Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Antwoorde op jou tuinvrae

Marieta Olivier skryf:  Ek wil graag die naam van ’n aalwyn­agtige plant weet (soos op die foto). 

Marieta Olivier se Mexikaanse lelie (Beschorneria yuccoides).
 

Antwoord: Marieta, jou plant heet die Mexi­kaanse lelie (Beschorneria yuccoides) en is ’n baie mooi vetplantsoort wat aan die garingboom­familie (Asparagaceae) behoort en op taamlik hoë hoogtes (bokant 2 000 m) bo seespieël in Mexiko groei. Sy bloeiwyse is besonder mooi en groot. 

Fred Opperman skryf: Ernst, ek het ’n plant wat skielik ’n lang loot na bo groei met blare aan die bopunt. Ek het dit binnenshuis gebring en die plant groei net langer met die klossie blare bo. Ek dink dit is ’n armmans­orgidee. Wat kan die rede wees vir hierdie snaakse verskynsel? 

Antwoord: Fred, dit is beslis ’n soort orgidee, maar ek dink dit is die bloeiwyse wat so reageer. Die bloeiwyse sal noodwendig lig toe groei. Die plant moet sy blom adverteer vir bestuiwing en sal dus baie “spandeer” soos ’n lang bloeisteel of mooi, kleurvolle blomme groei.Soms, soos met alle lewe, kan daar foute insluip en ek dink hierdie is bloot ’n natuurlike afwyking. Dit behoort weer te herstel. Ek stem saam, so ’n baie lang bloeisteel is eienaardig! 

Minnie du Toit skryf: Ernst, ons het ’n plaag wat ons met niks kan uitroei nie en dit is besig om na sommige van die plante in ons tuin te versprei. Ons het ’n heining van sisigie wat oortrek is met hierdie wit aanpaksels. Ons het al gespuit met allerhande middels, insluitend Oleum, maar sonder enige sukses. 

Antwoord: Minnie, ek twyfel of die plaag alles sal inneem. Dit word gewoonlik deur insekte veroorsaak; verskeie tipe plantluise wat die wit waslagie agterlaat. Daar is natuurlike vyande in die natuur wat hom weer in toom sal hou. Dikwels is daar miere betrokke, en hulle beskerm die luise wat hulle vir hul soet heuningdou melk. As dit die geval is, kan jy die miere met AnTrap behandel.Geleidelik sal jou plaag dus weer afneem. Die klein skilpad­besies vreet plantluise en hulle behoort weer die plaag onder beheer te bring. Daar is ’n produk, Kohinor, wat jy op die wortels van die plante kan toedien. Die plant neem dit op, wat beskerming vir sowat een jaar bied. 

Anoniem skryf: In ons tuin is ’n paar witstinkhoutbome (Celtis africana). Die eerste keer in 40 jaar is dit oortrek met witvliegies onder die blare en op die dun takkies. Die bome en alles onder die bome is oortrek met ’n taai kleefstof. Ek merk die plaag ook in die omgewing en sypaadjies op. Ek het al vorige jare hier en daar witvlieg by enkele van my bonsaiboompies opgemerk, maar nooit so baie en by die groot bome nie. 

Antwoord: Plae kom en gaan en dui op ’n wanbalans: te veel plaag en te min predatore. Die wanbalans kan wees weens onnodige gifspuit, wat die natuurlike predatore gedood het, maar daar kan baie redes wees. Soms lyk dit of die plaag alles gaan oorneem en dan bring die natuurlike vyande die plaag onder beheer. Die beste vir witvliegies se biologiese beheer is Encarsia formosa, ’n piepklein wespe wat ’n mens deur die pos kan bestel. Jy kan op die internet soek en hulle stuur dit vir jou met die pos, jy hang die papiertjie met die eiers op en hulle vermeerder vinnig en sal só jou plaag onder beheer bring. Ek het dit met sukses in Kirstenbosch in ons groot glashuis gebruik. Ons malvas was oortrek en ná behandeling het ons nooit weer probleme ervaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.