Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Plant nou vir winterkleur

Somertuine wat ruig en groen is, voel welig en koel, maar in die winter het dit ’n bietjie kleur nodig.

Dit is nie toevallig dat winterblomme in helderder en warmer skakerings kom as somerblomme nie. Dit bied visuele warmte teen ’n agtergrond van gedempte kleure en blaarlose struike.

Niks is beter as winter- en lente-eenjariges soos magrietjies, baardangeliere, gesiggies, petu­nias, papawers, sleutelblomme, leeubekkies en viooltjies, om baie van die koel seisoenblomme wat voortaan geplant kan word, te noem.

Klein violas pas by die dekoratiewe borde op hierdie patiofonteintjie.

Die prins onder die wintereenjariges is die viooltjie, met sy kleiner sussie die viola. Dit is maklik om te kweek en neem so min of veel ruimte in beslag as wat jy bepaal. Dit vul enige hoek of spasie, ’n ou kruiwa, ’n geut, ’n hangmandjie, bedding of ’n pot – trouens, oral waar daar genoeg winterson is. As dit in die somer halfskadu kry, bly hulle blom.

Dit is ’n algemene opvatting dat violas vir klein tuine is weens hul kleiner blommetjie en viooltjies­ met groter blare vir groter tuine.

Hulle kan afwisselend geplant word, hoewel violas gebruik moet word vir die hoeveelheid blomme wat hulle lewer. Viooltjies produseer minder blomme, maar meer uitspattige, individuele blomme. Hoe jy tussen die twee besluit, hang af van die effek wat jy wil kry. Dit kan ook saam geplant word, met die kontrasterende grootte van hul blomme wat sorg vir ’n goeie fokuspunt. Plant dit in golwe, afwisselende blokke, of in beddings of houers met violas voor en viooltjies agter.

Gemengde viooltjies en violas onder ’n standaard- Rhaphiolepis indca wat net in die lente blom.
Groeiwenke

* Viooltjies en violas het volson nodig in die winter;

* Meng baie kompos in die grond in voordat jy plant. Dit hou van goed dreinerende, bros grond. Gebruik kunsmis met stadige vrystelling;

* Maak gereeld nat. Dit moet nooit heeltemal uitdroog of oor-natgemaak wees nie omdat dit sal verrot. Plante in houers moet meer gereeld natgelei word; en

* Vir ononderbroke blomme, moet jy plante twee keer per maand met ’n vloeibare kunsmis vir blomme voed. Pluk die dooie koppe van viooltjies af, veral die groter blomvariëteite, aangesien dit hulle aanmoedig om nuwe blomme te produseer.

Viooltjie Cool Wave 'Raspberry' maak houers en mandjies vol.

Vyf gebruike

Plant om die basis van standaard-potte. Dit is veral doeltreffend met standaardrose wat in Julie gesnoei word of bladwisselende plante. Voeg ’n bietjie kompos, vars potgrond en kunsmis met ’n stadige vrystelling in die pot en meng dit tot 15 cm met die bestaande grond. Maak dan goed nat nadat jy dit geplant het. Gee dit daarna twee tot drie keer per week water.

Gebruik violas wat in aantreklike potte geplant is, om ’n patio, ’n fonteintjie of ’n trappie te versier, asook om ’n vensterbank te vul. Hul oorvloed blomme sal altyd die aandag trek. Gebruik goeie gehalte potgrond en maak gereeld nat sodat potte of vensterkaste nie uitdroog nie.

Vul ’n hangmandjie of groter houer met die viooltjie “Cool Wave­”, wat beskikbaar is in verskillende skakerings. Die “Cool Wave” groei opwaarts en versprei tot 75 cm. Vologgendson en middagskadu is die beste vir mandjies. Maak elke tweede dag nat.

Brei die voorrand van ’n roosbedding uit of haal ’n deel van die grondbedekkings uit en vul dit met viooltjies of violas. Dit gee kleur aan gesnoeide roosbeddings of dele waar grondbedekkings in die winter sluimer. Meng baie kompos by voordat dit geplant word. Gebruik violas om kleur aan die wintertuin te gee. Viola-blomme is ook eetbaar. Hulle pas goed by wintergroente.

Viooltjie Matrix “Ocean Breeze mix” het ’n groot impak op klein ruimtes.
Meer oor:  Alice Coetzee  |  Blomme  |  Tuine  |  Winterkleur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.