Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Antwoorde op jou tuinvrae
Tienie Myburg se mooi soetdoringboom (Acacia karroo).

Tienie Myburgh van Port Elizabeth skryf: Ons het in 1989 ’n huis in Port Elizabeth gekoop nadat ons ons boerdery gestaak het.

In die voortuin was daar twee groot bome. Ek was dadelik verlief op die bome alhoewel dit ons die afgelope 30 jaar al heelwat gekos het deurdat ons elke paar jaar iemand moes kry om dooie en laaghangende takke af te saag.

In die somer is die grootste deel van die voortuin onder ’n skadu-sambreel waaroor ek baie bly is – veral ook noudat waterskaarste ons getref het. Voëls in die bome verskaf ook aan ons groot plesier. Mense stop soms by ons om te kyk na die bome en hul verbasing uit te spreek omdat daar doringbome in ons voortuin groei. Ook omdat die bome al baie oud is. Ek wag vir die soet, geurige goudgeel blommetjies wat een van die dae gaan kop uitsteek.

My vraag is: Hoe oud kan so ’n doringboom word? Dit kry geen water behalwe reënwater nie. Ek wonder ook altyd hoe oud die bome kan wees siende dit reeds groot bome was toe ons hier ingetrek het. 

Antwoord: Tienie, jou boom lyk soos die soetdoring (Acacia karroo), seker die volopste inheemse boom in ons land. Hul leeftyd is onvoorspelbaar – sommige word so 25 jaar, ander weer baie ouer. Ek skat jul boom is so 70 jaar oud. Dit kan uitsonderlik groot word. Hul gom is soet, daarom die naam soetdoring. Ek het die gom as kind dikwels op die Hoëveld geëet. So, geniet jou boom solank dit nog gesond is.Doringbome het stikstofbindende knoppies op die wortels en is vriendelik vir ander plante wat daaronder groei.

Die gras onder ’n doringboom is altyd groener en so lok dit bokkies wat kom wei. Die bokkies los hul mis daar en so help albei tot elkander se voordeel. Jong soetdoringbome het lang, skerp wit dorings en soos die boom verouder, verdwyn die dorings of word minder. As volwasse boom het die plant minder verdediging nodig en kan die energie om die dorings te produseer liewer vir iets anders gebruik word. 

Boet Prins skryf: Ernst, waarmee kan ek die wilde tjienkerientjies tussen my woestynrosies uitroei? 

Antwoord: Boet, dit is maar ’n probleem. Ek vermoed jou plaag is die lastige Notoscordum, ’n pes met klein bolletjies en wit blommetjies wat oral indring. Ons roei dit met die hand uit, so versigtig as moontlik om elke knolletjie uit te lig. Daarna, as iets opkom, neem ons ’n kwas en sit Roundup op die kwas en raak net aan die nuwe groei, versigtig om nie ander plante ook vrek te maak nie. Dit vergeel en as jy met die pynlike proses aangaan, voor jy weet is dit minder. Dit maak ’n mens soms maar moedeloos! 

Suzette Naude van Pretoria skryf: Ek het sopas tulpebolletjies uit Nederland gekry. Kan ek dit in water sit om uit te loop of moet ek dit eerder plant? Weet nie of dit reeds te warm is nie. 

Antwoord: Suzette, dit is nie nodig om dit in water te plaas nie. Dit sal dit vinnig laat verrot. Die beste is om dit dadelik te plant. Tulpe kom uit kouer dele van die ooste van Europa en hoewel dit hier sal groei, sal dit moontlik nie te gereeld blom nie. Dit word gewoonlik eers deur die groot tulp- en ander bol-kwekerye met koue behandel, wat die plant dan laat blom nadat dit uitgeplant is. Hulle word baie in Nederland gekweek, maar kom nie inheems daar voor nie.

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld  |  Vra Vir Ernst  |  Tuinmaakwenke  |  Tuine  |  Tuinmaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.