Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Sandui, rooikwas vir skadu’s

Ons is baie keer so behep met die lenteblommende bolle van die Noordelike Halfrond dat ons skoon vergeet van ons eie land se skatkis van bolplante wat ook in die lente blom.

’n Stewige plaat rooikwaste aan die blom.

Sandui (Veltheimia bracteata)

Die pragtige sandui se natuurlike verspreiding is in die woude, ruigtes en kusbos van die Oos-Kaap. Die groot bolle stuur digte are buisblomme aan lang stele (50-60 cm) uit vanaf die laatwinter tot September. Blomkleure kan afhangende van natuurlike variasie wissel van bleekgroen, liggeel, sagte pienk tot rooipienk (laasgenoemde is meer algemeen), en hou sowat ’n maand lank. ’n Kenmerkende eienskap is die soms groen punte of groen spikkeling by toe blommetjies. Wanneer die blomme oopgaan, lok hulle suikerbekkies.

Die bolle groei aktief in die winter, waarna die breë en glansende lintvormige blare met hul mooi gekartelde rante tydelik afsterf in die midsomer om ná ’n kort rustyd weer met nuwe blare vervang te word wat dan ’n breë en welige roset aan die basis van blomstele vorm. Hierdie gawe eienskap sorg dus vir ’n welige voorkoms in ’n skadutuin selfs al is die blomfase verby.

In die hoogsomer word die blomme gevolg deur saadkapsules vol swart sade wat geoes kan word sodra die kapsules droog en papieragtig is. Die saad kan in die herfs gesaai word in ’n mengsel van growwe riviersand en fyn bas, en ontkiem baie suksesvol. Die bolle kan ook vermeerder word deur sybolletjies wat vorm vanaf die moederbol te verwyder en dadelik oor te plant.

Sanduie in blom is ’n pragtige gesig wanneer dit in groot groepe onder bome geplant word, maar is ook mooi in potte op ’n skaduryke patio en as binnenshuise plante.

’n Stewige plaat rooikwaste aan die blom.

Rooikwas (Scadoxus puniceus)

Die rooikwas se natuurlike verspreiding is in die noordelike provinsies, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap tot diep in die tropiese dele van Afrika. Die bolplante groei in grasveld, onder bome en ruigtes. In die blomtyd in die lente verskyn blomhofies van sowat 15 cm in deursnee wat soos groot verfkwasse lyk. Elke blom aan ’n lang blomsteel (50-60 cm) word omring deur persrooi kelkblare en vou oop om met ’n massa klein skarlakenrooi blommetjies met heldergeel stuifmeeldrade te spog. Nektar-eters kuier dan graag naby hulle. Kort nadat die eerste blomstele met hul beskermende kelkblare verskyn het, volg die lintvormige, glansende groen blare aan blaarstele. Die bolle is rustend in die winter.

Later verskyn bloedrooi vlesige bessies – ’n gunstelingsnoephappie vir voëls en apies. Die pêrelagtige sade binne-in moet vars gesaai word en sal ’n paar jaar neem om tot blomwasdom te kom. ’n Vinniger manier om dié plante te vermeerder sal wees om die bolle elke paar jaar uit te grawe en te verdeel. Rooikwasbolle is giftig, maar word tradisioneel wel medisinaal gebruik om verskeie kwale te behandel. Wees maar bedag daarop dat bolle wat sommer langs die pad te koop aangebied word, dalk gestroop is uit ’n natuurlike habitat. Kwekerye by botaniese tuine en kwekerye wat spesialiseer in inheemse plante sal hulle in voorraad hê.

As jy nie bome of ruigtes het om sanduie te beskadu nie, plant hulle dan aan die suidekant van die huis soos hier.

Kweekgebooie

Die riglyne hieronder geld vir sowel die sandui as rooikwas:

  • Plant die bolle in plekke met sagte oggendson en middagskadu.
  • Berei goeie leemgrond goed voor met kompos en ’n handvol beenmeel. Indien jy probleemgrond het, plant hulle in potte.
  • Moenie te diep plant nie; albei bolsoorte hou daarvan om hul “skouers” so ’n aks bokant die grondvlak te hê.
  • Verskaf ’n deklaag van organiese materiaal om die wortelstelsels om die grond koel en klam te hou en gee gereeld water in die somer wanneer aktiewe groei sigbaar is.
  • Voed bolle in die skadutuin met stadig vrystellende 3:1:5 korrelkunsmis in die somer en dié in potte gereeld met wateroplosbare misstof wat ’n seewierbasis het.
  • Die sandui en die rooikwas hou net soos clivias daarvan om in digte polle te groei. So, moet hulle dus nie te gereeld verdeel nie, aangesien dit blomvorming kan strem.
  • Wees op die uitkyk vir naakslakke, slakke en lelieboorders wat die plante sal beskadig.

Sit ’n bietjie skop in jou skadukolle met sanduie en rooikwaste wat ’n mens hierdie tyd van die jaar by kwekerye reeds in die blom kan raakloop. Kombineer hierdie bolplante met ander inheemses soos clivias en plectran­thus-soorte soos Plectranthus ‘Mona Lavender’.

Meer oor:  Anna Celliers  |  Blomme  |  Tuinmaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.