Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
’n Geurige werk wat goed is vir die siel

Die grond waarmee hulle werk, is rooi en vogtig en goed vir die siel as jy jou hande daarin druk, sê Neeltjé Swanepoel, eienaar van Fragant Oils oor haar en haar mede-eienaar, Marlize Nel, se passie vir die kweek van kruie om olies mee te maak.

Neeltjé Swanepoel en Marlize Nel. Foto: Verskaf

Neeltjé was vir 17 jaar die skrywer van die SABC2-leefstylprogram Pasella. In dié tyd het sy op ’n keer ’n storie geskryf oor Louise van Wyck, die bekende Bloemfonteinse laventelboer. “Dit het my bygebly en op ’n dag het ek Marlize, met wie ek al jare vriende is, genader om só ’n boerdery saam met my aan te pak,” vertel sy.

Hulle het dus ’n lappie grond nodig gehad. Marlize se man, Pieter, boer met Drakensbergers in die Verkykerskop-omgewing en hy en sy boerderyvennoot het 6 ha vir Neeltjé en Marlize beskikbaar gestel. 

Neeltjé Swanepoel Foto: Verskaf

Dit was die begin van Fragrant Oils. 

Sedertien het Pieter, asook Marlize se man, Hendrik, ook by dié projek betrokke geraak.

Die droom is in 2014 verwesenlik toe die eerste grondmonsters in Junie van daardie jaar geneem is.

Neeltjé verduidelik wanneer die boerdery volle kapasiteitten volle op dreef is, sal die hele 6 ha beplant wees. Dit sluit ’n kombinasie van roosmaryn (Rosmarinus verbenone), laventel (eintlik lavandin, Lavandula hybrida grosso – wat die oliesuster van laventel is) en Australiese teeboom (Melaleuca alternifolia), in. 

Hulle plant sowat 12 000 plantjies per hektaar onder drupbesproeiing. Tans is 1,5 ha reeds gevestig. Hulle het in Oktober 2017 2 500 teeboomplantjies geplant om te kyk of dit die Vrystaatse koue winters sou oorleef. Tot dusver lyk alles nog belowend, sê sy. 

Hulle het die eerste plantjies in Oktober 2014 geplant. Dit was die begin van hul roosmarynland waarvoor hulle 2 500 plantjies gekoop het. 

In 2015 het hulle nog 12 500 laventelplantjies bestel – dit was ongelukkig die jaar van die verskriklike droogte en hulle kon net 1 000 van die 12 500 plantjies red. 

Laventel Foto: Verskaf

Intussen het hulle twee tweedehandse groeitonnels opgesit en self begin eksperimenteer met steggies maak. In Oktober 2017 is 10 000 lavandinplantjies, ’n kombinasie van hul eie steggies en ’n klomp wat ingekoop is, geplant. Terselfdertyd het hulle sowat 5 000 nuwe roosmarynplantjies geplant, alles van hul eie steggies. 

“Die beplanning is om in Oktober vanjaar nog 5 000 lavandinplantjies te plant en ons hoop om binne die volgende drie jaar die volle 6 ha te benut. 

“Intussen het ons in April ook ’n pot kakiebos (Tagetes minuta) gedistilleer en ’n goeie olie geproduseer. Ons wil graag in die toekoms van die nuwe opslagbloekombome (eucalyptus) in die omgewing olie maak,” sê Neeltjé opgewonde. 

Laventel. Foto: Verskaf

Dit neem sowat twee jaar ná vestiging voordat olie van die plantjies gemaak kan word. “Met die roosmaryn kan ons twee keer per jaar olie maak en van die lavandin een keer per jaar. Ons het nog nie teeboomolie gemaak nie.”

Fragrant Oils het hul eie distilleringsaanleg op die plaas en vervaardig self die olie. Die olie word uit die plantjies getrek deur ’n stoomdistillasieproses. 

Met die roosmaryn word die plant in Maart of April en dan weer in Oktober ongeveer twee derdes teruggesnoei. Hoe meer blommetjies dit dra, hoe beter is die oliegehalte. 

Wat die lavandin betref, word die stingels en blomme gesny. Die olie sit in die blomme en die stingels. Die droë materiaal word in ’n pot van 660 liter gegooi. Dit bevat sowat 150 kg se droë materiaal (stingels en blomme). 

“Ons het nie elektrisiteit by die aanleg nie, so ons gebruik ’n stoomketel (soos ’n donkie van ouds) om die stoom te genereer. Die plante kom nooit in aanraking met water nie. 

Neeltjé Swanepoel Foto: Verskaf

“Die stoom wat die olie bevat, word dan deur ’n kondenseerder omgesit in ’n vloeistof en die olie word deur ’n afskeier geskei van die water en afgetap. Die olie is ligter as water en dryf bo op. Dit is maklik om af te gooi. Dit neem tussen 20 en 30 minute om een pot se olie te onttrek.”

Neeltjé sê elke gebied van olie maak verskil, daarom is baie navorsing noodsaaklik om seker te maak die plante aard in die omgewing. 

“ ’n Mens sukkel ook om die regte inligting vir jou spesifieke omgewing te bekom. Die inkoop van plantjies en vestiging van infrastruktuur is baie duur. 

“Omdat ons landerye lank nie gebruik is nie, sukkel ons baie met onkruid. ’n Mens kan dit tussen die rye los, maar ons is albei effens perfeksionisties en dus hou ons van skoon landerye! 

“Water is en bly ons grootste uitdaging. Ons moes ’n klomp keer boor en twee damme opsit om ons deur die winters te kry. 

“Daar is altyd baie meer uitgawes as waarvoor jy beplan. Ons genereer steeds nie ’n inkomste nie, maar verskaf darem permanente werk aan twee mense en ook seisoenaal aan ’n klompie plaaslike vroue.”

Sy sê hulle moes baie navorsing doen en het met ’n paar mense in die bedryf gesels, ’n plaas of wat besoek en het ’n kenner ingekry om die eerste keer saam met hulle te distilleer. “Dis maar dikwels ’n storie van ‘probeer en misluk’ of ‘probeer en slaag’.”

Gebruike vir die olies

Die olies het baie gebruike. Laventelolie het onder meer ’n kalmerende effek op die liggaam. Dit kan onder meer gebruik word om bysteke minder te laat jeuk, brandwonde te kalmeer en snywonde se bloeding te stop.

Roosmarynolie is goed vir die geheue. Die olie kan haargroei stimuleer, spierpyne verminder en die galblaasfunksie aanmoedig. Dit is ook ’n wonderlike mondspoelmiddel. 

Bloekom- en teeboomolie se gebruike is bekend, dit is ongelooflike olies wat help dat wonde heel. Dit word ook as ontsmettings- en anti-inflammatoriese middel ingespan. 

Baie mense vra die vroue uit oor kakiebosolie. Insekte hou glad nie van die reuk nie en ’n mens kan dit onder meer maklik daarvoor gebruik. Al dié olies word as basisolie vir parfuum gebruik.

  • Vir meer inligting oor Fragrant Oils volg hulle op Facebook en Instagram.
Laventel Foto: Verskaf
Kakiebos. Foto: Verskaf
Op die landerye. Foto: Verskaf
Kakiebos. Foto: Verskaf
Van die personeel wat help om die olie te vervaardig. Foto: Verskaf
Die distilleerder. Foto: Verskaf
Marlize Nel Foto: Verskaf
Die distilleerder. Foto: Verskaf
Die distilleerder. Foto: Verskaf
Plantjies word op die landerye geplant. Foto: Verskaf
Van die werkers op die plaas. Foto: Verskaf
Die distilleerder. Foto: Verskaf
Marlize Nel Foto: Verskaf
Neeltjé Swanepoel en Marlize Nel, die eienaars van Fragant Oils. Foto: Verskaf


Meer oor:  Kruie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.