Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Groente vir jou wintertuin

Dit is miskien moeilik om te glo, maar jou groentetuin kan in die winter net so ruig wees as die somer.

Die gereelde oes van blaarslaai en radyse sal groei bevorder en sorg dat jy die hele winter daarvan het.

Benewens die tradisionele gewasse, kan die wintertuin ook vol verskeidenheid wees, met baie verskillende soorte blaarslaai, kool, pers broccoli en blomkool, asook pikante Asiatiese groente en mosterdslaaiblare.

Die grootste uitdaging is om die gewasse teen ryp en koue te beskerm, maar die bonus is die afwesigheid van plae en minder water wat nodig is.

Niks minder as volson

Groente groei in die winter die beste met volson of met minstens ses uur sonskyn. As daar nie genoeg son is waar die groente normaalweg gekweek word nie, vind die sonnigste plek elders, selfs in die blomtuin.

As die sypaadjie sonnig is, kan jy dit in ’n wintertuin verander. Ander opsies is om groente in potte te verbou of ’n vertikale tuin teen ’n sonnige muur op te rig.

Hoe kouer dit is, hoe lekkerder word die smaak van krulkool.

Beskerm teen ryp

Weet hoe gewasse verskil ten opsigte van gehardheid teen koue. Belê in ryplap om saailinge en sagte groente te bedek.

As ernstige ryp voorspel word, is dit die moeite werd om alles te bedek.

  • Slaai is die minste teen koue gehard, al groei dit en smaak dit beter in koeler seisoene. Dit moet altyd beskerm word teen ryp;
  • Blaargroente soos Switserse snybeet, spinasie, roket, pietersielie en Asiatiese blaargroente kan dikwels ligte ryp hanteer, maar dwaal aan die kant van versigtigheid;
  • Brassicas soos spruitjies, kool en broccoli is goeie gewasse vir koeler weer en krulkool hanteer ryp die beste. Dit kan temperature onder vriespunt oorleef, wat die smaak daarvan verbeter; en
  • Wortelgewasse soos wortels, raap, pastinaak en beet kan ysige temperature oorleef en die smaak verbeter namate die plant meer energie op wortelgroei konsentreer en suikers opbou vir rypbeskerming.Plant gewasse saam

Plant ’n verskeidenheid van kort-, medium- en langtermyngewasse sodat daar altyd iets is om te oes.

Groente wat vinnige opbrengste bied, is radyse, roket, mikro-groente en sprietuie, asook blaarslaai.

Met beskerming kan spinasie en Switserse snybeet dwarsdeur die winter geoes word en wortelgewasse hou goed in die grond.

Die plante wat teen die einde van die winter tot vroeg in die lente volwasse is, is broccoli, sekere koolvariëteite, spruitkool, blomkool, boerbone en preie.

Wintergroente wat nog in Mei gesaai kan word, is boerbone, blaarslaai, koolraap, tuinertjies (in warmer gebiede) en radyse. Plant ook saailinge van Asiatiese blaargroente, Switserse snybeet, broccoli, kool, krulkool, blaarslaai en tuinertjies.

Kweek Switserse snybeet Bright Lights in volson vir ’n winter lange oes.
Metgeselle vir die winter: Plant koolvariëteite saam met gousblom om bye te lok.

Wat van natmaak?

Maak die plante ten tyde van die warmste tyd van die dag nat en probeer om nie die blare nat te maak nie. Hou die grond deurlopend klam, veral vir blaarslaai, wat ’n bitter smaak kry as die grond uitdroog.

Wees versigtig met te veel water, want koue, nat grond moedig swamsiektes aan, terwyl plante wat te min water kry, onder spanning is en minder rypbestand is. Moenie dat die grond heeltemal uitdroog nie.

Wat van voeding?

Alice Coetzee

Hoewel groei in die winter stadiger is, versterk saailinge met ’n vloeibare kunsmis of planttonikum, soos kelp of visemulsie, om die koue te weerstaan.

Alle brassicas trek voordeel uit gereelde toediening van stikstofryke kunsmis.

Wanneer tuinertjies en lemoenbone weekliks begin blom, voed dit met vloeibare kunsmis.

Meer oor:  Groentetuin  |  Tuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.