Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Laventel, ons lentevoorlopers

Min tuiniers kan aromatiese laventel weerstaan, terwyl baie insekplae soos plantluise juis sal wegvlug van die skerp geur van dié ideale plantmaat of bufferplant vir sappige, sagte goedjies soos groente, kruie en rose.

Laventel in die “Ruffles”-reeks.

Die aantal laventelspesies, kruisings en hibriede is alreeds verstommend. Twee topreekse wat uit Italiaanse voorvaders gebore is, is Lavandula pedunculata “Lace”, ’n vroegblommende laventel met ’n kompakte groeiwyse en aromatiese grys loof, en Lavandula pedunculata “Ruffles”, waarvan die blomme oorwegend pienk skakerings het.

Dié laventelreekse is in Australië ontwikkel om by die klimaatstoestande van die Suidelike Halfrond aan te pas en hulle is goed bestand teen die hitte en humiditeit van party van ons tuinmaakstreke. Daar is ook heelwat ander laventelsoorte van ander oorspronge en gedaantes, wat net so goed in plaaslike tuine aard en topverkopers is. Die geheim is dus om die beste variëteite te kies wat baie plesier kan verskaf en nukvry sal groei.

Afgesien van die eenvoudige mooiheid van net een laventel tussen ander plante, maak hulle in ’n massa aangeplant lieflike heinings om kruie-, groente- en roostuine, lyk skouspelagtig saam met hoogstamplante en is al te fraai in digte rye langs ’n sonnige tuinpaadjie op pad voordeur toe.

Omdat laventel droë en warm toestande waardeer, kan hulle ook gebruik word in ’n bonte mengelmoes tussen ander meerjariges en kruidagtiges soos daglelies, meerjarige salies, kandelare (agapante), gauras, wilde irisse, wilde knoffel en skildblomme wat dieselfde groeivereistes vra.

Wanneer blom hulle?

Die “Ruffles”- en “Lace”-soorte blom vanaf vroegwinter tot diep in die lente soos ander variëteite van Spaanse laventel ook, maar daar is ander uiters begeerlike plante soos Engelse laventel wat heeljaar kleur gee.

Laventel in die “Lace”-reeks.

Beste klimaat

Laventel verkies oor die algemeen droë en warm toestande en kan problematies groei in humiede, subtropiese gebiede. Hulle is redelik kouegehard en sal ligte maar nie swaar ryp nie verduur. Laventel aard baie goed in die Mediterreense klimaat van die Wes-Kaap en is windbestand in kustoestande.

Kweekgebooie

  • Plantplek: Volson.
  • Grond: Sanderige tot leemgrond wat uiters goed dreineer is noodsaaklik – laventel haat nat voete. Indien jy te doen het met kleierige grond en twyfel oor dreinering, kan jy mildelike vragte riviersand en growwe kompos inwerk om die struktuur van die grond te verbeter. Opgeboude beddings kan ook oorweeg word omdat dit help met dreinering.
  • Water: Die plante wil nie te veel water hê nie en sal selfs lang tydperke van droogte verduur. Lei dit slegs nat as die grond uitgedroog het en nie bietjies-bietjies elke dag nie.
  • Snoei en bemesting: Gereelde en ligte snoei ná die blomtyd sal nog ’n blomfase aanmoedig en die plante netjies en dig hou. Vorm die bosse mooi rond om soveel as moontlik van die plant se oppervlakte aan die lig bloot te stel – dit verhoed langbenige groei en ’n yl voorkoms aan die basis van die plant. Moenie te skerp en in ou hout (waar daar nie meer blare is nie) insny nie; dit sal die plant laat vrek. Strooi ná elke snoeisessie ’n hand vol stadigvrystellende kunsmis wat ryk is aan kalium om die plante en lei reg daarna goed nat.
Anna Celliers

Goed om te weet

  • Laventelsoorte moet elke vier tot ses jaar vervang word, aangesien hulle houterig raak en yl begin blom.
  • As jou tuinmaakruimte min is, of die grond is nie geskik om suksesvolle laventel in te kweek nie, plant jou laventel in potte in ’n topgehalte-potgrondmengsel.
  • Laventel moet vir die grootste gedeelte van die dag in son wees.
  • Laventel groei natuurlik in arm sanderige grond wat alka­lies neig. In suurderige grond (lae pH) kan ’n hand vol landboukalk bygevoeg word met die plantslag of later om die plante gestrooi word as hulle sukkel.
Meer oor:  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.