Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Meng en pas vir ’n mooi tuin

Een van die grootste uitdagings as daar ’n leë bedding voor jou lê, is om dit wat mettertyd mooi bymekaar sal pas te gaan uitkies by ’n kwekery. Dit verg ’n bietjie verbeelding, ’n bietjie huiswerk oor wat die plante gaan doen, en ’n goeie skootjie hoop daarby.

Die geel plante op die voorgrond is Sedum rupestre “Angelina”. Aan die linkerkant is botterblomme en in die middel is die groen swenkgras Festuca gautieri. Die groot silwer balle na regs is Calocephalus brownii en op die agtergrond in pienk, ’n guitige plaat koringblommetjies (Scabiosa incisa).

Nog wenke

  • Kies meerjariges wat sonder moeite en lank gaan blom. Voorbeelde is papierblom (Limonium perezii) en meerjarige koringblommetjies (Scabiosa incisa).
  • Kyk na geharde en gewillige grondbedekkers wat óf geil blom óf vinnig ’n welige mat sal vorm. Voorbeelde is botterblomme of gousblomme (gazanias), rotsvygies (Delosperma cooperi), somersneeu (Cerastium tomentosum) en akkerwinde (Convolvulus sabatius).
  • Dink aan tekstuurverskille met loofplante en grasse wat heeljaar mooi bly. Die kleure grys en donkergroen tussen helder blomplante is veral treffend. ’n Voorbeeld van goeie tekstuurafwisseling en sterk loofkleur is Calocephalus brownii wat soos groot silwer balle lyk, en groen swenkgras (Festuca gautieri).
  • Moenie die blomkrag en nuttigheid van spreidende vetplante tussen ander plantgroepe onderskat nie. Al word vetplante meestal as geharde rotstuinplante beskou, aard hulle ewe goed (en in sommige gevalle selfs beter) in gewone tuinbeddings tussen ander plante wat bederf word met goeie grond met baie kompos in, misstof, en gereelde water. Voorbeelde van vetplante wat goed werk, is lede van die Sedum-genus en die nuutste hibriede.

Jou plantresep in beeld

Hier volg inligting oor ’n paar gawe plante wat jy in groepe saam kan plant om vir jou ’n pragtige tuintoneel soos die een in die foto te skep.

Meer oor die plante . . .

Sedum rupestre “Angelina” dra trosse stervormige geel blommetjies in die somer. Die loof en stele is ook geel en hoe meer son dit kry, hoe meer intens die goue kleur. In ligte skaduwee het die plant ’n lemmetjiegroen kleur. Die volwasse grootte is 15 cm hoog en verspreiding tot 60 cm wyd.

Gazania-hibried – botterblomme is inheems en beskikbaar in ’n groot verskeidenheid kleure wat wissel van wit, room, geel, oranje tot roesrooi. Hierdie plante is uiters hitte- en droogtebestand en goeie vullerplante vir enige sonkol. Hoewel die spesies langlewend is, moet ’n mens maar die spoggerige hibriede jaarliks vervang.

Botterblomme is goedkoop en gewoonlik vrylik beskikbaar in saailingbakkies.

Festuca gautieri het fyn, heldergroen halmpies in digte, sagte polle gerangskik en die grootte is sowat 20 x 20 cm. Dis ’n pragtige, immergroen ornamentele grassie om die drama tussen ander plante ’n aks te kalmeer.

Calocephalus brownii is ’n kompakte, natuurlik geronde struik met silwer, draadagtige stingels met sagte skubagtige blare.

Dit is uiters gehard teen soutsproei, wind, droogte en ryp.

Die koringblommetjie (Scabiosa incisa) is ’n inheemse meerjarige met ’n bosserige groeiwyse wat sowat 60 cm hoog en 40 cm wyd word.

Dit hou van sanderige grond, maar sal omtrent oral in Suid-Afrika nes al die ander genoemdes, suksesvol groei. Maak gereeld nat en bemes in die lente en somer.

Meer oor:  Anna Celliers  |  Tuinmaakwenke  |  Tuine  |  Tuinmaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.