Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Saai nou somer se eerste oes

Die eerste taak voordat jy begin saai en plant, is om beddings voor te berei deur die grond los te spit sodat jy lug en kompos kan inwerk. Verpak kompos wat oor die winter ryp geword het in sakke.

Die nagte is nog steeds koel, wat beteken dat die grondtemperatuur ook laag is. Die eerste gewasse wat gesaai kan word, is beet, wortels, kool, blaarslaai, ertjies en ook Switserse snybeet omdat dit in laer grondtemperature ontkiem. Saai slegs in klam grond en hou die grond konstant klam tydens ontkieming.

Hallo slaaiblaar! Blaarslaai groei die beste in koeler toestande.

Vir langer warmseisoen-gewasse, soos tamaties, eiervrug en soetrissies, is dit veiliger om in saadbakke te saai of saailinge uit tuinsentrums uit te plant. Daar is altyd ’n moontlikheid van ’n laaste kouefront, kyk dus na weervoorspellings en wees bereid om saailinge met ’n rypdoek te beskerm.

Teen die middel van September behoort die grond warm genoeg te wees om bossiebone, murgpampoentjies en rankgroentesoorte soos boontjies, komkommer, suiker-ertjies, skorsies en botterskorsies te saai.

Vertikale tuinmaak is nie net ’n wonderlike plekbespaarder nie, dit help om swamsiektes soos skimmel op komkommers en tamaties wat nie van water op hul blare hou nie, te verminder. ’n Vasgemaakte plant se lugsirkulasie is beter en dit is makliker om nat te maak sonder om die blare nat te maak.

Maak ’n Amerikaans Indiaanse tipi deur ’n sirkel met vyf stokkies aan die bokant vas te maak, of gebruik ’n obelisk vir rankboontjies, kleinpampoentjies of kersietamaties.

Maak ’n fokuspunt daarvan deur dit in die middel van ’n bedding te plaas.

Teen die laaste week van September kan die finale saai gedoen word – tamaties, eiervrug, rissies en soetrissies, suikermielies, pampoene en spanspek.

Met hul lang groeityd het dié groente vrugbare grond nodig wat goed met gekomposteerde of verrotte mis verryk is.

Opvolging van aanplantings

Moet nie alles op een slag saai nie, sê Marlaen Straathof van Kirchhoffs, maar laat ruimte vir opeenvolgende saai. Ruimte sal ook beskikbaar word namate wintergewasse geoes word.

Blaargroente kan twee weke uit mekaar gesaai word, wortelgroente vier weke uit mekaar en bossiebone drie weke uitmekaar. Saai vrugvormende groente ses tot 12 weke ná die eerste plant.

Ruimtebespaarder: komkommers is maklik om vertikaal te kweek.

Saaiwenke

Dis dalk voor die hand liggend, maar volg die instruksies agter op die saadpakket. Al die nodige inligting is daar, aanbevole saaidiepte, afstand, tyd om te oes, son- of skaduvereistes en watter tyd van die jaar jy kan saai.

Volgens Straathof bepaal die grootte van die saad gewoonlik die saaimetode en die saaidiepte. Hoe fyner die saad, hoe vlakker word dit gesaai, met baie fyn saad wat eenvoudig op die grondoppervlak gesprinkel en vasgedruk word.

Fyn saad soos wortels, radyse en blaarslaai is geskik vir rye, sê Straathof, maar moenie te dig saai nie en dun dit uit. Individuele gate werk die beste vir groot saad soos dié van pampoen, of saad van beet en spinasie, wat baie sade in een “klomp” is.

Haar raad is om elke dag saadbeddings en saailinge nat te maak. “ ’n Gieter of ’n fyn sproeier sal die saailinge nie wegspoel nie. Begin en eindig altyd die natmaakproses weg van die bedding af omdat die groot druppels die saailinge plat maak.”

Goeie metgeselle: groente en kruie meng goed in netjiese, formele beddens.

Tuintake

Gee meer water namate dit warmer word en voed saailinge elke twee weke met ’n vloeibare voedingstof op halfsterkte.

Waarom nie jou eie vloeibare kunsmis maak nie? Gebruik ’n klein sakkie (van lemoene, uie, ens.). Vul dit met ’n groot handvol mis, bind dit toe en sit dit in ’n vullisblik vol water. Laat die sak in die water hang deur dit vas te bind aan ’n stokkie bo-oor die bak. Bedek en roer die water een keer per dag. Ná ’n week is dit gereed om te gebruik. Verdun met 50% water.

  • Pas op vir plantluise en gebruik ’n organiese insekdoder en sit organiese slak-aas soos Ferramol uit om saailinge te beskerm.Besoek kirchhoffs.co.za vir meer inligting.
Meer oor:  Alice Coetzee  |  Tuinmaakwenke  |  Tuine  |  Tuinmaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.