Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Pure potplesier!

Niks klop die plesier daarvan om ’n miniatuurtuin in ’n pot te skep of ’n nuwe fokusplant in ’n elegante pot tuis te maak nie.

Houertuinmaak kan beskou word as die room van tuinmaak, of op ’n minder dramatiese noot, sommer net iets lekkers wat almal kan doen, of jy nou ’n tuinier is of nie!

Pottuinmaak in ’n neutedop

Tuinmaak in potte het twee eenvoudige beginsels. Jy kan die plantomgewing in ’n groot mate beheer met ’n goeie grondmengsel. Potte is boonop draagbaar, dus kan jy die beste groeitoestande soos son of skadu uitsoek, ter wille van elke plant se vereistes.

Boonop is ’n pottuin nie permanent nie – jy kan dit elke nou en dan verander – selfs soos die seisoene draai – en nuwe plante aanplant.

Selfs al het jy ’n meerjarige en langlewende plant soos ’n boomaalwyn in ’n groot pot geplant, kan jy gereeld die boonste deklaag om sy stam verander – een jaar met mooi spoelklippe en ’n ander jaar dalk met helderkleurige vygies.

Grondmediums

Om bloot grond uit ’n tuin op te grawe om ’n pot mee te vul gaan nie suksesvol wees nie – dreinering is gewoonlik nie goed nie, en daar kan allerlei skadelike patogene in die grond wees. Kommersiële potgrond is tot kompos verwerk en gesteriliseer om onkruid en grondgebaseerde siektes te bekamp. Dit bevat fyn bas, organiese materiaal en skerp riviersand wat met goeie dreinering help, maar ook genoeg vogtigheid om plantwortels behou. Gebruik dus liefs erkende potgrondmengsels.

As jy iets soos ’n suurlemoenboom in ’n groot pot het, krap die boonste grondlagie uit, voeg vars potgrond by en plant nuwe kruieplantjies en blommendes soos petunias en verbenas vir kleur.

Huiswinkels en tuinsentrums hou deesdae ook spesialismengsels aan soos potgrond vir vetplante wat meer grinterig is, humusryke mediums wat gebruik kan word vir huisplante soos varings en viooltjies, orgideemengsels wat uit growwe bas bestaan, liggewigmengsels vir bonsai en geformuleerde fynbosmediums vir ’n spesiale speldekussing of protea.

Die vraag word dikwels gevra of ’n mens die volume potgrond ’n bietjie kan vermeerder deur kompos van ’n goeie gehalte by te voeg. (Kompos is goedkoper as potgrond.) Dit gaan geen skade doen as jy twee derdes potgrond met een derde kompos meng nie.

Dit werk veral goed vir gemengde pottuine en vir plante wat geen spesifieke grondbehoeftes het nie.

Wenk: Spaar geld deur een derde van die onderste gedeelte van groot, hoë houers met ou plastiekkoeldrankbottels of growwe stukke polistireen-verpakkingsmateriaal te vul voordat die pot gevul word met potgrond. Dit werk heel goed as jy ’n plant met ’n vlak wortelstelsel soos ’n dwergaalwyn of ornamentele gras wil plant in ’n hoë, smal pot.

Nog byvoegings by potgrond

* Dis is altyd ’n goeie idee om ’n handvol beenmeel by potgrond in te meng. Beenmeel is ’n organiese misstof wat sterk wortelgroei aanmoedig en sal nie plantwortels brand nie. Voeg ook waterretensiekorrels volgens die aanwysings op die verpakking by.

* Stadig vrystellende, organiese korrelkunsmis is voordelig om ook by te voeg as jy byvoorbeeld ’n permanente plant soos ’n aalwyn, suurlemoenboom, katjiepiering, of ’n agave wil plant.

* Twee baie ligte mineraalmediums wat soms by potgrond gevoeg word om dreinering aan te help en waterhoudingsvermoë te verbeter, is vermikuliet en perliet. Albei is steriele mediums wat veral gebruik word in hangmandjies om hulle ligter te maak.

‘n Versameling ou tuinpotte is kry ’n nuwe baadjie met ‘n lekseltjie verf en nuwe plante. Elkeen is ’n miniatuurtuin op sy eie.

Kry jou potte reg

Hoewel potgrond goed dreineer, help ’n lagie klipgruis of klippe onderin die pot ook daarmee. Omdat baie potte redelike groot dreineringsgate het, kan jy stukkies skadudoek of broekiekouse eers oor die gate plaas voordat die dreineerlaag ingegooi word – dit keer dat klipgruis of grond uitwas. Sit groot potte (voordat hulle geplant word) op potvoetjies, bakstene of sementblokke sodat die water ongehinderd onder hulle kan wegloop en nie opdam nie.

Modderwater wat onder ’n pot uitloop kan ook soms duur stoepteëls of plaveiselblokke vlek. ’n Potpiering kan gebruik word om dit te keer, maar dit kan veroorsaak dat die potbodem dalk vir dae lank in water staan wat tot wortelvrot kan lei en die plant later sal laat vrek. Voorkom dit deur ’n dik lag klipgruis in die potpiering te gooi waarop die potbodem kan staan sonder om direk in water te wees.

Nog potwenke

As jy groot en swaar potte kies wat as fokuspunte êrens in die tuin of elders moet uitgestal word, los hulle in die gekose plek vir ’n paar dae om te kyk of jy tevrede is met die posisie voordat jy wegspring en verwoed plant. Om van plan te verander ná die tyd is uitmergelende werk as dit verskuif moet word! Hou ook skaal in gedagte – ’n mens raak soms weggevoer in ’n kwekery met al die mooi potte net om tuis te kom en uit te vind die ding pas nie deur die hek nie, of is hopeloos te klein en onopvallend vir die plek wat jy ingedagte had.

Dit gebeur met ons almal!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.