Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Plant solank massas kleur vir jou lentetuin

Augustus is amper hier, wat beteken lente is net om die draai! Verlustig jou in die nuwe groenigheid wat oral opskiet en kry jou tuin en gereedskap solank gereed vir die bedrywige groeiseisoen wat voorlê. Life is a Garden gee ’n paar nuttige wenke.

Wees trots Suid-Afrikaans en plant ’n paar gazanias. Hulle is waterwys en hou van baie son! Foto: Life is a Garden

Op soek na ’n bietjie kleur vir die tuin? Jy kan nie verkeerd gaan met madeliefies nie. Daar is ’n wye verskeidenheid Osteospermum-hibriede, ook bekend as die Kaapse madeliefie, by plaaslike kwekerye te koop. Hierdie kleurvolle grondbedekkers wat in die laat winter en lente blom, lok skoenlappers en floreer in volson. Verder vertoon hulle ook pragtig in vensterbakke en blompotte.

Vir ’n massa vrolike blomgesiggies is die madeliefiebos (Argyranthemum frutescens) ’n goeie opsie. Perfek vir sonnige patio’s, balkonne of langs die swembad. Hierdie bosse vertoon op hul mooiste gedurende die koeler maande, maar sal dwarsdeur die somer blom indien jy genoeg water en voeding gee en na elke blomperiode ’n bietjie met die snoeiskêr inklim.

Moet ook nie van die goue madeliefie (Euryops pectinatus) vergeet nie! Op ’n sonnige dag kan jy die bottergeel blommetjies van ver af sien. Plant ’n klompie langs tuinpaadjies of in potte om stelling te maak. Hierdie bosse groei blitsvinnig, het nie baie water nodig nie en floreer bykans oral.

Clivias blom weke lank vanaf laat winter tot lente en is perfek vir droë skadukolle. Foto: Life is a Garden

Stylvolle clivia

As jy net een fantastiese lenteplant kan kies, maak seker dis ’n clivia. Jy weet die winter is verby wanneer die helderoranje trompetvormige blomme hul verskyning maak. Die blomme hou ’n hele paar weke en maak later plek vir rooi bessies wat maande lank aan die blomstingel bly klou. Hierdie meerjarige plante met hul lang donkergroen blare is ook maklik om aan die lewe te hou – perfek vir droë skadukolle of in potte.

Soete verleiding

Plant solank ’n kompakte, geharde aarbei-hibried vir ’n heerlike oes soet vrugte vanaf somer tot herfs. Hou die plant binne in ’n pot op ’n sonnige vensterbank of buite op ’n balkon in ’n pot of hangmandjie. Dis ook die ideale geskenk vir ’n geliefde.

A is vir azalea

In Augustus sal jy altyd potte vol azaleas by kwekerye vind. Soms is daar drie tot vier verskillende kleure blomme in dieselfde pot, aangesien ’n paar steggies van verskillende hibriede saam geplant word om kleur aan die binnekant van jou huis of ’n beskutte patio te verleen. Hou die plante klam, maar moet hulle nie verdrink nie. Moenie toelaat dat die grond heeltemal uitdroog nie. Wees ook versigtig om nie water op die bloeisels en blomknoppe te kry nie, sorg dat die plante genoeg goeie lig of gefiltreerde sonlig kry en nie in ’n koue trek staan nie. Na blomtyd kan jy hulle in die tuin of groter potte oorplant. Sorg net dat dit in die skadu is.

Kleurvolle madeliefies is net die ding om jou tuin mee op te kikker. Foto: Life is a Garden

Beddingvriende: Gazania

Gazanias is bekend vir hul groot, gestreepte of helderkleurige madeliefie-agtige blomme in skakerings van oranje, wit, geel, pienk, rooi en ook veelkleurige weergawes. Die blomme is bedags oop, maar sluit saans. Omdat hierdie plante inheems aan Suid-Afrika is, is hulle redelik hittebestand en nie te dors nie. Hulle verkies sandgrond met goeie dreinering en volson. Om pragtige blomme vir maande aaneen te verseker, plant hulle in komposryke grond en voed maandeliks.

Roossorg

Snoei rose indien jy dit nog nie gedoen het nie. Verwyder ook enige oorblywende blare, aangesien dit siektes en plae kan dra. Besproei die kaal stammetjies om van insekeiers en swamme ontslae te raak, werk kompos in en voed met rooskunsmis. Rond af met ’n vars deklaag en maak goed nat.

Skoenlappers dra stuifmeel van plant tot plant en is dus ’n aanwins vir jou tuin. Foto: Life is a Garden

Vriendelike goggas

Skoenlappers is altyd ’n welkome gesig in die tuin. Terwyl hulle plantnektar opslurp, dra hulle stuifmeel na ander blomme en dele van die tuin. Voor jy jou oë uitvee, is daar ’n heel nuwe bedding as voorheen!

Sonder bye om vrugte- en groenteplante te bestuif, sou ons ook baie minder geoes het. Ongelukkig is hulle vinnig besig om minder te raak as gevolg van ’n tekort aan blomplante in kleiner tuine. Daar is verskillende maniere om bye na jou tuin te lok (al is dit net ’n paar potte). Een slim manier is om soet kruie soos basieliekruid, bergamot, kattekruid, Franse tiemie, sitroenkruid, komkommerkruid, kruisement en laventel te plant.

Swart goud

Kompos verryk die grond en help om water te behou. Goeie nuus is dat dit maklik en goedkoop is om te maak.

1. Kombineer bruin en groen materiaal (soos dooie plante, droë blare en takkies) in hope van ongeveer 1 meter hoog en ’n basisbreedte van 1,5 meter.

2. Hou klam en spit gereeld om soos dit warmer begin raak.

3. Die kompos is gereed wanneer dit donkerbruin is en ’n aardse reuk kry.

4. Jy kan kompos-aktiveerder byvoeg om die proses te bespoedig.

Jy kan meer bye na jou tuin lok deur soet kruie soos laventel te plant. Foto: Life is a Garden

Laat wurms die werk vir jou doen

Terwyl ’n komposhoop die ideale manier is om van tuinafval ontslae te raak, is ’n wurmplaas die perfekte oplossing vir kombuisafval. Jy kry boonop wonderlike ryk wurmkompos en -tee wat jy kan gebruik om jou plante te voed. Wurmplase is beskikbaar in verskillende gedaantes – die grootte hang af van jou begroting en die hoeveelheid organiese materiaal wat jy wil prosesseer.

Varklelies is deesdae in allerhande pragtige kleure beskikbaar. Sit dit op ’n vensterbank waar die plant genoeg lig sal kry. Foto: Life is a Garden

Varklelies te kus en keur!

Varklelies is deesdae in al die kleure van die reënboog beskikbaar – van maroen tot amper swart, goudgeel, appelkoos en sagte pienk tot kersierooi. Knolle is gewoonlik vanaf Augustus by tuinsentrums te koop, gereed om in die lente te plant. Indien jy egter nie self knolle wil plant nie, kan jy plante in volle blom in potte koop. As jy hulle binne die huis gaan uitstal, sorg net dat die plante genoeg helder lig kry en hou die grond klam.

Algemene tuintake

  • Plant nog ’n paar jaarplante wat in die winter en lente blom, daar is so baie om van te kies! As jou beddings reeds vol is, trek ’n paar potte en hangmandjies nader.
  • Laat jou grassnytoerusting nasien en vra dat hulle die lemme vervang.
  • Vul gate in jou rotstuin met helderkleurige vetplante soos crassula en kalanchoe.
  • Voed vrugtebome met kraalmis en 8:1:5S.
  • Snoei ouerige struike soos poinsettia, plumbago, tecoma, hypericum, heliotrope, solanum en buddleja goed terug wanneer hulle klaar geblom het.
  • Steek ’n stokkie voor slakke en naakslakke voordat hulle van jou lentetuin ’n feesmaal maak. Fyngemaakte eierdoppe om die stammetjies van plante is net die ding om hulle af te skrik.

Vir meer inligting en tuinwenke, besoek gerus Life is a Garden se webtuiste by www.lifeisagarden.co.za of www.facebook.com/lifeisagardensa op Facebook.

Meer oor:  Blomme  |  Tuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.