Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Kweek só geurige basiliekruid

Tamaties wat in die lente gesaai word, word vinnig ryp. Wat ’n lekkerte is dit nie om ’n tuisgekweekte tamatie te eet nie. Kweek jou eie en sê totsiens aan bleek, smaaklose tamaties met taai velle, harde vleis en baie pitte.

Wanneer jy tamaties eet, is die goue reël: hoe eenvoudiger, hoe beter. Sny dik, sappige skywe op vars brood of bedien dit in ’n vars slaai saam met ander tuisgekweekte slaaiblare.

Dit is waar soet basiliekruid inkom. Die sinergie tussen tamaties en basiliekruid strek naas die beste metgesel in die tuin ook tot in die kombuis. Die klassieke Caprese-slaai kombineer gesnyde tamaties, basiliekruidblare en mozzarellakaas.

Gebruik basiliekruidpesto vir pasta, souse, pizza en vries.

Nog ’n Mediterreense spesialiteit is bruschetta – geroosterde ciabatta-brood (gevryf met ’n vars knoffelhuisie), bedek met varsgesnyde tamatieblokkies, basiliekruid, olyfolie, sout en peper.

En geen Italiaanse tamatiesous wat sy sout werd is, word sonder basiliekruid gemaak nie.

Basiliekruid en tamaties gedy albei wanneer hulle naby mekaar geplant word. Die sterk, geurige basiliekruidblare hou plae weg en die blomme lok bye. Baie tuiniers beweer dat basiliekruid wat naby tamaties geplant word, die vruggehalte van die plant verbeter.

Soet basiliekruid is die gewildste kulinêre variëteit. Dit het groot, sagte groen blare met wit blomme. Dit word sowat 50 cm hoog. Knyp die blomme af om die plant ruig te hou.

’n Variasie van soet basiliekruid is basiliekruid Genovese, die tradisionele variëteit wat in Italië vir pesto gekweek word. Dit het groter blare met ’n soet, effens pittige geur. Plante word 90 cm hoog. Dit verlep nie sommer in uiterste hitte nie en raak nie bitter met ouderdom nie.

Soet- en pers-basiliekruid is mooi vir die oog en pittig in die pot.

Oorweeg om pers basiliekruid of “Red Ruffle” te kweek om slaaie te help opkikker. Albei het pittige, geurige blare en moet in meer son gekweek word as die groenblaarvariëteite.

Ten spyte van sy naam het “Red Ruffle” groot donker blink pers-swart blare en pienk blomme. Daar is ook “Green Ruffles” met groot gegolfde groen blare.

“Siam Queen” het welige groen blare, vierkantige pers stingels en diep pers blomme. Die aroma is ’n kruising tussen kaneel en anys. Dit is veral goed vir Thaise kookkuns.

Basiliekruid word gewoonlik as eenjarig gekweek omdat dit nie rypbestand is nie, maar daar is meerjarige variëteite.

Een daarvan is die Griekse Columnar­-basiliekruid, wat klein, heldergroen blare het en meer regop groei, 80 cm hoog en 60 cm breed, wat dit geskik maak vir klein kruietuine of klein ruimtes, asook in houers. Sy aromatiese blare weer plantluise, myte en tamatie-horingwurms af, wat dit ’n goeie metgeselplant maak vir tamaties, boontjies, murgpampoentjies, pampoentjies, kool en soetrissies.

Die skerp geur van sy blare maak dit ’n uitstekende natuurlike insekafweerder. Maak ’n sterk aftreksel van basiliekruidblare en gebruik dit as ’n sproei om plantluise en myte te verdryf, veral dié op potplante.

Só oes jy basiliekruid

Moenie wag totdat die kruie blom nie, want die blare kan sodoende bitter word.

Alice Coetzee

Pluk die blare soos jy dit benodig. Dit stoor nie goed in die yskas nie. Blaarstele kan in ’n kruik of bottel water gesit en vir ’n paar dae gehou word.

Die beste manier om basiliekruid te bewaar, is om blare op te kap en in ysblokkies met water te vries. Gooi die blokkies in souse en sop vir ’n vars basiliekruidgeur. Basiliekruid verloor sy geur wanneer dit gedroog word.

Nog ’n manier is om ’n basiliekruidpesto te maak en te vries. Meng 2 knoffelhuisies, 8 eetlepels gekapte basiliekruid, 2 eetlepels gekapte vars pietersielie, 50 g dennepitte/amandels, 75 g geras­perde parmesaankaas, 100 ml ekstrasuiwer olyfolie, sout en varsgemaalde peper in ’n voedselverwerker. Meng totdat dit die gewenste tekstuur bereik. Proe en geur na smaak.

Groei-wenke:

  • Alle soorte is ewe maklik om te verbou. In warm gebiede of wanneer dit in houers gekweek word, verkies hulle oggendson en volson in koeler gebiede;
  • Plant in vrugbare grond wat deeglik met kompos verryk is en goed dreineer. In vogtige grond kan plante swart kolle op die blare of om die rante van die blare ontwikkel;
  • Maak meer gereeld nat as ander Mediterreense kruie (soos tiemie, roosmaryn en salie);
  • Voed een keer per maand vir welige blare, maar twee keer per maand as dit in ’n pot gekweek word; en
  • Knyp groeipunte van klein plante af om bosagtige groei aan te moedig.
  • Vir meer inligting, besoek healthyliving-herbs.co.za.
Meer oor:  Alice Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.