Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Sprankelende speldekussings

Van Julie tot November blom een van Suid-Afrika se kosbaarste fynbosstruike, bekend as die speldekussing (Leucospermum). En wanneer ’n mens die voorreg het om van die pragtige blomme vir die vaas te kan pluk, kom daar so ’n gevoel oor jou dat alles darem nog wraggies reg is in ons wêreld!

Leucospermum cordifolium word gekenmerk deur sy klomp blomme wat besonder helder bloeiwyses aan die einde van elke stam vorm.

Die speldekussing (ook met ander minder vleiende volksname soos bobbejaanklou en luisiesbos) is wyd gehibridiseer uit onder meer die inheemse spesie Leucospermum cordifolium en word in verskeie lande vir die internasionale snyblommark gekweek. Omdat speldekussings deel is van die fynboskoninkryk het hulle dalk die onverdiende reputasie dat hulle “moeilik” is en net in die Wes-Kaap groei. Dis tyd om dié mite nek-om te draai, want hulle groei betreklik maklik en ewe suksesvol in ander klimaatstreke en kan selfs ligte ryp weerstaan wanneer hulle gevestig is.

Só kweek jy ’n speldekussing

In ’n natuurlike habitat groei dié lede van die Proteaceae-familie in arm grond, met ’n lae pH (effens suur – tussen 5 en 6) wat vinnig en baie goed dreineer. Die plante verkies oor die algemeen droë, warm somers en koue, nat winters. Maar die goeie nuus is dat die moderne hibriede ook in somerreënstreke floreer.

Leucospermum Tango is ’n medium grootte struik met ’n digte groei gewoonte, wat blomme aantreklik maak vir voëls.

Grond:Slegte dreinering is ’n resep vir ’n ramp, hoewel daar variëteite is wat meer verdraagsaam is in kleierige grond as ander. Berei die plantplekke goed voor deur mildelike vragte kompos wat laag in fosfate is in die uitgegraafde grond in te werk. Om bloot ’n plantgat te vul met kompos is nie ’n goeie idee nie, aangesien jy miskien ’n reservoir geskep het waarin water kan staan wat wortelvrot kan veroorsaak. Effens opgeboude beddings of die opwerk van kleigrond in sagte hellings sal dreinering verbeter. Jy kan ook ’n bietjie landboukalk gebruik om swaar kleigrond op te breek wanneer die plantplekke voorberei word.

Plantplek: Volson is noodsaaklik vir baie blomme. Speldekussings sal yl groei en sukkel om te blom in selfs ligte skaduwee.

Water: Speldekussings en ander fynbosplante is baie droogtebestand, maar nie voordat dit nie eers goed gevestig is nie. Lei dadelik nat ná die plantwerk en dan gereeld daarna. Die grond moet aanvanklik vogtig gehou word, maar nie sopnat nie. In die meeste leemgronde kan jy twee maal of drie maal per week natgooi in droë weer. In sandgrond en in potte moet die jong plante elke dag water kry. Drupbesproeiing wat grondlangs natmaak, is beter as oorhoofse besproeiing – nat blare is ’n uitnodiging vir swamsiektes. As die plante eers gevestig is en goed groei, sal hulle oorleef sonder enige water behalwe ’n slukkie een maal per week as die somer op sy warmste is.

Anna Celliers

Deklaag:Plaas ’n deklaag van bas, strooi of ou blare om die plante om die grondwater langer te behou, die wortels koel te hou en onkruid te beheer. Moenie sampioenkompos gebruik nie, dit het meestal ’n hoë konsentrasie fosfate.

  • Volgende Saterdag kyk ons onder meer na onkruide en snoeigebooie rakende dié kosbare fynbosstruike.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.