Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Latino-geur vir jou tuin
Die langsteel-hibried-alstroemeria Summer Break.

Toe die eerste snyblom-inkalelies hul opwagting in Suid-Afrika gemaak het, het tuiniers koorsagtig gesoek na plante met dié mooi snyblomme. Die plante hibridiseer maklik – ’n eienskap wat wêreldwyd deur planttelers benut is. Die mooiste uitreikings het egter streng kwekersregte gehad en is eksklusief vir die snyblommark gekweek. Daar was omtrent ’n geskarrel om plante in die hande te kry en later is goeie snyblomvariëteite aan die tuinboumark bekend gestel. Nuwe reekse het gekom en gegaan.

Een van die langsteel-tuinvariëteite wat nou beskikbaar is, is die Summer Paradise-reeks wat onophoudelik vanaf September tot einde Maart blom. Hulle word tot 60 cm hoog en breed en dra ’n oorvloed van blomme in pienk, wit, oranje en geel, almal met die tipiese gestreepte gesiggies.

Daar is egter ook dwergvariëteite beskikbaar met ewe mooi blomme aan kort stele. Die dwergsoorte se blomme is ook mooi snyblomme en hou net so lank soos hulle langbeensusters in water. Hulle is ook die perfekte vullerplante op die voorgrond van beddings en ideaal vir potte. Hierdie unieke dwerg-alstroemerias vorm kompakte, digte polle, is maklik om te kweek en stel nooit teleur nie. Probeer gerus die Inticantha-reeks wat in ’n groot verskeidenheid van kleure beskikbaar is. Die plante is halfgehard en perfek vir gematigde klimate. Tuiniers met baie koue wintertuine met swaar ryp, kan die plante in potte plant en in die winter wanneer hulle rustend is, bedek met ’n organiese deklaag teen die koue en op beskutte plekke pak.

Mexikaanse bossalies (Salvia leucantha) in ’n ryke massa geplant.

Kweekgebooie

Volson en ligte skaduwee soos oggendson en middagskadu is perfek.

Plant in goeie leemgrond, wat met baie kompos verryk is. Verskaf ná die plantslag ’n organiese deklaag soos growwe kompos of basstukkies. Gee gereeld water, die plante hou van koel, vogtige grond wat goed dreineer. Voed die plante in die groeiseisoen maandeliks met ’n wateroplosbare kaliumryke misstof.

Verwyder uitgeblomde blomstingels deur die stingel met ’n ferm pluk uit die pol (en ondergrondse knol) uit te trek. Dit moedig nog loof en blomme aan. Snoei die plante as hulle uitgegroei en slordig lyk in die laatherfs terug. Hernu dan ook sommer die deklaag voor die winter kom.

Anna Celliers

Slakke en naakslakke is lief om aan alstroemerias se sagte blare en blomme te vreet. Sit gereeld slak-lokaas uit. In die somer kan rooispinmyt ook soms lastig raak. Ondersoek die plante gereeld en bespuit daarteen. Ligte besmettings kan met die tuinslang en ’n sterk straal water afgewas word.

Maak jou voorraad meer, deur oorgroeide polle in die herfs te verdeel en weer in goed voorbereide grond te plant.

Salvia leucantha (Mexikaanse bossalie)

As jy ’n sagte plekkie het vir ’n losbandige spreidende meerjarige, is Salvia leucantha (Mexikaanse bossalie) met sy amper windverwaaide voorkoms net vir jou gemaak.

Die plant word sowat 1,3 m hoog en 2 m breed, met bleekwit sytakkies vol wilgeragtige gepunte blare wat vaalgroen bo is en wollerig en silwerwit aan die onderkant. Jy raak sommer opgewonde wanneer die kruidagtige ná die winter weer begin uitloop uit die kaal stamme. Wanneer die eerste lang ritse wit blommetjies toegevou in welige helderpers of laventelblou skutblare in die lente verskyn, sal jy jou hart heeltemal verloor. Dit bereik sy blomspitstyd in die vroegherfs.

Kweekgebooie

Oor die algemeen hou hulle van droë, warm tuine maar verdra ook ander groeitoestande soos koue. Ryp kan hulle beskadig, maar hulle loop gou weer uit in warm weer. Kwaai ryp is noodlottig.

Plant dit in volson en in sanderige leemgrond, goed verryk met kompos. Sorg ook dat daar goeie dreinering is. Die plante kan lang tydperke van droogte verduur, maar gee liewer gereeld water in die somer.

Goeie grondvoorbereiding met die plantslag en die gereelde hernuwing met ’n deklaag van goeie kompos is gewoonlik genoeg om hulle welig en aan die blom te hou.

Meer oor:  Anna Celliers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.