Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Plant nou lentebolle

Bolle is vreemde klein goedjies wat nie lyk of hulle enige belofte inhou nie. Sodra hul interne horlosie egter begin tik en hulle grond en water tref, is jou beloning die kleurrykste blomme denkbaar.

Dit is van nou tot einde vandeesmaand en selfs vroeg in Junie tyd om lenteblombolle te plant – die maklikste manier om pragtige blomme te kry vir baie min moeite. Hier is ’n paar idees om die “bol aan die rol” te kry:

  • Vir stoeppotte kan narsings of dwergaffodille en tulpe na aan mekaar geplant word. Hulle kan ook binnenshuis gekweek word.
  • Kies inheemse kammetjies met soetgeurige blomme in ’n bont mengsel of een enkele kleur. Plant hulle in groot groepe om ’n welriekende vertoning te lewer.
  • Koop hiasinte met geurige, eksotiese, klokvormige blomme en plant hulle binnenshuis op klippies, in water of in die skadu buite in grond.
  • Vir snyblomme het jy hope Hollandse irisse nodig in donkerpers, bottergeel en wit, asook ranonkels en anemone in ’n verskeidenheid reënboogkleure in enkel- of gemengde pakke.
  • Vir ’n wit kleurskema moet jy honderde inheemse tjienkerientjees hê – goeie waarde vir geld omdat hulle nadat hulle blomme gedra het, in die grond gelaat kan word om te vermeerder.
  • Tussen siergrasse of in graslandtuine sal inheemse babiana, ixia en sparaxis perfek wees. Hulle sal ook naturaliseer en kan in die grond bly om te vermeerder.
  • Om ’n bostoneel onder die kaal wintertakke van bladwisselende bome te skep, belê in groot getalle sneeuvlokkies (Leucojum), affodille en druifhiasinte – hulle almal kan in die grond gelos word om ná blom te vermeerder en sal jou in later seisoene herhaaldelik plesier gee.
Die mooie hiasint is beskikbaar in blou, pienk en spierwit.

    Ranonkels vir randakkers

    Niks is mooier as ranonkels met hul veelvoudige lae delikate kreukelpapierdun kroonblare nie. Dit is te kry in grootmaatpakke van gemengde kleure of enkelskakerings, waaronder pienk, wit, rooi, geel en oranje.

    Die klouagtige wortels van die bol lyk soos ’n dooie reënspinnekop wat vas is aan die verharde stingelbasis, wat lyk soos die uitgedroogde hoed van ’n tuinkabouter. Die klou moet ondertoe wys wanneer dit geplant word (nie meer as 5 cm diep nie, en sowat 10 cm tot 15 cm van mekaar). Maak goed dreinerende grond ongeveer 20 cm diep los en verryk dit met kompos. Dit moet in die son of ligte skadu wees.

    Maak jou bolle elke drie of vier dae diep nat: Die geheim is om hulle nie te lank te laat uitdroog nie, maar die grond moet ook nie voortdurend sopnat wees nie, anders sal die blare geel word. Voorkom poeieragtige meeldou, wat soms die mooi varingagtige blare kan beskadig, deur die grond met ’n fungusdoder te deurdrenk nadat jy dit geplant het. Voed jou ranonkels tweeweekliks met bolvoedsel.

    Ranonkelbolle van ’n goeie gehalte sal sowat ses weke lank blomme dra, en hoe meer jy pluk, hoe meer knoppe sal verskyn. Pluk hulle vir die vaas wanneer die knoppe kleur wys en nog nie heeltemal oop is nie.

    Die mooie inheemse kammetjie (freesia) se blomme het ’n soet geur.

    Kweek bolle in potte

    Stel jou ’n balkon of patio voor wat in die lente met potte vol blommende affodille en tulpe versier is, ook vensterbanke binnenshuis vol uiters aromatiese en romantiese hiasinte, en jy is halfpad op pad hemel toe. Al drie die bolle kan in houers met grond of hidroponies (bo water op klippies) gekweek word, wat die woonstelbewoner geen verskoning gee om nié in die herfs ’n bietjie plantwerk te doen nie.

    Sodra die blomknoppies van ranonkels begin kleur wys, moet hulle gepluk word vir die vaas.

    Kweek affodille en tulpe in potte

    • Kies potte met dreineergate en sit ’n laag klippies onderin.
    • Maak die potte gedeeltelik vol potgrond, tot so 10 cm van bo af.
    • Rangskik die bolle sowat 2 cm uitmekaar en gooi ’n bietjie potgrond om hulle voordat jy hulle liggies met grond bedek. Plant die bolle met die punt na bo en bedek hulle met sowat 5 cm grond en ’n 2 cm-deklaag soos mos of gemaalde bas. Die finale deklaag moet tot ’n paar sentimeter onder die potrand kom om te voorkom dat die pot oorloop wanneer dit natgemaak word.
    • Maak die potte dadelik nat en sit hulle in ’n skaduhoekie sodat die bolle kan begin wortel skiet.
    • Sodra jy spruite bo die grond sien uitkom, sit hulle waar hulle ’n paar uur oggendson en ’n bietjie skadu in die namiddae sal kry.
    Bestel tulpbolle nou van bolkwekers en plant hulle dadelik wanneer dit afgelewer word.

      Neem kennis:

      Van alle lentebolle is tulpe van die heel mooistes. In Suid-Afrika het tulpe ongelukkig spesialis-kouebehandeling deur deskundige bolkwekers nodig om goed te blom. Hulle is dus nie beskikbaar by kwekerye nie en moet direk van bolhandelaars oor die internet bestel word, wat dit gewoonlik in Mei versend om dadelik geplant te word.

      Anna Celliers

      Kweek hiasinte hidro­ponies

      Geurige hiasinte is perfek om in glasflesse te kweek op vensterbanke wat goeie lig kry. Maak so:

      • Maak ’n glashouer tot bo vol gewaste rivierklippies.
      • Sit die bol se breë onderkantjie op die klippies.
      • Vul die fles met skoon water tot net onder die bol (wat nooit in die water moet staan nie, anders vrot dit).
      • Jy sal gou lang wortels sien wat na die water toe groei en die eerste tekens van ’n spruit bo.
      • Hou die watervlak onder die bol konstant en wees voorbereid daarop om ’n paar weke later ’n pragtige, geurige blom te sien verskyn.
      Meer oor:  Tuine  |  Anna Celliers
      MyStem: Het jy meer op die hart?

      Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

      Ons kommentaarbeleid

      Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

      Stemme

      Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.