Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Maak stroke ’n lus vir die oog
’n Euphorbia millii-hibried – immergroen met heldergroen blare en skokpienk blomme. Hierdie taai plant is veelsydig en geskik vir potte sowel as ’n lae grensmuur.

As jy ’n smal strook het soos by ’n oprit, of op die sypaadjie wat jy wil mooimaak sonder om te veel water te gebruik, plant die volgende tawwe tienies saam om ’n klassieke kombinasie van geharde waterbespaarders te vorm, skryf Anna Celliers.

Die gewone Euphorbia tirucalli (kraal-naboom) is so wydverspreid in die wêreld dat niemand meer weet wie se eiegoed dit nou eintlik is nie.

Tradisioneel is dit as digte onvernietigbare heining- of bufferplante om woonkrale en veekrale gebruik.

Die pronkerige tuinvariëteit “Sticks of Fire” met sy oorvloed van silindervormige, goudgeel sytakkies met koraaloranje punte en klein, amper onopvallende blaartjies wat spruit uit dik litte, het modeplante vir moderne tuine geword.

Droogte, hitte en warm son maak die helder kleure nog vuriger wat die plant soos ’n baken laat uitstaan in die landskap.

“Sticks of Fire” word by uitstek as ’n aksentplant of houerplant gebruik. Jy kan nog meer dramaties te kere gaan deur hulle in groepe op ’n rotstuin tussen aalwyne en grasse te plant, of tussen hoë palms en ander subtropiese plante met groot blare in ’n tropiese tuinstyl. Dié vinnige groeier is meerstammig en word ongeveer 3 tot 4 m hoog.

’n Negatiewe kenmerk is melksap of lateks wat soms giftig is vir mens en dier en velirritasies en ontsteking veroorsaak, veral as dit met die oë of oop wonde in aanraking kom. Wees dus versigtig as jy met dié plant werk.

Euphorbia tirucalli “Sticks of Fire” is fantastiese aksentplante, goeie houerplante en floreer selfs op verwaarlosing. Dis vandag ’n modeplant in moderne tuine.
Helichrysum petiolare (kooigoed) is vrylik beskikbaar in sespakbakkies en dus redelik goedkoop. Die plante groei vinnig en dek sommer blitsvinnig ’n area.
Euphorbia graminea “Diamond Frost” met sy klein blommetjies verskaf baie plesier in die somer, maar is nie ideaal vir ’n plek met koue winters nie.

’n Wenner vir die middellaag

Waar ander stekelriges hoë skelmvangers is wat ’n onwelkome lieplapper van kop tot toon in ’n doringnes sal laat vassit, is Euphorbia milii (kroondoring) se moderne hibriede meer subtiel.

Hulle vorm ’n lae doringtapyt wat selde groter as sowat 50 cm word – die perfekte enkelvangers wanneer in ’n ry geplant buite ’n grensheining of voor ’n muur op die sypaadjie. Hulle is stadig groeiende, bosserige vetplante wat ewe mooi in potte groei.

Kwekers in die Ooste en Weste het hierdie taai en geharde euforbia-spesie van Madagaskar se potensiaal raakgesien en deesdae word hulle veredel tot hartlik blommende plantjuwele vir die honger potplantmark.

Selfs ’n woonstelbewoner op die 50ste vloer van ’n wolkekrabber kan in sy of haar sonnige kombuisvensterbank ’n kroondoring met welige geilgroen blare en dosyne wawyd oop blomme in skakerings van skarlakenrooi, skokpienk, babapienk, sagte geel, appelkoos tot wit met pienk rande aanhou.

Sou die groentjie-tuinier vergeet om na die plantjie om te sien, word hy of sy vergewe . . . Dis ’n euforbia! Hulle gee nie sommer moed op nie en kan met vreeslike verwaarlosing blare en blomme afgooi, maar die karaktervolle doringtakkies sal bly en die plant sal rustig wag tot iemand hom weer water gee, en dan met hernude geesdrif sy mooigoed produseer.

Sit ’n bietjie grys by . . .

Kooigoed (Helichrysum petiolare) is ’n inheemse, immergroen meerjarige met wollerige, grys blare en ’n spreidende groeiwyse. Die loof maak van kooigoed ’n fantastiese vuller- en kontrasplant in ’n plantkombinasie en sal ’n mate van sagtheid verleen tussen die vetplante met hulle beeldhouvorms. Dit produseer trosse klein, roomkleurige blomme in die laatsomer tot herfs.

Aanskoulik op die voorgrond

Euphorbia graminea “Diamond Frost” het nie lank geneem om wêreldwyd ’n topverkoper te word nie. Dié oulike dwergplant oortrek haarself so met spierwit, klein blommetjies dat ’n mens omtrent nie die dofgroen loof kan raaksien nie.

In warm klimate is die plant meerjarig maar in baie koue klimate moet tuiniers hulle liefs net plant vir somerplesier.

Wanneer hulle begin lyf kry, lyk hulle soos groot sagte kussings en daarom is hulle baie spesiaal op die voorgrond van ’n taai randakker. Kweekvereistes is basies dieselfde as vir ander euforbias. Plantgrootte is ongeveer 30 cm x 40 cm.

Kweekgebooie vir almal

  • Plantplek: Hoe meer son en hoe warmer, hoe beter.
  • Grond: Enige goed dreinerende grond.
  • Water: Lae waterbehoeftes – gooi net nat as jy regtig moet.
Meer oor:  Plante  |  Tuine  |  Tuinmaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.