Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst

Japie Engelbrecht van Somerstrand, Port Elizabeth, skryf:

Ernst, ek lees elke week jou rubriek in die koerant met groot belangstelling.Ek het nooit gedink dat ek jou self met ’n probleem sou moes nader nie.

Ek heg ’n paar foto’s aan van ’n vetplant, waarvan my vrou ’n steggie van Struisbaai af gebring het. Ons het dit in ’n pot oorgeplant, met potgrond van ’n betroubare kwekery.

Aanvanklik het die plant nie gelyk of dit gaan groei nie en van die blare het selfs begin afval. Tot ons groot vreugde let ons eendag op dat daar twee nuwe uitlopers besig is om aan die stam te groei. Ons vreugde was egter van korte duur, want kort daarna het die blare begin swart raak aan die punte.

Ek ken nie die plant se naam nie, maar weet die swart groeisel kan nie goed wees nie. Ons het intussen maar ’n seepoplossing op die plant gespuit.

Het jy raad met die siekte wat die plant het?  

Antwoord:

Jou plant heet Aeonium canariensis en die jong blare verdroog weens ’n klein kewer-goggatjie, ’n tipe wingerdkalander (Phlyctinus sp.). Só vermoed ek, want hulle is hier by my ook aktief en in die meeste tuine. Hulle is veral lief vir die plakkiefamilie (Crassulaceae). Die eiervormige kewertjies kom snags uit en vreet altyd eers die nuwe, jong, sagte blare. Hulle vreet slegs die blaarrand en dan verdroog die jong blare. Dit is my vermoede.

As jy snags met ’n toorts uitgaan en die kroontjie bekyk, behoort jy die snuitkewertjies te kan sien. Hulle is stewig gebou en jy moet hard op hom druk om hom vrek te kry. Elkeen is minder as 5 mm in lengte.

Ek gaan snags uit, maak die slakke, naakslakke en ander goggatjies dood wat uitkom om te wei. Jy kan dit ook beheer deur ’n kontakgif soos Bexadust of Karpapoeier op die kroontjies te strooi.   

Nic Vermeulen skryf: 

Ernst, ek sukkel die laaste paar jaar om hierdie sagopalm of Japanse broodboom in ’n bedding weer groen te kry.

Ek het al Seagrow-voedings en selfs Orius-swamdoder probeer, maar sonder sukses. Nuwe blare stoot groen uit en kort daarna verbruin dit.In ons omgewing let ek soortgelyke probleme met broodbome op. Soms staan hulle in groepe en net sommige het hierdie probleem.

Antwoord:

Nic, dié toestand sien ek dikwels, veral in die Wes-Kaap. Ek vermoed dat dit klein galmuggies is wat die plant aanval as die nuwe blare verskyn. Teen die tyd dat dit uitloop, vergeel en verdroog dit. Dit verswak ook die plant.

Ek stel voor jy begin met Kohinor-behandeling – ’n sistemiese middel wat jy by sy wortels toedien. Dit sal hom ten minste vir een jaar beskerm. Maak dit goed daarmee nat sodat die middel deur die wortels opgeneem kan word. Saam met dit moet jy ook Engelse sout gee. Los ’n paar eetlepels in 5 liter water op en gooi dit om die plant. Ons grond het dikwels ’n magnesiumtekort en dit sal die plant help. Yster-chelaat (alles by jou handelaar beskikbaar) sal ook help as daar moontlik ’n ystertekort is.

Daarna neem jy gewone kompos en gooi dit om die plant onder sy kroondak as organiese bedekking. Moet dit nie inwerk nie.

Meer oor:  Vra Vir Ernst  |  Leefstyl  |  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.