Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Hou plante koel, klam

Februarie is hopelik die laaste maand van uiterstes wanneer hoë temperature die groentetuin onder druk plaas.

Verwyder die oorblywende blomme op botterskorsies sodat die plant sy energie kan inspan om die gewas ryp te maak.

As gevolg van aardverwarming klim die somertemperature en selfs ’n week of twee sonder reënval kan sagte groente onder druk plaas en laat verwelk.

Tydens ’n hittegolf sal ligkleurige deklae (grondboontjiedoppe, fyngedrukte appelkoospitte, strooi, droë grasknipsels) die sonlig weerkaats en sodoende ’n koeler grondoppervlak behou.

Laat grassnysels vir ’n paar dae op jou grasperk lê om heeltemal droog te word voordat jy dit ophark en gebruik.

Om sagte slaaiblare te beskerm, gebruik ’n 60%-skadukleed, terwyl ’n 30%-skadukleed vir meer hitteverdraagsame plante, soos boontjies, eiervrug, tamaties en skorsies voldoende sal wees.

Sorg dat die skadukleed nie die lugsirkulasie beperk nie en goed geanker is, sodat dit nie omval en jou plante beskadig wanneer ’n sterk wind waai nie.

Tonikums vir hittespanning

Plantstowwe of -tonikums, soos Seagro of Kelpak wat as blaarvoeding toegedien word, gee plante ’n hupstoot in baie warm weer.

As jy kruie soos smeerwortel, nieskruid of komkommerkruid het, gebruik dan die blare om ’n tuisgemaakte planttonikum te maak.

Komkommerkruidblare is mineraalryk en dien goed as planttonikum.
Ligkleurige deklaag reflekteer hitte van die plante af

Die blare is ryk aan minerale soos kalium en kalsium, asook stikstof wat vrygestel word wanneer dit ontbind.

Voeg ’n halwe emmer blare en stingels by ’n emmer kookwater.

Laat dit oornag staan, sif dit en gebruik dit as ’n blaarvoeder of deurdrenking.

Wurmuitskeiding, ook bekend as Fertilis, is nog ’n effektiewe tipe kunsmis. Dit los maklik op in ’n gieter en kan as gronddeurdrenking gebruik word, maar nie as blaarvoeding nie. Daar kan bakterieë op die blare of vrugte wees wat nie afbreek nie en ’n mens se gesondheid kan beïnvloed.

Wyse maniere om nat te maak

Let veral daarop om die grond klam te hou vir saailinge, slaai­gewasse en rissies, al beteken dit dat jy daagliks met ’n gieter moet natmaak.

Stort-tuinslange is ’n alternatief vir drupbesproeiing (geen verstopte spuitpunte nie), en dit kan onder die deklaag gelê word sodat die water direk op die grond drup en nie verdamp nie, selfs al word jou bedding bedags natgelei.

  • Gebruik swart besproeiings­pype (’n beter keuse) of ’n ou tuinslang as daar een is wat rondlê of een wat reeds lek.
  • Soek ’n stuk hout as basis waarop jy kan werk.
  • Boor ’n gat elke 6 cm tot 9 cm reg deur die slang met ’n 1,5 mm-boorpunt.
  • Skud al die klein los tuinslang-stukkies uit sodat dit nie die slang verstop wanneer jy dit gebruik nie.
  • Bind die punt van die tuinslang af en sit ’n aansluitstuk aan die ander punt om dit aan die tuinslang te verbind.
  • Sit dit op die grond reg langs die plante.
  • Koppel dit aan die tuinslang, draai die kraan oop en laat dit ongeveer 20 minute loop, afhangend van die druk.

’n Ander opsie is om die tuinslang- en lapstelsel te gebruik, wat ’n eeue oue natmaakmetode is vir beddings met ’n hoë rant.

Draai ’n lap ’n paar keer om die punt van ’n tuinslang en hou dan ’n lang stuk lap vooraan wat deur die bedding versprei kan word.

Dit sal die water versprei en sorg dat dit nie ’n holte in die grond veroorsaak nie.

Die verhoogde rante van die bedding hou die water binne sodat dit kan opbou sonder dat die water wegloop. Draai die kraan oop en laat die bedding goed nat word. Skuif dan die tuinslang na die volgende bedding.

Jou somer-oes

Alice Coetzee

Vrugtegewasse kom aan die einde van hul produktiewe leeftyd. Haal of sny plante wat klaar groente of vrugte gedra het, op grondvlak af. Dit verminder die moontlikheid van siektes en plae.

Pluk minstens twee keer per week groente wat vinnig volwasse raak, soos bone.

Verwyder alle oorblywende blomme op botterskorsies, pampoene en Hubbard-pampoene sodat die plant sy energie kan gebruik om die gewas ryp te maak.

Bemes lang draende vrugtegewasse (soos skorsies) met ’n kaliumryke vloeibare kunsmis, wat nie die blare sal verbrand nie, hoewel dit steeds nodig is om die plante daarna nat te maak.

Meer oor:  Tuinmaak  |  Tuin  |  Alice Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.