Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Fraaie plante ideaal vir dors klimaat
Bo: ’n Nuweling met die naam Bougainvillea ‘Thai Delight ’. Dis ’n robuuste ranker en ’n mooi kalant vir ’n ruim pot op ’n sonnige patio. Die skutblare is pienk en wit en die plant se gewone blare is bont.

Hulle hang losbandig oor mure, vorm digte blomheinings, gooi ’n helder blommetapyt neer onder ’n prieel, en vertoon alte sierlik in groot tuinpotte.

Bougainvilleas is die dapper vegters teen versengende hitte en droë dae – trouens, hoe warmer die somer en hoe minder die water, hoe mooier is die plante! Hoewel bougainvilleas oor die algemeen aanbeveel word vir tropiese en subtropiese tuine, sal hulle ewe goed groei in gematigde klimate met ligte ryp.

Op die koudste plekke moet hulle liefs op ’n beskutte plek in houers geplant word en in die winter goed beskerm word met ’n rypdoek.

Bougainvilleas word primêr as rankplante geklassifiseer en as dit teen ’n stewige stutraamwerk opgelei word, sal dit blitsvinnig tot hoog bo in die lug rank.

Daar is heelwat moderne var­iëteite wat ’n tuinier kan inspan, soos die pragtige Bougainvillea ‘Ada’s Joy’ wat ligpienk blom.

Die kleur wat ’n mens sien, is nie regtig die blomme nie, maar eerder helder skutblare, wat piepklein, wit en redelik oninteressante blommetjies omring.

Nog ’n uitstekende variëteit wat as rankplant gebruik kan word om ’n vaal gebou op te helder of ’n blomhemel oor jou kop te vorm, is Bougainvillea ‘Poultonii’(donkerpersrooi skutblare) en ­‘Purple Robe’, met donkerpers skutblare wat ook lieflik in groot potte is.

As veiligheidsheining oor ’n draadraamwerk het bougainvilleas geen gelyke nie en met wilde soorte soos ‘Killy Campbell’ of ‘Scarlet O’Hara’ se weggesteekte dorings gaan ’n skelm wat jou werf met slegte bedoelings betree, sy moses teëkom.

Links: Nog ’n nuweling, Bougainvillea ‘Rjinstar White ’, is ideaal vir ’n beskutte en warm patio.

In ’n tuin met steil hellings, keermure en terrasse is bougainvilleas eweneens nuttige plante omdat dit dan gebruik kan word as spreidende grondbedekkers wat gou groot lappe aarde toerank. Van die meer kompakte groeiers soos Bougainvillea ‘Tropical Rainbow’ is baie geskik hiervoor.

Dan moet ons ook onthou dat nie alle bougainvilleas wilde reuse is nie. Daar is ook lieflike dwergvariëteite wat spesiaal vir potkultuur ontwikkel is soos ‘Rosenka’, ‘Tom Thumb’ en ­‘Little Guy’. Die kwekerybedryf in ons land is natuurlik uiters aktief en daar word gereeld nuwe reekse en hibriede van ou gunstelingplante bekend gestel, soos ‘Thai Delight’ en ‘Rijnstar White’ wat ek onlangs raakgeloop het.


Algemene kweekwenke

* Grond: Bougainvilleas verkies ­sanderige grond wat goed en vinnig dreineer en wat ook verryk is met kompos. ’n Halwe sak kompos in ’n plantgat sal werk. As dit in ­potte gaan groei, gebruik ’n goeie kommersiële potgrond. ’n Handvol beenmeel in die grond ingemeng is in albei gevalle aan te bevele.

* Groeiplek: Kies ’n warm en sonnige plek wat heeldag son kry. In skaduwee sal die plante kwyn en nie blom nie.

* Die plantslag: Die meeste bougainvilleas gee die gees omdat hul wortels met die plantslag sonder ontsag behandel word. Moet nooit die plant uit sy plantsakkie trek nie. Sny eerder die plastiek of pot met ’n skerp mes alkante oop, en verskuif die plant dan so versigtig as moontlik in sy nuwe plantplek in. Bougainvilleas moet altyd op dieselfde diepte as wat dit in die kwekeryhouer gegroei het, geplant word.

* Water: Lei nuwe plante dadelik nat nadat dit geplant is en dan eers weer as die grond goed uitgedroog het. Gevestigde plante wat in die tuin geplant is, hoef in die somer net af en toe diep natgelei te word en kan redelik droog bly deur die winter. Te veel water sal baie loofgroei veroorsaak en geen blomme nie. ’n Bougainvillea wat dors is, sal dit gou wys deur blare af te gooi en verlep voor te kom. Dié wat in potte groei, gaan meer gereeld water nodig kry (as die grond droog voel, moet jy natgooi), maar dit moet vinnig en vrylik by die dreineringsgate wegloop.

* Voeding: Jong plante, veral dié in potte, kan gereeld gevoed word met ’n wateroplosbare misstof wat blomvorming aanmoedig. Die voedingstyd vir volwasse tuinplante met ’n algemene, gebalanseerde korrelmisstof is gewoonlik in Augustus.

Meer oor:  Plante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.