Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Nuwe idees vir jou roostuin
Kombineer Fiery Sunsation-rose met Carex-grasse vir ’n moderne effek. Foto’s: Verskaf

Junie is die beste tyd om gevestigde rose te skuif of jou roostuin op te knap.

Soos alles anders word rose deur die nuutste neigings en modes beïnvloed. Formele en tradisionele roosbeddings maak deesdae plek vir vars, dikwels onkonvensionele maniere om rose te gebruik sodat dit inpas by ultramoderne huise.

Helét van Blerk, ’n Pretoriase tuinargitek van Gorgeous Gardens, het gevind dat baie van haar kliënte van rose hou, maar nie van formele roosbeddings nie. Daarom meng sy rose met ander meerjariges en grasse vir ’n natuurliker voorkoms.

Helét hou daarvan om siergrasse te gebruik omdat dit beweging en tekstuur na die tuin bring, terwyl dit die roosbosse versag en die blomme beklemtoon.

“Dit het begin met kliënte wat rose wou hê, maar ’n moderne huis gehad het. Ek moes dus rose inkorporeer sonder dat dit soos ’n tradisionele roostuin lyk,” vertel Helét.

Sowel grasse as rose kry genoeg ruimte om te groei en die grasse word afgewerk. Die rose is ook só versorg dat dit mooi blom.

Helét beveel aan dat floribunda- en grondbedekking-rose gebruik word, wat bosagtig is en meer blomme produseer as die tradisionele basterrose.

Die wat sy verkies, is Deloitte & Touche, Knockout, Red Flower Carpet (of Fiery Sunsation) en My Granny. Om by te voeg tot die lys, stel die rooskweker Ludwig Taschner ook Tawny Profusion (botteragtige geel), Rooi Rok, Not Simply Pink, Butterfly Kisses (massa van kersierooi enkelblomme) en Vodacom (pers) voor.

Ludwig se enigste raad is om die rose hoog te snoei in die winter sodat die blare bo die gras is en dit genoeg sonskyn kan kry om in die lente te kan uitgroei en blom.

Gebruik wintergroente as ’n eetbare rand saam met Rhapsody in Blue-rose.

Die siergrasse wat die beste by rose pas, is dié wat hou van son, gereelde natmaak, goed gedreineerde grond en wat kompak is met fyner blaartjies. Dit sluit in Carex en Juncus Blue.

Rose kan gerus ook maklik ingespan word in die nuwe neiging om dit saam met groente te kweek. In Franse kombuistuine is blomme, waaronder ook rose, altyd gekombineer met groente en kruie.

Roosblomme lok bestuiwers, veral bye, wat nodig is om die groente te bestuif en sowel rose as groente het volson, gereelde natmaak en egalige, vrugbare grond nodig wat goed dreineer.

As rose naby mekaar geplant word, maak daarvoor ’n randjie van kompakte groente wat nie die son sal blokkeer nie. Plant groente soos Bright Lights se Switserse snybeet, blaarslaai, krulkool en pietersielie.

Die maklikste opsie is om dit onder standaardrose te plant omdat groter groentesoorte dan geplant kan word. Begin in die lente met beet, wortels en radyse en plant dan dwergpepers, brandrissies en baba-eiervrugte.

Rose kan ’n kleurvolle agtergrond bied in die groentetuin, soos die struikroos Rhapsody in Blue wat as ’n rankroos kan werk. Kweek groente aan die voete van die rose sodat dit en die rose volle toegang tot son, water en kunsmis het.

Hoe om rose oor te plant

As die rose geskuif moet word, bied Taschner van Ludwig’s Roses hierdie handleiding om dit suksesvol te doen:

  • Berei die nuwe bedding of gat voor en grawe tot 30 cm diep. Verwyder die grond en meng dit met kompos. Gooi die verrykte grond terug in die gat en maak goed nat.
  • Snoei plante met ’n derde terug (maak seker jy merk die regte plante as jy meer as een skuif) en maak goed nat totdat die grond versag.
  • Spit die volgende dag ’n sirkel van ongeveer 20 cm van die middel van die roos af. Maak seker dat die graaf die wortels sny.
  • Haal die struik uit die grond. Dit is makliker met twee mense omdat twee grawe teenoor mekaar in die grond gesit kan word en terselfdertyd afgedruk kan word sodat die bos uit die grond gehys kan word.
  • Sny enige gebreekte wortels en stingels af en plant die boom in die voorbereide grond. Spit toe en maak goed nat. Gee dit elke tweede of derde dag water totdat die roos begin uitloop en verminder dan die toediening van water.

Vir meer inligting, besoek ludwigsroses.co.za of kontak Helét van Blerk by 082 789 3091 of heletggardens@gmail.com.

Meer oor:  Alice Coetzee  |  Leefstyl  |  Rose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.