Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Geen pyn met énige roosmaryn!

Daar is min plante wat met die saligheid  wat roosmaryn bring, kan kers vashou.

Afgesien van die medisinale en kulinêre eienskappe van roosmaryn, stel tuiniers ook belang in die plant se taaiheid, lae waterverbruik en vele funksies in die tuin. Jy gaan ver moet soek om ’n meer onvernietigbare plant te vind.

Die botaniese naam Rosmarinus officinalis is afgelei van die Latynse woord ros wat “dou” en marinus wat “see” beteken, waarskynlik vanweë sy wilde kushabitat in Suidelike Europa. Sommige bronne beweer dat die Mediterreense plant met sy uiters aromatiese blare vir lang tye met geen ander water nie as net die vogtigheid wat oor die see aangewaai kom, kan klaarkom. Die smal blare is leeragtig, dofgroen aan die bokant met ’n silweragtige skynsel aan die rugkant en die blommetjies wat tradisioneel blou is (hoewel daar ook pienk en wit variëteite is) is klein en skamerig en kan in die somer en herfs verskyn.

Daar is baie roosmarynsoorte beskikbaar wat omtrent enige groeivorm van spreidend en platgroeiend, tot regop en redelike groot struike insluit.
Kruipende roosmaryn oor ’n keermuur.

Daar is baie roosmarynsoorte beskikbaar wat omtrent enige groeivorm van spreidend en platgroeiend, tot regop en redelike groot struike insluit. Spreidende roosmaryne word in plate as geharde grondbedekkers vir moeilike groeitoestande soos teen hellings en baie warm en droë plekke met arm grond geplant. ’n Betreklik nuwe variëteit wat hiervoor geskik is, is Rosmarinus prostratus “Tony”– ’n uiters welige en sterk rankende groeier met loof wat ’n vars dennegeur het en ligte blou blommetjies wat van die plant ’n ideale kandidaat maak vir hangmandjies, potte en keermure.

Regopgroeiendes vorm met goeie sorg lieflike formele of informele heinings. Hulle kan ook gebruik word tussen ander struike as vullerplante en is uitstekende houerplante. ’n Kruie- en groentetuin wat sy sout werd is sal nooit sonder ten minste een roosmaryn wees nie en in die snyblomtuin is hulle ewe welkom. Rosmarinus officinalis “McConnell’s Blue” is die roosmaryn wat die algemeenste gekweek word. Dit dra klein blou blommetjies in die somer en word stadig maar seker ’n groot, spreidende bos. Rosmarinus officinalis “Tuscan Blue” het lang reguit stingels en is weer die ideale soort om as heiningplante te gebruik. Die loof is donkergroen met ’n ligte glans. Dit dra blou blomme en die volwasse grootte is ongeveer 1,5 m x 60 cm.

Roosmaryn saam met die geelblommige katoenlaventel in ’n Mediterreense tuin.

Vir diegene wat lief is vir roosmaryntee is daar Rosmarinus “Ginger”, ’n kompakte netjiese struikie met ’n heerlike gemmeragtige smaak.

Die plante is pesbestand en word trouens deur tuiniers en groenteproduseerders wat suiwer organiese bestuur toepas as metgesel- of bufferplante gebruik omdat hul skerp geur plae soos plantluise wat op sagte plante teer, afweer. Ou sondaars soos dop- en naakslakke, ruspes en snywurms doen ook nie kwaad naby roosmaryn nie.

Beste klimaat

Roosmaryn is ’n goeie keuse vir kustuine en gee nie om vir sout lug en vrylik dreinerende sanderige grond nie. Hierdie immergroen kruid kan ook gekweek word in gebiede waar dit regtig koud word, mits die groeiplek teen swaar ryp beskut word.

Op pad na die voordeur kan ’n mens teen ’n lappie roosmaryn skuur om ’n heerlike geur vry te laat.

Kweekgebooie

  • Plantplek: Alle roosmaryn-variëteite hou van volson. Oggendson en middagskaduwee of omgekeerd, is ook goed.
  • Grond: Roosmaryn verkies redelike swak, kalkerige of klipperige grond, maar is verdraagsaam ten opsigte van die meeste grondtipes. Goeie dreinering is egter die sleutel tot sukses. As tuingrond te swaar is, kweek roosmaryn liewer in houers gevul met kommersiële potgrond.
  • Water: Medium waterverbruik tot die plante goed gevestig het, en dan minder. Plante in houers wat vir kookdoeleindes gebruik word en waarvan die takkies met blare gereeld geoes word, moet gereeld water kry om hulle welig te hou. Roosmaryn is ook geskik vir tuine wat met brakwater natgelei word.
  • Bemesting en snoei: As plantgate aanvanklik goed voorberei word met kompos en ’n handvol beenmeel en jy een of twee keer per jaar ’n vars lagie kompos oor die grond en om die plante strooi, is bykomende bemesting nie nodig nie.

Plante in potte waardeer egter ’n gereelde dosis wateroplosbare misstof. Plante wat toegelaat word om in hulle natuurlike vorm te groei, kan liggies gesnoei word nadat dit in die lente geblom het. Netjiese roosmarynheinings en siersnoeivorms het ’n meer gereelde en ligte snoei in die somermaande nodig.

Roosmaryn is gelukkig nie ’n vinnige groeier wat van jou ’n snoeislaaf gaan maak nie.

Meer oor:  Plante  |  Tuine  |  Tuinmaak  |  Kruie  |  Tuinier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.