Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Plant baie van hulle!

Daar is hoop dat enkelsyfertemperature en bibberweer dalk binnekort iets van die verlede gaan wees. Dis ’n teken dat ons moet begin plant om sommer vanaf laatwinter tot diep in die somer die genot van baie blomme te hê.

Twee van die maklikste blomplante om in groot getalle te plant vir ’n massavertoning van kleur, is ons eie botterblomme (Gazania) en die eksotiese daglelies (Hemerocallis). Albei is verspotmaklik om te kweek, fiemiesvry en verskaf maande se blomplesier.

’n Pragtige daglelie-hibried.

Hemerocallis (daglelie)

Daar is plantspesialiste wat hulle net toespits op daglelies – nie die doodgewone ou stiefsusters met hul oranje blomme wat ons dalk onthou nie. Nee wat, hulle kweek immergroen en bladwisselende hibriede, groot of dwergagtig, en in al die kleure van die reënboog. By party hibriede is al die kleure sommer saam in een blom!

Daglelies kom van China, Korea en Japan, en is in werklikheid nie ware lelies nie. Die naam “Hemerocallis” is afkomstig van die Griekse “hemera”, wat “dag” beteken, aangesien elke blom net vir ’n dag hou, en “kallos” wat “mooiheid” beteken.

Die daglelie sal nooit as te nimmer uit die mode uit gaan nie, al hou elke individuele blom (wat eetbaar is!) net vir ’n dag – ’n snaakse kenmerk waarvoor die plant maar gerus vergewe kan word, want ’n enkele plant wat gelukkig en tevrede is met sy groeitoestande en die tuinier se versorging, kan meer as 50 blomme voortbring in ’n blomseisoen wat strek vanaf Oktober tot in Mei.

Die bladwisselende soorte is ideaal vir koue klimate en die immergroenes is weer net reg vir warm klimate. Die onus is op die tuinier om die kweker uit te vra en die regte hibriede te kies.

Met duisende eksotiese kleure om van te kies kan ’n mens letterlik ’n daglelie kies om by enige kleurskema te pas.

Kweekgebooie

  • Plantplek: Volson of ten minste vyf ure sonlig per dag. Hibriede met donker blomkleure moet liefs in oggendson en middagskadu geplant word, anders bleik die blomkleure.
  • Grond: Enige grondsoort is goed, maar vir die beste resultate is komposryke grond waarby beenmeel gevoeg is noodsaaklik.
  • Water: Medium-waterverbruik. Wanneer die eerste blaarlose blomstele verskyn, moet die plante meer gereeld natgelei word.
  • Bemesting: Voed met kaliumryke kunsmis in die lente, midsomer en herfs.
Anna Celliers

Pasop hiervoor

Daglelies moet op die regte diepte geplant word. Plaas die kroon (risoom waaruit die blare spruit) presies gelyk met die bokant van die plantgat. Nadat die gat opgevul is, sal dit effens insink met natleiwater en dan behoort die kroon op die gewenste diepte van net 2 cm onder grondvlak te wees.

Om meer blomme aan te moedig, moet ou blomme gereeld verwyder word sodat die plant nie probeer saad maak nie, anders gaan al die energie en voedingstowwe daarna om saad te produseer. Te veel misstof kan ook blomproduksie inhibeer.

Oorgroeide polle kan in die lente en herfs verdeel word, maar maak seker dat dit nie te klein verdeel word nie, want dan sal dit tyd neem vir die plante om weer te blom.

Gazania “Kiss” is alte fraai.

Botterblom (Gazania)

Lede van die gazania-genus is een van Suid-Afrika se kosbaarste inheemse juwele wat nie maklik getroef kan word wat kleur aanbetref nie. Botterblomme is immergroen, kruidagtige meerjariges wat in digte polle groei. Hulle blom vanaf die vroeglente tot herfs en die verwydering van dooie blomme sal nuwes lewer en ook sorg vir ’n langer blomtyd. Skoenlappers is dol oor botterblomme.

Kweekgebooie

  • Plantplek: Volson is noodsaaklik. Botterblomme se madeliefie-gesiggies vou toe in skaduwee of wanneer die son ondergaan.
  • Grond: Enige grondsoort is goed, maar vir die beste resultate is komposryke grond waarby beenmeel gevoeg is noodsaaklik.
  • Water: Botterblomme het lae waterverbruik en is droogtebestand. Te veel water kan wortelvrot veroorsaak. So, as hulle eers tuis is, moet hulle net water kry as die grond heeltemal uitgedroog het.

In ’n neutedop

Botterblomme is minsorgplante wat op die uitdagendste en warmste plekke in die tuin sal blom. Daar is baie spesies en variëteite by kwekerye beskikbaar maar die Gazania “Gazoo”-reeks het baie groot blomme in helder kleure. Hulle word 25-30 cm hoog. Nog ’n reeks wat aanbeveel word, is Gazania “Kiss”, wat uiters geil blom en ongeveer 20-25 cm hoog word. Albei reekse word in kleurpotte of in kissies van ses plantjies verkoop.

Meer oor:  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.