Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Ruk jou tuin reg vir lente

Lente is met ons en tuine begin weer tekens van lewe toon na ’n welverdiende winterblaaskans. Die kenners by Life is a Gardengee leiding oor watter tuintake in September op jou doenlysie moet wees.

Die lente is die perfekte tyd om met nuwe oë na jou tuin te kyk, ’n paar veranderinge aan te bring en te beplan vir die somermaande wat voorlê.

September is die ideale maand om kropslaai te plant.Foto: Life is a Garden

Wat kan ek saai?

In die somermaande is dit altyd voordelig om kraakvars slaaibestanddele uit die tuin byderhand te hê! September is die perfekte tyd om kropslaai, sprietuie en tamaties te saai.

* Plant kropslaai in ’n sonnige bedding. Die meeste soorte groei vinnig en jy kan binne ’n maand of twee begin oes. Dié met los blare is meer prakties omdat jy vir twee tot drie maande individuele blare kan oes. Ander soorte soos botterkropslaai of ysbergslaaiblare moet gepluk word wanneer die koppe vorm, dus is dit beter om elke drie tot vier weke nuwes te saai. Gebruik ’n vrugbare, goed gedreineerde groeimedium en sorg dat jy die sade 30 cm uitmekaar plant om goeie lugsirkulasie te verseker. Hou die grond klam.

* Sprietuie kan in volson of halfskadu geplant word en verkies ryk grond met baie kompos. Laat spasies van 10 cm tussen die plantjies.

* Moenie té bekommerd wees as jy tamaties wil plant, maar nie baie plek het nie. Baie soorte tamaties is dolgelukkig in plantbakke. Sorg net dat jou grond baie kompos bevat. Tamaties floreer in grondtoestande met lae stikstof-, hoë fosfor- en matige kaliuminhoud. Inkorporeer dus ’n omvattende kompossoort met dié bestanddele. Dit kan ses tot agt weke neem vir ’n bemeste blom om in ’n volwasse vrug te ontwikkel.

Clivias is inheems aan Suid-Afrika en die perfekte plant vir skadukolle in jou tuin.

Plant impatiëns

Die perfekte plant om leemtes in skadutuine mee te vul en wat lank spatsels helder kleur in die somer sal verseker, is impatiëns. Die nuwe Beacon Impatiens (Impatiens walleriana) is bestand teen donsige meeldou en sal nie sommer weens hierdie siekte inmekaarsak nie. Plant hulle in skadu of halfskadu in vrugbare, goed gedreineerde grond.

Spuit teen lelieboorwurm

Jy weet dat die lente uiteindelik aangebreek het wanneer die soet reuk van jasmyn in die lug hang en inheemse clivias hul vlam-oranje blomme begin oopvou. Hou net dop vir lelieboorwurm op jou clivias. Hierdie ruspe en hul larwes beskadig stele en blare en kan groot skade aanrig as jy nie betyds iets aan die saak doen nie. Wend elke twee weke ’n kontakinsekdoder aan sodra jy onraad merk.

Impatiëns is ideaal vir skadukolle wat opgekikker moet word.

Voed jou grasperk

Blaas in September nuwe lewe in jou grasperk met ’n deklaag bestaande uit gebalanseerde organiese materiaal en onkruidvrye grond. ’n Dun lagie is voldoende vir gevestigde grasperke om van enige oneweredighede ontslae te raak en jou grasperk te help herstel ná die ysige winterweer. Dit sal ook help om voedingstowwe aan te vul met ’n stikstofryke bemestingstof.

Wat om te snoei

Instandhouding is die hart van tuinmaak en September is ’n uitstekende tyd om botsels uit te knyp, van dooie blomkoppe ontslae te raak en te snoei. Dit is goed om dooie blomkoppe te verwyder, aangesien plante wat meer as een keer blom dit net sal doen as jy ou, dooie blomme verwyder. As jy die dooie blomme los, gaan hulle saad skiet en die plant sal nie nog blomme produseer nie. Sommige plante, soos daglelies, salie en josefskleed, het sappige, dun stele en jy kan sommer jou vingers gebruik om die dooie blomme te verwyder. Josefskleed word geplant vir hul loof. Deur die blomme te verwyder, sal die plante weliger groei.

Roossorg

Knyp vanaf middel-September jou hibried-teerose terug. Dit moedig nuwe groei rondom die basis van die stam aan, asook groener blare en wortelontwikkeling. Die blomsiklus is dan langer, wat beteken dat in plaas van net een of twee keer, die plante dwarsdeur die seisoen blomme sal dra. Knyp omtrent ’n derde van die uitloopsels terug. Maak twee keer ’n week nat en voed elke twee weke. Wees op die uitkyk vir plantluise, blaaspootjie, bolwurm en witroes en behandel soos nodig.

Wat blom?

Lente is in die lug en dit beteken dat baie van ons gunsteling-plante begin blom. Inheemse clivias met hul kenmerkende oranje blomme is een van hulle.

Hierdie plante verkies dit om onder bladhoudende bome of in skaduryke dele van die tuin te groei. Hulle is ook baie tuis in potte. Hou in gedagte dat clivias nie van direkte middagson hou nie en dat jy hulle teen ryp moet beskerm. Plant hulle in goed gedreineerde grond met baie organiese materiaal en rond af met ’n deklaag. Voed jou clivias voor en na die blomseisoen met ’n bemestingstof soos 3:1:5 wat vir blomplante geformuleer is.

Plant dit in ’n pot

Potte vol kleurvolle blomme is die ideale manier om enige deel van jou tuin, patio of balkon op te kikker.

September-wenners is rose, magrietjies, impatiëns en begonias. Al wat jy nodig het, is die regte ligging en genoeg plek vir ’n groot blombak.

Vir son:

* Kies die regte roos , verkieslik geurige, kompakte, siektebestande soorte wat sonder ophou blom. Vermy rose wat rank of groot struike vorm. Plaas dit in ’n pot waar dit baie son sal kry.

* Magrietjies is betroubare plante wat selfs in direkte son, hitte en arm grond floreer. Hoewel hulle net so mooi in ’n bedding vertoon, is hulle ook tuis in potte. Kies uit oranje, geel, mahonie of tweekleurige soorte, met enkel of dubbele blomme.

Vir koelte:

* Impatiëns aard goed in die skadu en is maklik om aan die gang te hou. Hulle floreer in potte en hangmandjies. Omdat hulle so lief vir skaduwee is, kan jy hulle in dele van jou huis aanhou waar ander plante nie gewoonlik sal oorleef nie. Daar is baie verskillende kleure beskikbaar. Onthou net dat hierdie plante goed gedreineerde grond verkies.

* Begonias is beskikbaar in skakerings van wit, pienk, geel en helderrooi. Hulle is gehard en maklik om in potte aan die gang te hou. Al wat jy nodig het, is ’n bietjie son, ’n bietjie water en baie liefde. Begonias verkies plekke waar hulle daagliks vol tot gedeeltelike oggendson sal kry en skaduwee in die middag. Sorg dat die grond goed dreineer.

Meer oor:  Blomme  |  Tuinmaak  |  Tuin  |  Lente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.