Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Skool vier Tuindag, samel geld in vir spesiale skool

“Sing jy van blomme of sing jy van geld?

”Met ’n see van blomkranse en glimlagte het die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad Vrydag sommer albei gedoen.

Leerlinge van die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad het Vrydag Tuindag gevier deur gewone klere aan te trek en blomkranse te dra. Foto: Jaco Marais

Dié leerlinge het vrolik Tuindag gevier én geld vir ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes ingesamel. Hulle het in gewone klere skool toe gekom nadat hulle R10 elk moes opdok.

Die geld gaan aan die Jan Kriel-skool vir kinders met spesiale behoeftes in Kuilsrivier geskenk word, verduidelik Lize-Mari Schultz, die onderwyseres wat die projek georganiseer het.

Tuindag, wat amptelik Sondag gehou word, is ’n inisiatief van Candide, ’n gratis toepassing wat tuiniers met ander plantliefhebbers, openbare tuine en kwekerye verbind. Die toepassing bevat ook tuinmaakwenke en inligting oor plante.

Blomkrone. Voor sit Eddie Quixley en agter staan, van links, Lize-Mari Schultz (onderwyseres), Monique Fourie, Lillian Lekota, Chrystal Conradie en Marais Groenewald. Foto: Jaco Marais
’n Leerling omring deur blomme. Foto: Jaco Marais

Schultz vertel die organiseerders van Tuindag het ’n ruk gelede die skool besoek en leerlinge geleer om blomkranse te maak.

“Hulle wou baie graag hê dat ons die kinders van die dag vertel en hulle opgewonde daaroor maak.”

Die leerlinge moes tuisgemaakte blomkranse skool toe bring. Daar was ook ’n kompetisie met pryse vir die mooiste krone, en die klas met die meeste krone.

Dr. Fanie Herholdt, direkteur van die Jan Kriel-instituut, sê die Laerskool Jan van Riebeeck het die insameling op grond van ’n versoek onderneem. Die instituut reël geldinsameling vir die skool. Herholdt verduidelik dat die skool geld van die regering en uit skoolfondse ontvang, maar dat dit nie genoeg is nie.

“Daarom het ons weldoeners, goeie mense soos in die Laerskool Jan Van Riebeeck, wat uitreik,” sê Herholdt.

Jan Kriel, vir kinders met spesiale behoeftes, het 560 leerlinge van gr. R tot gr. 12, en skenkings word benut vir onder meer maatskaplike en sielkundige hulp en vir vervoer.

Die atmosfeer was Vrydag vrolik by die Laerskool Jan van Riebeeck. Schultz meen Tuindag kan dalk ’n tradisie by die skool word.

“Die leerlinge leer dat ons so baie het om voor dankbaar te wees – hetsy die natuur of dit wat ons elke dag het – dat ons ietsie kleins kan doen, ’n gebaar net om dankie te sê,” sê sy.

  • Besoek www.gardenday.co.za vir meer inligting of @GardenDaySA op Facebook, Instagram en Twitter. Deel jou Tuindagviering op sosiale media met @GardenDaySA en #GardenDaySA.
Die gr. 1 K-klas saam met Claudia Josephus, ’n onderwyseres. Foto: Jaco Marais

    Meer oor:  Tuindag  |  Kaapstad  |  Geldinsameling
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.