Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Klassieke strelitzias

Die botaniese tema met groot tropiese blare en helderkleurige blomme met ’n uiters eksotiese voorkoms, is tans hoogmode. As jy dus “in” wil wees, moet jy strelitzias plant vir blom en blaar.

Die biesie-kraanvoëlblom (Strelitzia juncea) is baie droogtebestand.

Vyf Strelitzia-spesies is endemies aan Suider-Afrika waarvan drie algemeen in tuine geplant word.

Wat almal gemeen het, is die eksotiese blom, wat soos ’n kraanvoëlkop lyk.

Uit die harde snawelvormige struktuur, wat ’n blomskede genoem word, vloei oorvloedige hoeveelhede nektar. Hierdie fantastiese ontwerp maak nie net tuiniers se knieë lam nie, maar is onweerstaanbaar vir soettand-suikerbekkies wat van blom na blom kuier en bestuif so ver as wat hulle gaan.

Die bekendstes

Strelitzia nicolai (Natalse wilde piesang) het ’n palm­agtige voorkoms met lang piesangagtige blare wat dit uiters gewild maak vir tropiese en swembadtuine.

Dit word ’n allemintige 8 m hoog en vorm digte klompe wat tot 3 m wyd word. Die uitspattige groei, selfs buite sy natuurlike habitat, gee die plant die reputasie van ’n “breker”. Die vlesige wortelstelsel breek plaveisel en mure. Die plantplek moet dus oordeelkundig beplan word in medium- tot taamlik groot tuine.

Die tendens is om hulle in oorgroot potte op ’n onderdak-stoep te hou waar hul grootte vir jare kunsmatig beperk kan word deur potgevangenskap, maar hulle steeds welig kan groei. Soms word hulle ook as ’n sitkamerboom gebruik waar hulle heel goed vaar as loofplant.

Hulle blom van die lente tot laatsomer.

S. nicolai se blomme is effens anders as die ander strelitzias s’n. Hulle is wit en persblou en een bloeiskede ontspruit uit ’n ander, wat hulle ’n dubbeldekker-voorkoms gee. Die ander strelitzias wat bespreek word, se blomme is enkel en aan lang stele wat bo die polle uitstaan.

Strelitzia nicolai (Natalse wilde piesang) het ’n palmagtige voorkoms met lang piesangagtige blare.

Strelitzia reginae (kraanvoëlblom) is ’n digte polvormende spesie met lang dofgroen spieslemblare aan stewige stele. Die blomme, ook aan lang stele, is pragtig in helderoranje en diepblou – hulle (en die jong blare met hul pienk ribbe) is uiters gewild by blomkunstenaars.

Die blomme verskyn reeds in die herfs, piek in die winter en kom steeds aan in die lente.

Die plante het volson nodig om goed te blom, maar ligte skadu is nodig in baie warm tuine, anders brand die son die blare. Die polle word uiteindelik ’n stewige 3 m hoog en sprei 2 m wyd en het ’n sterk wortelstelsel. Dit is ’n pragtige aksentplant vir kleiner tuine en is baie mooi wanneer dit in groot groepe in groot tuine aangeplant word.

Strelitzia reginae Mandela’s Gold is ’n minder robuuste hibried van tot 1,5 m x 1,5 m wat in die somer geel en helderblou blomme dra.

Strelitzia juncea is ’n uiters gesogte spesie maar ongelukkig ook taamlik skaars en duur. Dit groei natuurlik in die droogste, dorre dele van die Oos-Kaap en het hierby aangepas met baie dun, skerp, amper biesie-agtige blaarspiese in digte polle wat dit ’n pragtige aksentplant maak.

Die blomme is effens kleiner as S. reginae s’n, maar ewe mooi en verskyn van Julie tot November. Die plant groei stadig en is ook baie mooi in potte.

Beste klimaat

Strelitzias verkies ’n gematigde tot subtropiese somerreënklimaat, maar groei ook goed in die winterreënstreek.

Kweekgebooie

  • Plantplek: Volson of ligte skadu.
  • Grond: Goeddreinerende, komposryke, klam grond.
  • Water: Mediumwaterverbruik. Jong plante sal aanvanklik in die somer gereeld water nodig hê. Gevestigde plante kan lang tye van droogte oorleef.
  • Bemesting en snoei: Baie kompos en ’n ryk deklaag van ou kraalmis of kompos is gewoonlik voldoende. Jong plante kan ook in die lente en later in die somer ’n dosis stadigvrystellende misstof kry. Sny ou, geskeurde blare af en verwyder ook ou blomme en blomstele.
Meer oor:  Tuine  |  Tuinmaak  |  Strelitzias
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.