Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Roei vlooie uit met vars kruie

Januarie kan ’n slegte tyd vir troeteldiere wees, met ’n ontploffing van vlooie wat vinniger as normaal broei in warm, klam en vogtige weer.

Vir ’n huishouding met baie troeteldiere kan kommersiële vlooimiddels duur wees en chemiese middels is miskien nie die veiligste opsie nie.

Kruie staan aan die voorpunt van ’n natuurlike benadering as dit by die bestuur van vlooie kom, tesame met deeglike huisskoonmaak. Stofsuig matte, rusbanke, stoele, kussings en matrasse, en was troeteldiere se beddegoed op ’n weeklikse grondslag om vlooie onder beheer te hou. Plaas die inhoud van die stofsuier in ’n sak en verbrand dit.

Koorskruid bevat piretrien wat vlooie verlam of doodmaak.

Aromatiese kruie, soos roosmaryn, laventel, sitronella pelargo­nium, piretrum, koorskruid, als en kattekruid, sal die vlooie afstoot as dit in spuitmiddels, poeiers­, afwerende sakkies of troeteldierkussings gebruik word. Die madeliefie-agtige blomme van piretrum en koorsblare bevat natuurlike piretrien wat vlooie doodmaak of verlam. Piretrien kan onttrek word deur ’n warm aftreksel te maak wat (as dit koeler is) as ’n spoelwater vir honde gebruik word.

Hokke en slaapplekke kan vry van vlooie gehou word deur vars of gedroogte polei, laventel, als of kattekruid by die beddegoed te voeg of kruiesakkies te gebruik. Polei moet wel met omsigtigheid gebruik word, veral vir katte, aangesien dit nierbeskadiging kan veroorsaak.

Plant polei tussen plaveisels of as ’n grondbedekking, en koorskruid en piretrum, madeliefies, roosmaryn en laventel in tuinbeddings. Hierdie plante bevat sekere olies en verbindings waarvan vlooie nie hou nie en probeer vermy.

Laventel kan in spuitmiddels en poeiers gebruik word om vlooie af te weer.
Gebruik gedroogte, gepoeierde roosmaryn saam met koeksoda om matte, meubels en beddegoed skoon te maak.
Vryf kattekruid oor jou hond voor en ná ’n wandeling.

Kruiepoeiers

Droog die geselekteerde kruie en maal dit tot ’n poeier. Vir troeteldiere moet jy dit spaarsamig aanwend op die hare of pels, veral om die nek, rug en maag, en kam dit goed deur. Doen dit ’n paar keer per week, weg van die huis af.

Voeg die poeier by koeksoda en vryf dit in die matte (met ’n harde borsel), meubels, beddegoed vir troeteldiere en enige ander plek waar jy dink vlooie kan wees. Stofsuig deeglik. Die koeksoda absorbeer ook troeteldierreuke.

Kruie vir spuit- en spoelmiddels

Maak ’n roosmaryn- of laventeldip vir honde. Gooi ’n emmer vars kruie in kokende water en laat dit vir minstens 20 minute week, sif en verdun met warm water. Wanneer die water genoegsaam afgekoel het, gooi die mengsel oor jou hond en laat dit natuurlik droog word.

Nadat die hond gebad is, kan ’n sterk aftreksel van kattekruid by die spoelwater gevoeg word.

’n Piretrien-spoelmiddel moet gebruik word sodra dit koel genoeg is sodat die piretrien ’n effek het. Maak seker dat die troeteldier tot op die vel nat is. Wanneer die pels goed klam is, spoel dit met ’n sterk straal water terwyl jy die pels kam om die vlooie wat verlam of dood is, uit te borsel.

Sakkies en strooi

Maak ’n sakkie van goiingsak of moeselien of vul ’n ou kussingsloop met gedroogte laventelblomme en blare en suurlemoenskil. Plaas dit in die hok of naby die slaaparea vir troeteldiere.

Alice Coetzee

Verfris ná ’n maand met vars gedroogte kruie. Kattekruid droog ook goed en kan bygevoeg word in ’n sakkie wat vlooie afweer.

Die vlooi-afwerende effekte van kruie wat as poeier, sproei of wasmiddel gebruik word, duur nie baie lank nie, wat beteken dat behandelings gereeld herhaal moet word totdat die probleem onder beheer is.

Maklik om kruie te kweek

  • Roosmaryn is ’n struikagtige, meerjarige plant wat die beste groei in volson, in grond wat goed dreineer. Gereelde snoeiwerk voorkom dat dit houtagtig word.

Dit is ook ’n uitstekende kookkruid vir die geur van hoender en lamsvleis, en ’n tee van die blare help om spanning te verlig.

  • Margaret Roberts se laventel en Grosso is die doeltreffendste vlooi-afwerende laventels vanweë hul hoë kamferinhoud. Plant in volson tot halfskadu, in goed dreinerende grond. Plant die laventel in potte in tuine met swaar grond.
  • Piretrum en koorskruid is meerjarige plante wat in die somer massas wit madeliefies produseer. Hulle groei die beste in volson, in vrugbare grond met gereelde water. Gebruik die blomme en die blare.
  • Sitronella pelargoniumhet diep, groen blare wat aromaties is wanneer dit fyngedruk word en wat suurlemoengeurige plantolies vrystel wat vlooie afskrik. Dit groei in volson en hou van goed gedreineerde grond.
  • Besoek healthylivingherbs.co.za.
Meer oor:  Alice Coetzee  |  Tuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.