Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Boom het ’n tekort

Etta Holzhausen van Kathu skryf: Ernst, my varkore groei mooi, maar ek ontdek daar is nou groot, plat swart dopluise op meestal die stingels, ook op party blare aan die onderkant.  

Ek weet nie of dit sal help om hulle met ’n gifstof te spuit nie, want dit lyk na hardnekkige luise. 

Is daar dalk ’n gifstof wat ek in die grond kan toedien sodat dit só opgeneem word? 

Antwoord: Etta, dis baie maklik om met ’n minerale olie soos Albolium te behandel. Spuit die blare; die olie versmoor die luise onder sy dop. Jy kan Kohinor om die plant toedien. Dit is ’n sistemiese middel wat die plant deur sy wortels opneem en vir ’n jaar lank teen insekte sal beskerm.

Ernst van Jaarsveld. Foto: Nasief Manie

Neil MacDonnald van Aggeneys in die Noord-Kaap skryf: Ernst, watter tipe grond kan ek vir vetplante gebruik? 

Antwoord: Neil, die meeste vetplante groei maklik in ’n sanderige mengsel. Ons gebruik twee dele sand, een deel klei-leem (tuingrond) en een deel kompos. Jy kan ’n bietjie beenmeel ook byvoeg. Die grond moet net goed dreineer.

Minie du Toit skryf: Ernst, ek lees gereeld jou rubriek en het al baie van jou raad toegepas. 

Ons sit op die oomblik met ’n plaag wat ons nie uitgeroei kry nie. 

Dit is ook besig om na ander plante in die tuin te versprei. Ons het ’n heining van Syzygiums wat oortrek is met ’n wit aanpaksel. 

Ons het dit al met verskeie middels waaronder oleum behandel, maar sonder enige sukses. 

Antwoord: Minie, dit is ’n tipe wolluis en daar is soveel soorte. Die tipe besmetting kan soms net so skielik verdwyn soos dit gekom het. Daar is natuurlike vyande wat hom ook uitroei, maar om kort termyn te bestry stel ek voor Antrap, wat jy onder die bome plaas. 

Dit is dikwels die miere wat die luise beskerm. As jy die miere behandel, kan jy dus ook die luise in toom hou. Bespuiting met Malathion werk ook. 

Dan is daar sistemiese middels wat jy by die wortels toedien en só die boom van binne beskerm soos Kohinor, wat die heining vir ’n jaar sal beskerm. 

broodboom
Nico se foto van sy broodboom (Encephalartos altensteinii) wat hy wil verplant.

Nico Viljoen skryf: Ernst, ek het redelik onlangs ’n huis gekoop en eers ná die tyd besef daar is ’n broodboom in die agtertuin. Ek wil dit graag verplant op ’n verantwoordelike manier. Hoe kan ek dit doen?  

Antwoord: Nico, broodbome verplant maklik en haal ook maklik uit. Jou plant lyk na die Oos-Kaapse broodboom (Encephalartos altensteinii). Dit kom volop voor. 

Broodbome het vlak wortels en grawe dus vinnig uit. Plant tot dieselfde diepte in die nuwe gat. Die stam het gewoonlik ’n merk waar die grond begin het. Vir praktiese doeleindes kan jy die blare met ’n tou boontoe bind om jou te help om naby aan die stam te kom. 

Party mense verkies om al die blare af te sny met verplanting. Dit is egter jou keuse. 

Hy sal weer groei. Dit neem net lank en hulle is baie stadig en neem jare om weer normaal te kan groei. Jou boom het ’n magnesiumtekort, daarom die geel blare. Gee Engelse sout en dit sal die probleem oplos.

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld  |  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.