Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Gordyne wat self groei weer mode

Ek is by nou al so op van ingehok wees dat ek aan nog maniere begin dink het om myself besig te hou. Een van hulle is om ’n gordyn van plante in my kombuisvenster te skep. Die eerste uitdaging was hoe om dit vertikaal te doen.

Dit het my laat dink aan my ouma se macramé-hangers van toeka wat haar hele “sonkamer” op die plaas behang het en gevul was met welige varings en ander groen goeters. Ouma het haarself geleer om die macramé-hangers van tou te knoop deur die illustrasies stap vir stap in ’n vrouetydskrif noukeurig te volg. In haar dae was die knoopwerk van tou natuurlik hoogmode!

’n Hoya caudata se pragtige blom.

Wel, deesdae is dié tipe kunswerke weer baie in en gelukkig vir die groenbedryf is binnenshuise plante en om soveel as moontlik daarvan in jou huis, paleis en pondok te hê, ook weer mode, veral onder die millenniërs en jappies wat hulself mos nou “plantouers” noem.

Omdat ek nie enigiets oor die verskillende knope wat ’n planthanger kan maak in druk had nie, het ek my maar tot YouTube gewend om met behulp van ’n video (daar is baie hieroor!) te probeer om agter die kap van die byl kom. Dit het my lank gevat om te leer, want ek is nie ’n praktiese selfdoener nie, maar ek het uiteindelik reggekom en nou is g’n stuk tou of enige ander lang ding wat ’n knoop in kan kry veilig in ons huis nie.

’n Hoya spesie hang lekker in sy macramé op die stoep.

Omdat regte tou so duur is en hard op ’n mens se hande kan wees, het ek groot bolle T-hempmateriaal goedkoop by ’n kunsvlytwinkel aangeskaf. Dit werk maklik, is sterk en wasbaar en in ’n groot verskeidenheid kleure beskikbaar.

My tweede uitdaging was om die regte soort plante te vind wat in ’n oostelike kombuisvenster, waar daar ’n bietjie oggendson is, gelukkig sal wees. En, ek het hulle gevind.

Peperomias

Peperomias is ’n besonderse genus kleinerige plante wat baie gewild is onder huisplantliefhebbers en daar verskyn gereeld nuwe hibriede op die mark. Hoewel die plante se blomme soos baie dun kerse lyk, is dit eerder vir die mooi en vlesige loof wat hulle bekend is. Die stele is ook vlesig en bros en daarom verwys sommiges na hierdie meerjariges as tropiese en subtropiese vetplante.

Die pragtige Peperomia rotundifolia.

My keuse het geval op Peperomia rotundifolia met sy spreidende en rankende groeiwyse. Die stamme is sag en broos en die blaartjies mentgroen, glansend en rond. Peperomia “Amigo Marcello” is nog ’n wenner met donkerbruin stammetjies en elliptiese, sagte, groen blare wat heldergeel verkleur as die plant in baie son gekweek word. Peperomias hou van indirekte sonlig of helder plekke en moenie te veel water kry nie. Die grond kan effens uitdroog en vloeibare misstof moet in die lente en somer gegee word.

Ouman-se-baard

My hangende plantgordyn moet nou net groei! Voor is Peperomia“Amigo Marcello” met ouman-se-baard.

Die lugplant Tillandsia usneoides wat in die vorm van ’n grys gordyn regaf groei, is ’n dramatiese keuse vir ’n vensterbanktuin. Hierdie is ’n lid van die bromelia-familie en ’n epifiet wat graag in bome, veral eikebome, groei.

Die baie fyn, gekrulde blare met hul harige voorkoms is net te pragtig! Lugplante groei natuurlik nie in grond nie, maar dis nie te sê hulle wil nie water en selfs kos hê nie. Hang hulle in helder lig of indirekte sonlig, newelsproei gereeld omdat hulle van humiditeit hou, dompel gereeld die plant vir ’n rukkie in ’n bak water, en bemes af en toe deur ’n vloeibare misstof op die blare te spuit.

Ouma se wasblom

Hoya carnosa en baie ander hoya-spesies en -hibriede is weer beskikbaar. My wasblom het ek onlangs by ’n kettingwinkel aangeskaf. Hoewel party hoyas warm, vogtige groeitoestande soek, sal Hoya carnosa, wat ’n ranker is, teen lae temperature oorleef. In koue klimate is binnenshuis op ’n warm, beskutte plek goed, maar in warmer, subtropiese streke kan baie sommer buite gekweek word.

Anna Celliers

Hulle hou van helder lig, maar nie direkte, bakkende son nie. Die plante kan redelik potgeknel bly in ’n grondmengsel van palmveen met perliet by vir goeie dreinering. Die wortels moet klam gehou word, maar nie voortdurend deurdrenk nie. Bemes gereeld met ’n wateroplosbare misstof in die lente- en somermaande en wees bedag vir wolluise wat die plant kan besmet as daar nie goeie lugvloei om hulle is nie.

Meer oor:  Anna Celliers  |  Blomme  |  Rank  |  Hang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.