Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vetplante bied vlietende plesier

Dié tyd van die jaar blom heelwat vetplante, maar is dit goeie nuus as hulle eenmaal-bloeiend is?.
“Aechmea fasciata” is ’n gewilde bromelia wat ook ’n monokarpiese plant is.

Eenmaalbloeiende plant is soos wat sy naam aandui – een wat blom, saadskiet en dan gaan die moederplant dood. Teenoorstaande is die polikarpiese plant, wat seisoen ná seisoen blom en saadskiet gedurende die plant se leeftyd. Wanneer ek hier by my kantoorvenster uitkyk op ’n klipgruisbedding vol van my gunstelingvetplante,­ sien ek drie eenmaalbloeiende plante waarvan party van die vlesige rosette skouspelagtige blomme gemaak het.

Wat die inheemse geelplakkies (Kalanchoe thyrsiflora) betref, is dit nie ongewoon nie. Die volwasse rosette – met hul groot, grysgroen blare met ’n dieprooi rand wat soos die boeke van ’n konsertina agter mekaar gevou sit – blom elke winter. Elke roset lewer een kiertsregop, bleekwit blomsteel van tot 1,5 m hoog, met subtiel gegeurde, nektarryke blomritse. Suikerbekkies is gaande daaroor.

Die oorspronklike roset gaan dood nadat die plant geblom het, maar word vervang deur ’n ryk oes van basale sylote wat om die moederplant vorm en soms ook bo die moederroset uitloop. Dis belangrik vir die oorlewing van die spesie. Die sylote grawe ek ná elke winter uit, verdeel hulle en plant hulle terug wanneer hulle weer wortels gevorm het. As daar nie wortels is nie, kan jy die jong rosette met ’n stuk stam laat wortel skiet in klam riviersand. Party groei vinniger en blom dan weer, terwyl die stadiger groeiers weer hul beurt oor twee jaar sal kry.

Die sterwende roset sorg ook dat sy voortbestaan – by die ogies aan die ellelange blomsteel verskyn daar ook blaartjies en selfs volmaakte miniatuurrosette.

Knip dus die steel ná die blomtyd af en maak korterige steggies daarvan. Sny sowat 5 cm tot 7 cm onder elke blaar, laat die steggies vir ’n week lê sodat die snywonde kan uitdroog en plant dan in ’n klam mengsel van riviersand en fyn kompos of ’n kommersiële saailingmengsel. Hou die grond klam en die steggies warm in ’n beskutte plek, weg van direkte sonlig.

Sodra die steggies wortels gemaak het, kan dit meer water kry en indien nodig behandel word met ’n swamdoder teen wortelvrot, wat ’n probleem kan wees.

Die blom van ’n keiserskroon (Aeonium).

Skielik, ’n goudgeel blom . . .

My keiserskroon (Aeonium abo­reum “Atropurpureum”) is ’n robuuste, veel vertakte plant met welige rosette, geil van dieprooi blare en heldergroen senters. Die plant is sowat ses jaar oud en vanjaar het een van die donker rosette amper oornag ’n piramidale blom gelewer van rye klein, goudgeel madeliefieblomme. Dit het omtrent die bye gelok!

Net een van die rosette het geblom en daar is reeds tekens dat die vetplantblare gaan verskrompel, terwyl al die ander nou pragtig en welig is. Dis by uitstek ’n winterpronker. In die somer is die blaarkleure nie so helder nie en die rosette kleiner.

Dis dan wanneer die plant begin slordig lyk, benerig raak en nie goed vertak nie. Tuiniere sal dit ongelukkig moet onthoof. Sny bloot al die koppe (rosette) met kort steeltjies aan af, laat lê hulle vir ’n paar dae op koerantpapier sodat die snywonde kan uitdroog en bewortel hulle in growwe, klam riviersand. Moenie jou oor die moederplant bekommer nie; die kaal stamme sal gou weer uitloop en welig groei.

’n Roset van ’n Agave attenuata besig om sy blompaal uit te stoot.

Daar is ’n blompaal ook!

Agaves, soos die pragtige sonvanger (Agave attenuata), is ook eenmaalbloeiend.

Agaves doen dit wel nie gereeld nie; daar word bespiegel dat sommige spesies tussen 20 en 50 jaar kan neem om te blom. Voordat dit gebeur, ontwikkel ’n klomp sylote of nuwe rosette aan die plantbasis en dan word alle energie gebruik om ’n ellelange “blompaal” uit te stoot.

My moederplant, wat al meer as tien jaar oud is en destyds saam met my getrek het uit my vorige tuin, het begin blom met ’n baie lang en dik bloeiwyse, oortrek van sagte, geel blommetjies.

In die nodes van ’n blomsteel van die geelplakkie het perfekte miniatuurplantjies ontwikkel.

Die gewig van die blomsteel laat dit neerbuig grond toe in ’n sierlike boog, wat aan die plant sy ander volksnaam, swaan-se-nek, gee. Om so ’n natuurverskynsel gade te slaan (glo my, ek gaan kyk kort-kort daarna) bring elke keer verstomming en selfs ’n knop in die keel. Die bloeiwyse het nou reeds ’n dramatiese boog oor ons tuinpaadjie gemaak en die een wat soggens die koerant gaan haal by die hekkie, begin daaroor mor, aangesien hy daarteen vasloop. Maar hy moet bly totdat die verskynsel verby is en dit omval.

Die geelplakkie (Kalanchoe thyrsiflora) se lang blomstele.

Al teen die reuseblomsteel af is honderde blommetjies wat later saad en selfs miniatuurplantjies gaan word.

Ander plante wat ook eenmaalbloeiend van aard is, sluit in bromelias, sekere palms, wilde piesangs, Furcraea foetida en Sempervivum spp.

Foto:

Meer oor:  Anna Celliers  |  Vetplante  |  Tuinbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.