Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Goed, beter, bougainvillea!
‘n Ry bougainvilleas teen ‘n grensmuur gee vir jou en die buurman blomplesier.

Bougainvilleas, afkomstig uit die tropiese en subtropiese dele van Suid-Amerika, is al jare lank ou bekendes in plaaslike tuine. Hoewel hulle eintlik dwarsdeur die jaar blom, is hulle gewoonlik op hul mooiste in die warmste en droogste maande.

Hoewel subtropies van aard, sal hulle ewe goed groei in winterreënstreke, aan die kus en ook in gematigde klimate met ligte ryp. Op die koudste plekke moet hulle op ’n beskutte plek in houers geplant en in die winter beskerm word met ’n rypdoek. In koue dele kan hulle in die winter bladwisselend of semibladwisselend wees. In warmer streke bly hulle immergroen.

Daar is heelwat moderne variëteite by kwekerye te kry wat ’n tuinier op verskeie maniere kan inspan. Die “blomkleur” wat ’n mens sien, is nie regtig die blomme nie, maar eerder helder skutblare wat die piepklein, wit en redelik oninteressante blommetjies omring.

Bougainvillea ‘Tropical Rainbow’ het bont blare in donkergroen en wit en is ideaal vir groot potte.

Gebruike vir bougainvilleas

Kweek hulle as formele, gesnoeide heinings (maar dan gaan jy nie so baie blomme sien nie), of laat hulle toe om informeel en wild te groei.

Weggesteekte dorings tussen digte blare en blomtrosse verskaf ondeurdringbare sekuriteit. Dis maklik om plante teen ’n stewige struktuur soos ’n prieel met pilare op te lei. ’n Netwerk van hoofstamme en takke moet aan die struktuur vasgebind word. ’n Jaarlikse snoei van oortollige groei tot teen die raamwerk hou die plant in toom. In ’n tuin met steil hellings, keermure en terrasse is bougainvilleas eweneens nuttige plante, omdat dit gebruik kan word as spreidende grondbedekkers wat gou groot lappe aarde kan toerank.

Omdat bougainvilleas redelik drasties gesnoei kan word sonder enige slegte nagevolge, kan dit ook in die vorm van hoofstamboompies gekweek word – ideaal vir klein tuine waar ruimte beperk is. Baie variëteite is geskik vir dié doel, soos byvoorbeeld ‘Donyo’, wat soms reeds in ’n siersnoeivorm gesnoei is. Vra jou kwekery of hulle die variëteit aanhou.

Baie van die kompakte, blomryke variëteite is spesiaal vir houers gekweek en verskaf pragtige kleur aan sonnige patio’s, binnehowe en langs swembaddens. Die gereelde uitknyp van nuwe groeipunte maak die plante ruier en bosagtig.

Die helder skutblare gee die kleur en omring die klein blommetjies.
Die spierwit Bougainvillea ‘Jennifer Fernie’.

Kweekwenke

Grond: Bougainvilleas verkies sanderige grond wat vinnig dreineer en verryk is met kompos – sowat ’n halwe sak kompos in ’n plantgat is nodig. As dit in potte gaan groei, gebruik ’n goeie kommersiële potgrondmedium. ’n Handvol beenmeel in die grond ingemeng word vir potte én beddings aanbeveel.

Groeiplek: Kies ’n warm en sonnige plek wat heeldag son kry. Die plante sal kwyn en nie in skaduwee blom nie.

Water: Lei nuwe plante dadelik nat nadat dit geplant is en dan eers weer as die grond goed uitgedroog het. Doen dit daarna gereeld terwyl die plante nog jonk is. Gevestigde plante wat in die tuin geplant is, hoef in die somer net af en toe diep natgelei te word en kan redelik droog bly deur die winter. Te veel water sal baie loofgroei veroorsaak en geen blomme nie. ’n Bougainvillea wat dors ly, sal dit gou wys deur blare af te gooi en verlep voor te kom. Dié wat in potte groei, gaan meer gereelde water nodig kry (as die grond droog voel moet jy gooi), maar dit moet vinnig en vrylik by die dreineergate wegloop.

Snoei: Heiningplante of rankers wat te wild gegroei het, kan in die lente netjies gesnoei word.

Probleemoplossing

Die meeste bougainvilleas gee die gees omdat hul wortels met die plantslag beskadig word. Alle bougainvilleas het ’n betreklike broos wortelstelsel, veral jong plante in kwekerysakke.

Anna Celliers

Die verwydering van die pot of sak voor oorplant kan die penwortel beskadig wat veroorsaak dat die plant verwelk of doodgaan. Sny liewer lang snye in die plastieksak of kwekerypot om nuwe wortels toe te laat om daardeur te groei. Bougainvilleas moet ook altyd op dieselfde diepte as wat dit in die kwekeryhouer gegroei het, geplant word.

Dit is ’n mite dat bougainvilleas nie bemesting nodig het nie, omdat dit glo keer dat hulle blom. Soos alle plante het bougainvilleas misstof nodig om te groei. Dien ’n kaliumryke misstof soos 3:1:5 stadig vrystellende stikstof in die lente, somer en herfs toe. Dit bevorder sterk, gesonde groei en moedig blomknopvorming aan. Gooi dan ook weer ’n vars lagie kompos as deklaag oor die wortelsone.

As ’n bougainvillea in ’n pot se blare skielik verlep, bruin word en afval, kan dit beteken dat die wortels dalk by die dreineergate onderin die pot uit gegroei het. Wanneer die ontsnapte wortels afgesny of deur wind of die beweeg van die pot beskadig word, verswak die plant se toestand onmiddellik.

In so geval kan die plant baie straf teruggesnoei en goed nat gehou word totdat dit opnuut begin groei.

Meer oor:  Anna Celliers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.