Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Sit lood in jou jakobregops

Die blomme wat die meeste lof verdien in ’n hoogsomertuin het dié elemente in gemeen: hulle moet maklik gekweek kan word van saad wat goedkoper is as kommersiële saailinge, hulle is hittebestand en waterwys en hulle gee maande lank vir jou ’n lushof van helder kleur (en armsvol pluk- en snyblomme)

Jakobregops

Deesdae kan ons ’n bietjie ontspan wanneer ons zinnias plant. ’n Meer siektebestande, moderne kruisings van die outydse jakobregops (Zinnia), wat ons oumas destyds gesaai het, is nou ontwikkel. Daar is ’n variasie van hooggroeiende jakobregops met enkel-, halfdubbel en dubbelblomme wat vir jou vase bestem is en dwergvariëteite om vurige kleur aan blomrandakkers van klein, sowel as groot tuine te verleen. Jy kan selfs net een kleur plant as ’n helder, kakelbont mengsel jou nie aanstaan nie.

Die mooie keëlblom wat ook medisinale gebruike het.

Die blomme is nektarryk en magnete vir bestuiwers soos skoenlappers en bye – nog ’n goeie rede om jou blom- en groentetuin met hulle te vul.

Kies vir hulle ’n sonkolletjie in goed gedreineerde, kompos verrykte grond.

Maak die plante gereeld op grondvlak nat, maar nie oormatig nie. Verwyder getrou dooie blomme van die langer variëteite om meer blomme aan te moedig. Die dwergvariëteite is meestal selfreinigend.

Jakobregops is boonop nie giftig nie en dus veilig vir tuine waar kinders en troeteldiere speel. Pluk die blomme sodra die skutblare begin oopgaan – hulle hou goed as snyblomme in water.

’n Vurige, bloedrooi jakobregoppie.

Baardangeliere

Wanneer ’n mens aan kothuistuine met hul welige blomrand­akkers dink, is die geurige baardangeliere (Dianthus barbatus) in alle skakerings van pienk, rooi en wit een van die eerste plante wat waarskynlik onthou word. Al word die plante meestal as jaarplante beskou, is hulle eintlik maklik-om-te-kweek tweejaarplante. Hulle het nie fiemies oor grond nie, mits dit goed dreineer en is bestand teen hitte, koue en reën. As jy daarna omsien, sal hulle die grootste deel van die jaar blom.

Saai jou baardangeliersaad so gou moontlik om die beste nut uit hul lang blomtyd te kry. As jy hulle bietjie pamperlang, behoort jy minstens drie oeste plukblomme te kry voor die winter weer toeslaan.

Baardangeliere hou van volson. Maak slegs diep nat as dit droog is en sodra die plante gevestig is en goed groei. Sny die ou blomstele en sytakke ná ’n blomfase sterk terug om nuwe groei aan te moedig. Voed deeglik daarna en maak goed nat.

Die romantiese en uiters plukbare baardangelier.

Keëlblom

Dié outydse spesie (Echinacea purpurea) van die mooi bladwisselende meerjarige het ’n opvallende keëlvormige hart met effens hangende perspienk kroonblare. Dit was nog altyd ’n gewilde somerplant. In die somer lok dit skoenlappers en nadat dit geblom het, bly die saadkoppe aan as kos vir voëls, tot die plant in die winter terugsterf en rustend raak.

Dié regopgroeiende plant, wat dik polle kan maak, is op ’n redelike groot skaal gekruis tot kompakter, stewiger variëteite. Jy sal hulle kry in ’n versameling warm kleure, waaronder wit, geel, salmpienk en dieprooi. Dié nuwe plante is ewe bestand teen hitte en droogte. Hulle is blomryk met sterk blomstingels wat goed in ’n blompot hou.

Echinaceas hou van volson of ligte skadu en grond wat goed dreineer. Maak aanvanklik gereeld nat en dan minder gereeld, maar lei diep nat in die somermaande. Bemes in die lente en weer in die somer. Verwyder dooie blomme deur die stingels terug te sny om meer blomme aan te moedig.

Nasorg

* Hou die grond klam totdat die saad ontkiem

* Dun saailinge uit wat te na aan mekaar opgekom het sodra hulle sterk genoeg is (gewoonlik kan jy twee regte blaartjies opmerk). Plant hulle verder uit mekaar in aparte potte of ander saadkissies.

* Gee jou jong saailinge ’n hupstoot met ’n oplosbare misstof met ’n seegrasbasis soos Kelpak Organic Seaweed Concentrate

*  ’n Paar dae ná die uitdunning kan die plantjies na ’n sonniger plek verskuif word om sodoende ’n bietjie taaier te word, sterk genoeg om uitgeplant te word

* Moenie dat jong saailinge in houers ooit heeltemal uitdroog nie. Hou ook ’n oog uit vir slakke wat al jou moeite in een nag kan opvreet.

Kweek self jou blomplante van saad af in kissies vir jou somertuin:

* Maak ’n silwerskoon saadkissie (of ou plastiekpotte) vol met ’n kommersiële saailingmengsel wat by kwekerye en ysterwarewinkels te kry is. Maak die holtes sowat kwart vol met ’n grondmengsel.

* Maak die grond klam en druk liggies vas met ’n plankie.

* Versprei die saad egalig oor die grondmengsel.

* Bedek die saad met ’n dun lagie van die grondmengsel en druk weer liggies vas. Volg die aanwysings oor die saaidiepte agterop die saadpakkies en moenie te diep plant nie – dis hoekom saad soms nie ontkiem nie!

* Maak die saadkissie versigtig nat met ’n fyn gietersproeikop of newelsproeibottel. In die geval van baie fyn sade, kan die kissie van onder af natgemaak word deur dit ’n tydjie in ’n wasbak met ’n bietjie water te laat staan.

* Sit dit op ’n warm, beskermde plek in die skadu.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.