Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vetplante: Vet pret van die aarde

Hoewel vetplante staatmakers is as droogteverdraagsame tuinplante, kan jy hulle ook as dekoratiewe elemente en tafelrangskikkings inspan.

Talle vetplante is soos klein, kleurryke juwele, met hul groot verskeidenheid siervorms wat die aantreklikste rosette vorm.

Wanneer jy dit in vlak houers ten toon stel, skep dit ’n baie aantreklike miniatuurtuin.

Daar is van nature kleiner variëteite, soos sommige Echeveria, Haworthia, Sempervivum, mini-aalwyne en klein Sedums wat klein bly.

Omdat hulle stadig groei, neem hulle ook tyd om ’n houer vol te maak.

Hoe om ’n tafeltuintjie te maak
Hier is twee soorte klipblomme (Crassula), saam met die rosetvormende Sempervivum, Echeveria en Graptopetalum, geneutraliseer deur Sedum in hierdie klein ornamentele kruiwa.

John Sauer van Ngena Succulents spesialiseer daarin om gemengde vetplantbakke en hangmandjies van vetplante te kweek.

Hy het die volgende raad vir tuiniers wat hul eie tafelrangskikkings of vetplantbakke wil skep.

  • Besoek eerstens jou plaaslike kwekery en kies vetplante met verskillende blaarvorms, teksture en kleure wat mekaar aanvul. Dink ook aan jou “bakkomposisie” – om verskillende groottes en variëteite met mekaar te kombineer en kontrasteer, om die rangskikking diepte te gee.
  • Sodra jy op jou versameling vetplante besluit het, moet jy ’n houer kies wat hulle die beste gaan vertoon. As jy jou bak of houer saamstel, is daar gewoonlik drie elemente: die hoofplant wat die fokuspunt is, die sekondêre plante wat die hoofplant beklemtoon en die vullers wat om die rand van die houer geplant word.
  • Gebruik goeiegehalte-potgrond vir buiteplante. Moenie kunsmis byvoeg nie, want dit laat die plante te vinnig groei. Hulle moet stadig groei vir goeie kleur en vorm.
  • Maak die houer driekwart vol met potgrond. ’n Goeie truuk is om die grond in die middel ’n effense heffing te gee. Dit vorm ’n afgeronde voorkoms en sorg dat die kollig op die hoofplant is – die ander plante moet altyd so ’n bietjie laer as die hooffokuspunt wees.
  • Vryf ’n bietjie van die grond saggies van die vetplante se wortels af wanneer jy hulle herplant. Dit help die plante om aan te pas by hul nuwe bak. Moet ook nie die pot te vol plant nie – los ’n bietjie ruimte om die houer se rand sodat die plante kan versprei soos hulle groei. Sodra alles geplant is, vul die bak met ekstra grond en bedek met ’n deklaag fyn gruis. Gebruik ’n kleur wat die bak mooi afrond.
  • Maak liggies nat sodat die plante kan vestig. Maak daarna net een keer per week nat, of as die grond matig droog voel.
  • Hoe gereeld jy die plante moet natmaak, hang af van die houer en waar hulle geleë is. Potte met dreineringsgate kan deurdrenk word, toegelaat word om te dreineer en dan op die tafel teruggesit word.
  • As die pot nie dreineringsgate het nie, moet jy dit nie te veel natmaak nie. Die wortels sal verrot as dit in water sit.
  • Vertoon die tafelrangskikkings waar dit helder lig sal kry, of oggendson en middagskadu.

Soorte vetplante
’n Mengsel van baie verskillende vetplante omskep hierdie tafelblad in ’n gesprekspunt.

’n Hele aantal vetplante vorm rosette – elkeen mooi en ornamenteel op sy eie manier. Mexikaanse rotsroos (Echeveria) het stywe, vlesige blare, wat die meeste soos ’n roos lyk.

Sempervivum is geneig om kleiner, stywer rosette met tandagtige of stekelrige rande te hê. Graptopetalum lyk dikwels soos Echeveria, maar hul blare het meer lyf en is voller.

Aeonium het vlakker rosette in vergelyking met die ander, en hul lepelvormige blare is nie so afgerond soos dié van Echeveria nie.

Stekelrige Haworthia is ’n goeie keuse vir kontras en die algemeenste variëteit is die sebraplant vanweë sy opvallende horisontale wit strepe op die groen blare. 

Dié plante het vlak wortels en kan dus in klein houers geplant word. Hulle aard goed saam met ander vetplante.Daar is baie verskillende va­riëteite van Sedums, ook bekend as vetkruid.

Variasie op die tema van rose – ’n mengsel van Sedum, Pachyphytum, Echeveria, Graptopetalum en Sempervivum.

Daar is talle laaggroeiende variëteite, soos “Angelina” of “Golden Acre”, wat as ’n helder, vinnig groeiende vullerplant gedy.

Dit het verspreidende groei met kort, regop stingels en gee nie om as jy dit snoei om die vorm te behou nie

.Klipblomme (Crassula) is nog ’n groot familie vetplante, waarvan Crassula capitella “Campfire” die kleurrykste is. 

Die meer algemeen gekweekte Crassula ovata staan bekend as die jade-plant, met blink, gelobde groen blare. Dit is ’n goeie plant vir houers, as ’n vuller en kan later in die tuin geplant word, waar dit tot ’n tot ’n wesenlike plant groei.

    Meer oor:  Vetplante
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.