Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vier lente met fraaie madeliefies
Helder: Brachyscome “Fresco Candy” is moeilik om te mis.
Kleurvol: Gazania “New Day” is droogtebestand en maklik om te groei.

Suid-Afrika het ’n rykdom van inheemse madeliefies. Die mooiste daarvan is die Osteospermum, of Kaapse madeliefie.

Oorspronklik wit en pers, is dit ook al verbaster in alle kleure van die reënboog met kompakte, beter vertakkingsgroei wat meer blomme lewer.

Hoe maak ons ??die meeste van die madeliefies in ons tuin, terwyl ons bewustelik water spaar en omgewingsbewus is in ons benadering tot tuinmaak?

Die antwoord was heel duidelik nadat ek ’n mini-prêrie-styl tuin gesien het wat die tuinontwerper Sonita Young ontwerp het.

Sy het ’n skuins, rotsagtige stuk grond gevul (altyd ’n uitdaging wanneer jy tuinmaak) met ’n see van ornamentele grasse in wisselende hoogtes, verweef met ’n paar kleurspatsels.

Nuut: Osteospermum “Blush­ing Beauty” is ’n nuwe variëteit.

Dié spatsels sluit in Osteospermum, Argyranthemum (margrietjies), Felicia, Gazania, Brachyscome, Scabiosa, Papaver en Salvia.

In tradisionele tuine sal hierdie blomme almal langs mekaar geplant word waar dit vir aandag sou moes meeding. Maar in hierdie wilde en natuurlike tuin het al die plante ’n belangrike rol te speel.

Plate laag-groeiende madeliefies sorg vir ’n kleurvolle tapyt wat die grasse afwissel. Groter klompe geel en wit madeliefies is dwarsdeur die tuin geplant om die “joe!”-faktor te verskaf. Die visuele herhaling van wit en geel hou ook die tuin bymekaar. ’n Verspreiding van helder oranje papawers beklemtoon die lugtigheid en beweging van die grasse.

Prêrie- en weiland-styl tuine (of ’n baster van albei) is meer in aanvraag by huiseienaars, landgoedere en kantoorparke wat alternatiewe vir grasperke soek. Selfs waar die ruimte beperk is, word ’n informele mengsel van grasse en meerjariges gebruik om die ryvlakke te beperk of ’n dek te raam.

Die aantrekkingskrag van ’n natuurliker landskap is dat dit minder sorg nodig het (as dit eers gevestig is). ’n Verskeidenheid droogtebestande plante is gewoonlik ’n goeie keuse en is geneig om tuindiertjies te lok.

Wild: ’n Grasagtige mengsel van madeliefies met papawers, salvia en alyssum.

Maak jou eie prêrie-tuin

  • Kies ’n gebied wat minstens ses uur per dag son kry met gewone tuingrond (nie te ryk nie) wat goed dreineer.
  • Grasse is die hoofspeler. Gebruik korter grasse soos Juncus, Carex en Stipa in klein tuine. Eragrostis en Pennisetum is ideaal vir groter ruimtes.
  • Gebruik meerjariges eerder as eenjariges en herhaal plante in duidelike bondels.
  • Voeg lang plante in om vertikale fokuspunte binne die grasse en blomme te bied.
  • Kies plante wat goed saam groei en dieselfde waterbehoeftes het.
Alice Coetzee

5 madeliefies vir grasagtige tuine

Dit is die soorte madeliefies wat Sonita in haar prêrie-styl tuin gebruik het:

Osteospermum “Serenity Blue-eyed Beauty” en “Blushing Beauty” is inheems en het bottergeel blomme met ’n blou of pienk oog. Dit is natuurlik kompak (25 tot 35 cm hoog), hou van volson en verbruik min water.

Argiranthemum “Madeira White” en “Madeira Crested Yellow” is verbeterde weergawes van die ou gunsteling, die margrietjiebos. Die bosse staan ??regop (30 tot 45 cm hoog) in goed vertakte, baie kompakte plante wat met blomme bedek is.

Brachyscome “Fresco Candy” is ’n klein madeliefie uit Australië wat tot 15 cm groei en tot 30 cm versprei en van die lente tot herfs blom. “Fresco Candy” se helder pienk blomme is groter as dié van ander Brachyscome-variëteite.

Gazania “New Day” is ’n verbeterde gousblom met groter blomme en meer kompakte, stewiger groei. Dit kom in enkel kleure en kleurvolle mengsels voor. Die plante se hoogte en verspreiding is ongeveer 20 cm en dit is uiters droogtebestand.

Felicia “Pinwheel Periwinkle Blue” is ’n inheemse, droogtebestande variëteit wat baie vryelik blom. Plante groei 50 cm hoog en wyd, met pragtige blou blomme. Dit is ideaal vir landskappe.

Meer oor:  Blomme  |  Plante  |  Tuine  |  Tuinwerk  |  Madeliefies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.