Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Skakerings van speldekussings

Speldekussing (Leucospermum) is ’n geliefde struik wat van Julie tot Desember ’n glansryke beeld in tuine oral in die land bied. Die oorspronklike spesie kom in skakerings van oranje tot rooi, met baie kultivars in ander dele van die wêreld.

Leucospermum Cordifolium, die gewildste speldekussing, gee jou massas langdurige snyblomme gedurende die lente.

Leucospermum is ’n genus van ongeveer 50 spesies blomplante in die familie, Proteaceae. Die meeste spesies is inheems aan die Wes-Kaap. As jy weet hoe om vir hierdie lieflike speldekussinghibriede soos Leucospermum Succession te sorg, sal dit jou maande lank met baie snyblomme beloon. Vandeesweek kyk ons onder meer na voeding en snoeigebooie as dit by dié spesiale plante kom.

Onkruid

Die area om die plante moet vry van onkruid wees, maar moenie om dit skoffel nie. Trek onkruide eerder met die hand uit sonder om die grond enigsins te versteur. As dit voel asof jy die plant gaan ontwortel, sny eerder die onkruid teen die grond af of druk met jou een hand plat op die grond om die onkruid en trek dit saggies met die ander hand uit.

Voeding

Speldekussings is aangepas om in arm grond te groei met ’n wortelstelsel wat heeltemal in staat is om voedingstowwe te gaan soek. Die plante is uiters sensitief vir addisionele kunsmisstowwe.

  • Moenie beenmeel gebruik nie.
  • Moenie fosfate in enige vorm gebruik nie.
  • Moenie sampioenkompos, hoendermis of enige ander kraalmis gebruik nie.
Leucospermum Tango is ’n medium grootte struik met ’n digte groei gewoonte, wat blomme aantreklik maak vir voëls.

Snoeigebooie

’n Speldekussing word ’n redelike groot struik (tot 1,5 m hoog en 2 m breed, afhangende van die spesie of hibried) en produseer baie spreidende sytakke wat die bloeiwyses op die punte dra. Om ’n plant met ’n netjiese vorm vir ’n lang tyd te geniet, is basiese snoeiwerk nodig:

  • Sny die blomme af vir die vaas of as hulle afgeblom het deur die steeltjie terug te sny totdat daar sowat 10-15 cm oorbly op die plant.
  • Sny krom en swakgroeiende stamme in die middel van die bos uit om lig en lug toe te laat. Dit verminder die moontlikheid van peste en plae aansienlik.
  • Verwyder sygroei wat op die grond lê of afwaarts groei.
  • Snoei indien nodig in die laatwinter in die eerste jaar ná die plantery en dan elke jaar in die lente direk ná die blomtyd. Deur die blomme gereeld te pluk is ook ’n manier om die plante mooi te vorm.
  • Moenie in ouhout, veral waar die blare nie gesond en groen voorkom nie, insny nie.

Raad vir ryptuine

Goed gevestigde plante kan ligte ryp verduur, maar die blomme sal dalk beskadig word, so maak maar voorsorg. Dis ook beter om die plante in koue klimate waar ryp wel voorkom in die lente te plant. Beskerm jong plante (die eerste twee jaar) met rypdoek.

Anna Celliers

Iets om in gedagte te hou

Selfs al is ’n tuin met baie ruimte jou nie beskore nie, kan jy steeds jou speldekussings in potte op ’n sonnige plek kweek en die blomme geniet solank hulle daar is. Behandel hulle soos enige ander seisoenale blomplant en gooi dit op die komposhoop of gee weg aan ’n tuinvriend wat wel plek daarvoor in die tuin het. Onthou: As ’n mens die prys van ’n groot bos vars snyblomme opweeg teen die prys van ’n hartsplant vol blomknoppies wat die een ná die ander oopgaan en lank bly blom, het jy nog steeds waarde vir rande gekry!

Meer oor:  Blomme  |  Speldekussings  |  Tuin  |  Anna Celliers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.