SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Tuine
Omskep jou tuin in ’n sprokiesland met dié idees

Winter is die ideale tyd om jou tuinontwerp te heroorweeg wanneer dit kaal gestroop is. Dit is ook die beste tyd om opknappings te doen sonder om die tuin se somerskoonheid te versteur. Hier is ’n paar voorstelle van die Life is a garden-span om jou tuin in ’n oase te omskep.

Kikker jou swembad op deur die area rondom te moderniseer.

1. Doen weg met jou slordige grasperk 

Is daar dele van jou grasperk wat uiters kaal lyk as gevolg van oorbenutting of skaduwee? Oorweeg ’n nie-plantoppervlak met plaveisel, dwarslêers, gruis, klippies, basskyfies of ander materiale. Dit sal die tuinoppervlak ’n nuwe voorkoms gee en die tuin tekstuurkontras bied.

 

2. Maak ongelyk oppervlakke werkbaar 

’n Grasperk met ’n steil helling maak dit baie moeilik om te sny. Skep eerder ’n rotswand op die helling, of plant ’n verskeidenheid grondbewaringsplante daar. As jy meervlakkige ruimte in die tuin wil skep, bou ’n keermuur – reguit of geboë – en ’n stel trappe om verskillende vlakke in die tuin te bereik. Dit is nie net prakties nie, die verskeie vlakke maak ook die tuin interessant. Jy kan selfs ’n dam of kanaal aan die voet van die muur installeer met spuite wat in die muur self geplaas word.

Verskillende vlakke in jou tuin is prakties én maak jou tuin interessant.

 

Kort die grense tussen jou grasperk en tuinbeddings definisie? Maak dit weer netjies deur laaggroeiende immergroen plante soos mondogras, liriope of gousblomme gazaniaaan die voorkant van die grens te plant. Alternatiewelik kan jy ’n rand installeer van baksteen, klippies of terracottateëls. Doen weg met enige klein ongelykhede in die grensrand – volgehoue sagte kurwes is aangenamer vir die oog.

’n Versteekte hoekie in jou tuin is die ideale plek om van die alledaagse gejaag te ontsnap.

4. Maak grensmure minder sigbaar 

Oorheers die tuinmure jou tuin? Verf dit houtskoolgrys of plant klimplante daarteen. Hierdie plante is terug in die mode aangesien hulle ekohabitats voorsien, en wanneer dit teen huismure aangeplant word, hou dit die huis warmer in die winter en koeler in die somer. In ’n formele tuin kan ’n reeks traliewerkpanele teen die mure tot die algehele ontwerp bydra.

5. Skep tuinkamers 

Pleks daarvan om die hele tuin met die eerste oogopslag te sien, skep belangstelling deur dit in aparte dele te verdeel met hoekies en draaitjies waar jy moet ingaan ten einde die hele tuin te waardeer. In ’n groot tuin kan dit maklik gedoen word met ’n bedding skermplante met ’n oop gedeelte wat toegang tot die verborge dele bied. Gebruik smal naaldbome of latwerk en ’n boog in kleiner tuine. ’n Hoek van die tuin is ’n goeie plek vir ’n geheime hoekie, maak nie saak wat die grootte van die hooftuin is nie. As jy ’n groot tuin het, bou jy net een of meer paaie wat lei tot die verborge plekkie in jou tuin.

Verwyder vlekke van jou plaveisel en vervang gebreekte stene met nuwes.

6. Maak dit interessant 

Is daar iets in jou wintertuin wat die oog lok? Indien nie, maak ’n fokuspunt in daardie areas van jou tuin wat gewoonlik die oog trek, byvoorbeeld aan die einde van ’n oprit, ’n wandelpaadjie of ’n uitkykpunt. Maak seker dat die fokuspunt in verhouding tot die tuin is. Jy kan byvoorbeeld in ’n groot tuin ’n gazebo, ’n dammetjie en fontein, ’n groot standbeeld of ’n opvallend gevormde immergroen boom soos ’n palmboom installeer. In ’n klein tuin kan jy ’n urn, ’n groot pot, ’n kleinerige fontein of ’n bankie gebruik.

 

7. Ruk jou plaveisel reg 

Wees versigtig vir tekens van slytasie en pas die regte behandeling toe. As paaie, geplaveide gebiede en die oprit vol onkruid is, gebruik ’n nieselektiewe onkruiddoder met herhaalde intervalle soos volgens die instruksies aangedui. As vlekke van die een of ander aard die voorkoms van die oprit of patio verwoes, verwyder dit. Om uit te vind hoe om vlekke op bakstene te verwyder, kontak die RousteenverenigingClay Brick Association by 011 805 4206 of claybrick@icon.co.za. Herstel enige los bakstene, teëls of klippies in geplaveide gebiede – om estetiese én veiligheidsredes.

8. Begin verf 

Dop die verf van bankies, tuinhuisies, traliewerk en ander tuinstrukture af? ’n Nuwe laag verf sal wondere doen. Jy kan ook ou planthouers vernuwe deur dit met een van Earthcote se produkte ’n modieuse klipagtige afwerking, ’n geroeste-yster-effek of verweerde-koper-effek te gee.

Dit is nou die tyd om jou bome te snoei omdat dit meer lig deurlaat en ander plante dan beter kan groei.

9. Snoei bome terug 

Winter is die beste tyd om gevaarlike en laaggroeiende takke van die bome in jou tuin te verwyder. Dit laat meer lig in die tuin toe sodat plante onder bome beter kan groei. Miskien het jy ’n boom wat só groot is dat dit jou tuin se groei en skoonheid benadeel. As dit ’n verklaarde indringer is, kan jy dit ook professioneel laat verwyder. Dit hoef dalk nie nodig te wees om ’n nie-indringende eksotiese boom te verwyder nie. Regverdige snoei kan die probleem oplos. ’n Opgeleide boomdeskundige sal jou professionele raad kan gee. Om die naaste boomkenner te vind, kontak die Suid-Afrikaanse Instituut vir Tuinargitekte (Sali) per e-pos by val@sali.co.za of besoek www.sali.co.za.

10. Moderniseer jou swembad 

Is dit tyd om jou swembad te vervang? ’n Omgewing van moderne stene sal dadelik ’n kontemporêre voorkoms gee, terwyl rustieke dwarslêers ’n natuurlike tuinstyl aanvul. Terwyl jy opknappings doen, kan jy ook ’n ontspanningsarea inrig. As die binnekant van jou swembad opknapping benodig, kontak die Nasionale Spa- en Swembadinstituut van Suid-Afrika by 011 791 1177 vir raad oor toepaslike behandeling of verf, of vir kontrakteurs.

Life is a Garden is die bemarkingsafdeling van die Suid-Afrikaanse Kwekeryvereniging. Besoek gerus www.lifeisagarden.co.za vir meer tuinwenke. 

Meer oor:  Winter  |  Tuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.