Is jy nog besig om nuwejaarsvoornemens te maak? Hier is ’n paar vir die tuin wat nie jouself, jou gewoontes of jou gewig drasties herdefinieer nie.

’n Mediterreense tuin is altyd ’n goeie idee – dit is waterwys en bestuiwingsvriendelik.
Wat ons ook al in die tuin doen, word beloon, daarom is dit baie makliker om tuinvoornemens te neem. Dit maak tuinbou suksesvoller – hoe bevredigend is dit nie?
Begin met die grond
As die grond vrugbaar, goed deurlug en organies ryk is, floreer alles. Plante weerstaan baie beter droogte, ekstreme temperature en onreëlmatige reënval as hulle in goeie gehalte grond geplant word. Dit maak die opname van voedingstowwe en goeie dreinering moontlik.
Maak die grond los tot ’n diepte van 30 cm voordat jy jou eenjarige plante en meerjarige plante plant. Spit kompos in, hoe meer hoe beter, en voeg ook beenmeel en organiese kunsmis by. Grawe die eerste 30 cm grond uit en plaas dit eenkant vir rose en groter struike. Maak die grond in die gat los tot ’n verdere diepte van 30 cm en voeg kompos by. Meng organiese stowwe, kompos en kunsmis in die boonste 30 cm grond in en plaas dit weer in die gat. Maak goed nat. Gaan groter en dieper vir bome.
Gee plante wat hulle wil hê
Moenie kompromieë maak oor die hoeveelheid son of skaduwee wat ’n plant nodig het nie. Wanneer volson aangedui word, benodig plante minstens ses uur son per dag. Plante vir halfskadu kan oggendson kry (tot vier uur), en helder spikkelskaduwee, maar nie oggendskaduwee en/of middagson nie. Met te min son sal sonliefhebbers nie soveel blom nie, slungelagtig en siek word. Met te veel son word skaduwee-liefhebbers watergulsig.

Bye hou van kosmos en ander enkele blomme.
Moenie die plante op dieet plaas nie
’n Voortdurende voedingstelsel hou plante gesond en minder vatbaar vir siektes of plae.
Vernuwe die grond met kompos in die lente en met elke nuwe aanplanting. ’n Kunsmis met beheerde vrystelling kan een keer toegedien word, aan die begin van die seisoen, of elke vier maande, om noodsaaklike mikro-voedingstowwe te voorsien en enige tekorte aan voedingstowwe reg te stel.
Gebruik water verstandig
Heelwat water gaan verlore deur verdamping. Lei nat voor 06:00 of ná 18:00, die koelste tye van die dag.
Maak gebruik van ’n dun organiese deklaag (ongeveer 2 cm) van grondboontjiedoppe, hooi en basskyfies in hittebestande beddings. Dit hou die grond koel, wat verdamping verminder en die grond bly langer vogtig. Hou aan om die laag aan te vul.
Verhoog die “deurlaatbare” tuinvloer sodat reënwater insink. Gebruik deurlaatbare plaveisels, vervang soliede plaveisels met dié wat in sand of gruis is, of gebruik Mondo-gras, grondbedekkings of aromatiese kruie tussen trapstene. Oes reënwater in tenks en gebruik huishoudelike gryswater.

Voeg kompos by jou grond met elke nuwe aanplanting.
Beskerm jou tuinbesoekers
Bye, skoenlappers en voëls maak ons wêreld ’n beter plek omdat hulle plante bestuif, plae natuurlik beheer en skoonheid bring.
’n Natuurlewe-vriendelike tuin sluit water (plasse, damme en baddens), blomplante vir nektar en stuifmeel, boomgange en struike vir nesmaak in.
Gebruik slegs organiese plaagdoders wat nie bye of ander voordelige insekte sal benadeel nie. Lees die etiket voordat jy dit koop. Om veilig te wees, spuit vroeg in die dag of laat in die middag wanneer bestuiwers nie besig is nie.
Plant aromatiese kruie as metgeselle om insekte af te weer, om as strikgewasse op te tree of om die grondgesondheid te verbeter.
Doen dit self

Alice Coetzee
Om fisiek in die tuin te werk, is ’n goeie manier om fiks te bly, te ontspan en verbind te bly aan die natuur. Al kan jy nie die harde, fisieke werk doen nie, kan jy die dooie koppe van rose en ander blomme verwyder, onkruid uittrek, saad saai of saailinge plant, die plante natmaak en die groente oes.
Die Spaanse argitek Antoni Gaudí het geskryf: “Die wonderlike boek wat altyd oop is en wat ons ons bes moet doen om te lees, is die boek van die natuur.”