“Ons geniet die tuin saam,” sê hy. “Soms kom ek tuis ná ’n harde dag se werk en voel ’n bietjie moeg of gefrustreerd. Dan geniet ek ’n lekker bad, waarna ons as gesin saam in die tuin sit en die skoonheid van die natuur geniet. Dit laat my weer lewend voel.”

Ook in Marina da Gama, naby Muizenberg, is ’n viering gehou waar Zayaan Khan, kosaktivis en tuinboukundige, ses vriende genooi het om die dag te geniet.

“Ons het van die vrugte en groente uit die tuin geëet, aangesien baie van die plante in die tuin kos en slaai kan produseer. Ons het ook heerlike tert geniet,” sê sy.

Nhlanhla Makwe (24) het ook Tuindag-vieringe aangebied in sy tuin in Orlando-Wes, Soweto. Hier het hy wysheid gedeel met jong kinders, wat ook blomkranse van fynbos gedra het.

In die Oos-Kaap het talle kinders by die Thembani Eagle Hout Integrated Project in Bedford, tussen Grahamstad en Cradock, bymekaargekom om Tuindag te vier. Daar is ook ’n tuinmaakkompetisie gehou en Irene Nqobe van die township het met die louere weggestap. Nqobe het in trane uitgebars toe sy as wenner aangekondig is. Sy en die 40 ander deelnemers het elkeen ’n koek gekry ter viering van Tuindag.

Lezanne Viviers, modeontwerper, het ’n Tuindagviering in haar huis in Westcliff, Johannesburg, aangebied. Viviers was voorheen ’n ontwerper vir Marianne Fassler, maar het nou haar eie onderneming en klerereeks begin. By Viviers se viering het talle gaste ook met kleurryke blomkrone gespog.

Iming Lin en Willow Lin-Delport (2) van Houtbaai by ’n Tuinbdag-viering in Marina da Gama naby Muizenberg.Foto: Verskaf
Gundula Deutschlander, die hooftuinier by Babylonstoren.Foto: Verskaf
Jenna Pietersen, passievolle tuinier en ambassadeur vir Babylonstoren se blomkranse.Foto: Verskaf
Karen Dudley, sjef en skrywer, met haar blomkrans.Foto: Verskaf
Zayaan Khan, kosaktivis en tuinboukundige van Marina da Gama, met haar blomkrans. Foto: Verskaf
Nhlanhla Makwe (24) wat Tuindagvieringe in sy tuin in Orlando-Wes, Soweto, aangebied het.Foto: Verskaf
Voor is die gasheer Nhlanhla Makwe en Lehlohonolo Doporo saam met die kinders wat hulle daagliks leer tuinmaak in die township. Van links is, agter ene Makhanuya, Bafelo Make, Buhle Zitha, Warong Makwe, Mbalienhle Zitha, Mpho Zitha en Luyanda Zitha. Foto: Verskaf
Die drie naaswenners in die Bedford-township se tuinmaakkompetisie is Edith Williams, Gladys Rossouw en Margaret Lupuwane.Foto: Verskaf

Meer oor:  Tuindag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.