Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
‘Nuwe’ een het almal gaande

Dit is verbasend dat ’n “nuwe” plant ná eeue van plantversameling oor die wêreld heen steeds ontdek kan word en almal se verbeelding kan aangryp.

Senecio candicans “Angel Wings” is die nuutste tuinbou-gewaarwording. Die plant is oorspronklik van die suide van Chili en is eerste deur die Japanners die groen lig gegee wat op sy beurt aan plantbemarkers in Europa die vertroue gegee het om dit ook te probeer. Natuurlik het dit intussen ook oseane oorkruis na Amerika.

Die Senecio candicans “Angel Wings” sorg vir ’n pragtige fokuspunt in jou tuin.

Dit is nie moeilik om te sien waarom daar so ’n bohaai oor dié plant gemaak word nie. Die Senecio candicans “Angel Wings” het silwer loofblare soos geen ander nie. Dit het reuseblare wat so sag is soos die ore van ’n groterige hond, sê Kathy Varney van BallStraathof.

Daarbenewens hou die plant sy vorm mooi, hoewel hy tot 60 cm lank en breed word. Dit moet nie oornat gemaak word nie.

Waar om dit te sien

Tuiniers wat daarvan hou om iets nuuts te ontdek, moet BallStraathof se Open Trial Gardens op Saterdag 9 November in Honeydew besoek, waar dié plant vir die eerste keer in Suid-Afrika vertoon sal word.

Groot eksemplare in potte dien as ’n fokuspunt in die tuin wat ontwerp en geplant is deur studente van die Lifestyle College of Gardening. Dit word ook in die kleurskerms buite die proefkweekhuis gebruik om aan te toon hoe goed Senecio candicans “Angel Wings” met ander blomplante en blare meng.

“Ons het besluit om dit te beproef omdat dit uiters droogtebestand is en omdat dit so ’n opvallende plant is,” sê Varney.

“Dit word geklassifiseer as ’n vetplant en is ’n ongelooflike plant vir alle doeleindes. Dit kan op sy eie in ’n pot gekweek word, of met ander plante gemeng word. Dit kan ook ’n goeie presteerder in die tuin wees as ’n opvallende plant vir beddings en grense.”

Sy voorspel dat dit tot die gewildste plant tydens die proewe verkies sal word. Dit is die gebruik om aan elke persoon wat die proewe besoek, ’n vlag te gee wat hulle in die pot van hul gunstelingplant sit. Só kan die publiek die keuse van plante wat in die tuinsentrums beskikbaar gestel word, beïnvloed.

Hoe dit gevind is

Daar is ’n hele storie agter die “ontdekking” van Senecio candicans “Angel Wings”. Dit is tydens ’n visvangreis ontdek. Die plantontwikkelaar Lyall Fieldes het saam met sy gasheer in die Patagonië-streek van Chili gaan visvang toe hy ’n groot silwer plant bo ander plante sien uitstaan. Die gasheer het hom meegedeel dat dit ’n Senecio was en daar ’n paar variëteite in hul kwekery was.

Daar word vermoed dat Fieldes ’n plant met hom saamgeneem het (soos alle tuiniers doen), maar niks het gebeur totdat ’n Japanse tuinier, Takasji Hikage, die plant raakgesien het en gevra het of hy dit in Japan kan beproef nie.

Hikage het geraai dat die tekstuur daarvan by die Japanse tuiniers gewild sou wees, en hy het probeer om plante in die bergagtige noordelike dele van Honsjoe-eiland te plant. Hy was reg.

In Europa was daar egter steeds twyfel oor die aantrekkingskrag van die plant omdat die blare jare lank ongewild was.

Nog ’n plantontwikkelaar, Ron Hoogeveen van Nederland, het Hikage in Japan besoek. Hy het die potensiaal daarvan gesien, en in ’n sekere sin só die wêreld aan Senecio candicans “Angel Wings” bekend gestel.

Ná ’n gesofistikeerde voortplantings- en bemarkingsprogram het Angel Wings ’n topverkoper geword, grootliks danksy die “stedelike oerwoud”-tendens vir binnenshuise plante.

Dié plante sal vanaf Januarie by toonaangewende tuinsentrums in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Opedaginligting:

Die tuine is van 09:00 tot 17:00 op 9 November oop. Toegang is R30 vir volwassenes, R15 vir pensioentrekkers en kinders onder 12 kry gratis toegang. ’n Gedeelte van die inkomste gaan aan liefdadigheid.

Kos en verversings is beskikbaar, en mense is welkom om hul eie piekniekmandjies saam te bring. Daar is ’n springkasteel vir kinders.

Die BallStraathof-landgoed is in Printechlaan 1550, via Juice Street, Laser Park, net langs Beyers Naudé-rylaan in Honeydew. Vir meer inligting, skakel 011 794 2316 of besoek www.ballstraathof.co.za vir aanwysings.

Meer oor:  Alice Coetzee  |  Angel Wings  |  Senecio Candicans  |  Tuinmaakwenke  |  Tuine  |  Tuinmaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.