Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vetplante het sy hart gesteel

Wanneer die Pool-egpaar van Fauresmith hul voordeur oopmaak, kyk hulle vas in die ou lokomotief, ’n bekende baken in die middel van hierdie Vrystaatse dorp.

Theunis Pool (50), ’n groot vetplantgeesdriftige, het drie jaar gelede sy werk in Kimberley bedank. Vier maande later, in Januarie 2016, het hy en sy vrou, Judy (51), in ’n pragtige ou huis wat hulle wil restoureer, ingetrek. Al sy vetplante het saamgekom, “selfs my grond”. Theunis, ’n gebore en getoë Kimberliet, wou aanvanklik gaan boer, maar toe besluit hulle om eerder die dorpshuis te koop. Voorheen het hy vir ’n kwarteeu in die stad by die departement van korrektiewe dienste gewerk.

Theunis Pool van Fauresmith by van sy vetplante. Foto’s: Coreli Roos

“In Fauresmith kontrakteer ek vir konstruksie-, herstel- en onderhoudswerk. Ons huis se restourasie is ’n langtermynprojek wanneer ek vry is!” Judy se wortels lê in Prieska, waar sy as kind baie tyd by haar Kruger-grootouers bestee het, “maar my hart is in Kimberley” waar sy in 1981 begin skoolgaan, vir 34 jaar gewoon, en ook ’n kleuterskool gehad het. Albei hul kinders, Theunis (25) en Angelique (23), woon in Kimberley.

Dis reeds 22 jaar sedert die vetplantgogga hom gebyt het. Hy kweek die meeste van sy plante van saad. “Dit het begin met lithops (beeskloutjies) en kokerboomsaad wat ek present gekry het by John Roderick, ’n Kimberley-maat van my, en by Frik en Roelien Mans van Kenhardt.” Aanvanklik het hy by kwekerye, en later elke jaar by Koekies Koekemoer op die Gariepfees, plante gekoop. “Ek het ook saad van tannie Grietjie van Rhyn by die Kokerboom-kwekery in Vanrhynsdorp bestel, en saad by verskeie vriende present gekry.”

Hy verkies om sy plante van saad te kweek. “My grootste sukses is met die kweek van kokerbome en lithops en my grootste uitdaging was om Euthorbia obesa te bekom. Ek het dit maar gekoop en met baie geduld vertroetel.” Hy het ’n “kweekhuisie” by sy huis en het pas begin met ’n rotstuin wat al sy moederplante huisves. “Gekoopte plante is nie so gehard soos saad wat jy self plant nie. Die saad gee jou ook meer plantjies. Van die saad ontkiem, totdat die plantjie groot genoeg is, is ongeveer drie weke. Ek behaal omtrent 70% sukses met ontkieming en ongeveer 50% daarvan bereik volwassenheid.” Theunis gaan weer saad bestel wat hy in Oktober wil plant.

Theunis se vetplanttuin bestaan uit ’n kweekhuis van 6 m x 8 m en ’n rotstuin van 4 m x 6 m.

’n Deel van Theunis Pool se versameling vetplante.

’n Nuwe uitdaging is om die moederplante – “so vyf van ’n soort” – op die rotstuin te vestig en hul saad te oes. Hy plant sy plante in “gewone 12 cm vierkantige blomhouers” en in groot asbes- en sementbakke en gebruik sy spesiale grondmengsel wat bestaan uit ’n derde elk bougrond/gewaste riviersand; swembadfiltreergruis en selfgemaakte kompos. Hy sê ’n mens kan ook ’n bietjie rooigrond en beenmeel bysit, “maar dan pla die honde vreeslik!”

’n Deel van Theunis Pool se versameling vetplante.

Die afgelope winter het hy groot skade gehad. “Die helfte van my kokerbome, omtrent 16, het in die kweekhuis doodgeryp. Hier kan hulle glad nie buite staan nie.” Een groot kokerboom van so 45 cm en 16 kleintjies het oorleef.

Die Facebook-vetplantgroepe waaraan hy behoort, is vir hom van onskatbare waarde en hy leer baie daar. Dis vir hom baie lekker en opwindend om die plante te sien groei en groot word van saadstadium, maar in die Vrystaat het hy geleer die koue en die ryp laat hulle vrek. “Maak hulle toe met rypdoek, en moenie water gee gedurende die tydperk van uiterste koue nie,” sê hy.

Vir mense wat belang stel om met vetplante te begin, is sy raad: “Doen deeglik huiswerk oor die vetplante in jou omgewing en sorg dat jy ’n geskikte plek vind vir jou plante wat alle natuurelemente kan trotseer.

“Vetplante is my stokperdjie en my liefde en ek begin dit nou uitbrei na ’n onderneming van ek vir myself begin werk het.” Vantevore het hy die plante wat hy gekweek het, uitgedeel en weggegee. “So nou en dan het ek geruil of een-een verkoop.”

Meer oor:  Tuinmaak  |  Vetplante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.