Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Groen geskenke vir Kersfees

Met die wêreldwye beweging na groenenergie en die vermindering van ons koolstofvoetspoor, is dit bevredigend om te verneem dat een van ons eie produsente van binnenshuise potplante, LVG Plants, internasionaal erken is vir sy toewyding aan groenenergie en innovering. Gee dus dié Kerstyd groen geskenke aan jou geliefdes.

Cupressus Goldcrest Wilma kan ook as Kersboom dien.

LVG Plants is een van die tien kwekers wêreldwyd wat benoem is vir die prys van Internasionale Produsent van die Jaar vir 2020. Die wenner word in Januarie op IPM Essen, die internasionale handel­skou vir tuinbou wat jaarliks in Duitsland gehou word, aangekondig.

As deel van sy verbintenis tot volhoubaarheid, het dié produsent van Krugersdorp R25 miljoen in ’n sonopvangveld (solar collector field) van 10 000 m² belê om sy nuutste kweekhuise te verhit, elkeen die grootte van ’n rugbyveld. Om aan die waterbehoeftes te voldoen, is daar ’n stelsel van opvangdamme vir reënwater wat 70 miljoen liter water berg. Om sy koolstofvoetspoor te verminder, word fietse, pleks van motors, gebruik om op die landgoed van 11 ha rond te beweeg.

Wat ook indrukwekkend is, is dat die meeste kweekhuise twee jaar gelede beskadig is deur ’n tornado. Die kwekery het amper tot ’n stilstand gekom en die afgelope twee jaar was dit ’n balanseertoertjie tussen die herbou van die kweekhuise en die plante.

Binnenshuise plante is belangrik in ’n “groen leefstyl”. Blaarplante soos vredeslelies, ficusse, bamboespalms en bromeliads is natuurlike lugsuiweraars, absorbeer gifstowwe en breek dit af. Dit verander ook koolstofdioksied in suurstof.

Amarillis hou langer binne in ’n koel kamer.

Hoewel die tendens internasionaal na binnenshuise blaarplante neig, sê Leonie Coulson van LVG dat Suid-Afrikaners steeds blomme verkies.

Hulle kan nie tred hou met die vraag na potrose en mot-orgideë (Phalaenopsis) as geskenke nie, terwyl poinsettias (rooi, wit en pienk) die keuse is vir die feestyd.

Niks kan “groener” wees as ’n plant as geskenk nie! Benewens die poinsettia, is hier ’n keuse van geskenkplante wat binnenshuis of in die tuin gekweek kan word:

Die silwerbos (Calocephalus) is iets nuuts; ’n natuurlik balvormige struik met digte silweragtige blare wat na die onderkant van koraal lyk. Dit word 20 cm hoog en breed en het slegs ’n ligte afwerking nodig om dit in vorm te hou. Groei binnenshuis met helder lig, op die stoep of in die buitelug in goed gedreineerde grond en vol son. Laat die grond matig tussen die natmaaktye uitdroog.

Cupressus Goldcrest Wilma is ’n nou, keëlvormige boom met gloeiende goudgroen blare. Dit kan sy lewe binnenshuis begin as ’n Kersboom, om in Januarie in volson in vrugbare, goed gedreineerde grond uitgeplant te word. As binnenshuise plant het dit baie lig nodig, selfs son, en moet dit klam gehou word.

’n Wit mot-orgidee is ’n blomgeskenk wat lank hou.

Krismisrose, ook bekend as pot-hortensias, bied dapper blomkoppe van wonderlike kleur. In die huis het hulle helder lig en klam grond nodig. Moenie toelaat dat dit uitdroog of in water staan nie. Plant hulle ná blomtyd in halfskadu (oggendson en middagskadu) in diep, vrugbare grond.

Wit mot-orgideë (Phalaenopsis) is so mooi dat dit ’n natuurlike geskenkplant is, veral omdat hy maande lank kan blom. Water een keer per week, of twee ysblokkies in die pot is al wat dit nodig het. Plaas dit naby ’n venster of op enige plek waar goeie lig kom, maar nie in direkte sonlig nie.

Narsinglelies of amarillis is ’n pragtige binnenshuise blom met sy trompetvormige blomme in skakerings van pienk, rooi, lekkergoedstrepe en wit. Hou dit buite direkte son terwyl dit blom. Laat die boonste 5 cm van die grond uitdroog voordat jy dit weer natmaak. Laat blare uitdroog ná blomtyd, maar voed en gee water om die bol te vorm vir die volgende blom. Sodra die plant begin groei, sit dit op ’n sonnige vensterbank om die blomtyd te bevorder.

Meer oor:  Alice Coetzee  |  Kersgeskenke  |  Plante  |  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.