Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vier môre jou tuin!
Elana Afrika is een van die bekende gesigte wat hul gewig agter Nasionale Tuindag gegooi het. Foto: Merwelene van der Merwe

Nasionale Tuindag is nou in sy derde jaar. Dit het spontaan gespruit uit ’n groep tuiniers wat Suid-Afrikaners wil aanmoedig om bymekaar te kom en hul tuine te vier. Al wat ons moet doen, is om te eet, te drink en vrolik te wees saam met vriende of familie in die tuin, blomkrone te maak, op die gras te speel en te ontspan.

As tuiniers het ons baie om te vier. Suid-Afrikaners wat oorsee reis, veral in Europa, kan die ruimte wat ons vir tuinmaak het, waardeer. Ons klimaat maak dit moontlik om byna die hele jaar lank tuin te maak en hoewel water skaars (en duur) is, word ons aangemoedig om waterslim-plante aan te plant.

Tuinmaak is goed vir ons

Nooi vriende, bure of familie uit en vier en geniet jou tuin op Nasionale Tuindag.

“Tuinmaak is die beste geneser van liggaam en siel, omdat dit ’n bietjie denke en baie sweet neem,” sê Lizette Jonker, Garden Diva-blogger, skrywer en landskapargitek, wie se Pretoria-tuin vol “ou getroue vriende” is wat jaar ná jaar blom.

“Die natuur reageer so goed op ons insette, soos wanneer ons grawe, voed, saai en plant, maar die eindresultaat is nie heeltemal net toe te skryf aan ons pogings nie. Ek het geleer dat dit goed is om te misluk en dat daar altyd ’n volgende seisoen is.”

Jonker het ook ’n passie vir eetbare tuine en glo gesinne behoort tyd in die tuin deur te bring om hul eie organiese en gesonde kos te laat groei. “Dit is die goedkoopste en gesondste gesinstokperdjie wat daar is!”

“Passie” is die woord wat by ’n mens opkom wanneer jy Viv Black se uitgebreide en asemrowende Beaulieu Country Estate-tuin met meer as 2 000 rose besoek.

“Tuinmaak beteken vir my baie, en rose het vriendskap, tuine en die natuur in my mal, besige lewe gebring,” sê sy.

Laai die nuwe en gratis tuinmaak-app Candide af.

“Om ’n passie te hê is baie belangrik om balans na jou lewe te bring en as jy jou passie in tuinmaak vind, sal dit ’n verskil in jou lewe maak.”

Vir die eko-landskapargitek Faith Mashaba is die tuin ’n “geskenk van die lewe”. Mashaba, saam met haar kollega Tumelo Choma, het in Julie goud gewen en is aangewys as die beste jong ontwerper vir ’n watervriendelike tuin by Garden World se lentefees.

“Dit is my toevlug, ’n plek waar ek weer by die natuur kan aansluit.

“Die gevoel van grond in my hande is terapeuties, die reuk van blomme en kruie laaf my siel. Die geluid van water en voëls gee my hoop dat môre ’n beter dag sal wees,” sê sy.

Nooi vriende, bure of familie uit en vier en geniet jou tuin op Nasionale Tuindag.

Idees hoe om jou Tuindag te vier

Op Tuindag sal Mashaba kruie in haar neef se Johannesburgse tuin plant omdat hy lief is vir kook. Black sal, soos te wagte kan wees, gate grawe vir nuwe rose wat sy wil plant.

Die organiseerders van die Nasionale Tuindag sê die doel is om die tuinhandskoene op te hang en self jou tuin te geniet. Hier is ’n paar idees:

  • Organiseer ’n plantruil onder jou vriende. Vra hulle om plante, wortels of steggies uit hul tuine te bring.
  • Nooi vriende, bure of familie oor vir tee, middagete of ’n braai in die tuin. Gebruik tuisgekweekte, eetbare blomme, kruie of slaaiblare en groente.
  • Kies vars blomme en laat die kinders blomkrone vleg.
  • Wandel deur die omgewing en bewonder ander mense se tuine.
  • Dans en speel kaalvoet op die grasperk.
  • Dra stoele of komberse uit en moedig almal aan om selfone af te skakel en die son te geniet, na die voëlsang te luister en die reuk van die aarde en plante in te asem.

Hoe om jouself te bederf

Laai Candide, ’n nuwe en gratis tuinmaak-app, af. Dit verskaf tuinmaakwenke en raad van meestertuiniers en sluit in kundiges soos dr. Ernst van Jaarsveld, Gundula Deutschlander, ’n professionele tuinier by Babylonstoren, en die rooskenner Anja
Taschner.

Die app gee ook besonderhede oor openbare tuine wat op Tuindag besoek kan word, geldbesparende tuinwenke en Tuinbou 101-wenke vir stedelike gebiede.

Dis beskikbaar by die Apple Store of kan by die Google Play Store afgelaai word.

  • Deel jou Tuindagvieringe op jou Instagram-profiel en ander sosiale platvorms met die hutsmerk #gardenday. Vir nog Tuindag-inspirasie, besoek gardenday.co.za of volg die verrigtinge op sosiale media by @gardendaysa en gebruik die hutsmerk #gardenday.
Meer oor:  Plante  |  Tuinmaak  |  Tuin  |  Tuinier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.