Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Frangipani-vrugte en die broodboom

Ampie van Centurion skryf:

Ernst, my frangipani het hierdie uitgroeisel op, kan jy dit dalk identifiseer?

Ampie se frangipani-vrugte (Plumeria plumeri).

Antwoord: 

Ampie, dankie vir die duidelike foto’s. Jou Frangipani (Plumeria plumeri) is gesond en die “uitgroeisels” is sy vrug ná die blom.

Dit behoort aan die selonsroosfamilie (Apocynaceae) waarvan die meeste soorte giftig is. Die vrug bestaan uit twee bokhorinkies wat by die nate oopbars en dan die saad vrystel.

Vir lesers wat die mooi groot bladwisselende uitheemse struik met sy vetterige stingels nie ken nie, die plant het groot blare gedronge aan die takeindpunte en dan die mooi wit en geel geurige vyflobbige blomme voortbring gedurende die somers. Dit is selde dat hy in ons land saad vorm.

Kobus Bezuidenhout van Nigel skryf:

My broodboom wat al 30 jaar in my erf staan het nou ’n soort blom gevorm met ’n klomp saad binne. Wat staan my te doen? Moet ek dit verwyder en wat van die saad?

Antwoord: 

Kobus, jy hoef niks te doen nie. In die natuur val die keël uitmekaar en versprei so die saad. As jou plant ’n Cycas is, sal die saad afval as dit op die sporofil ryp geword het. Dit sal sommer daar waar dit val ontkiem, of jy kan dit bymekaar maak en in ’n saadbak bo-op ’n grondmengsel plaas. Dit ontkiem as dit baie warm en vogtig raak.

Una van Zyl skryf:

Ernst, redelik onlangs het jy ook vir iemand ’n plakkie geïdentifiseer en ek het dadelik geweet dit is die vreemde plant in my tuin.

Ná 2016 se vreeslike droogte het ek my hele tuin met vetplante vervang, maar meestal uitgeplant van dié wat ek reeds gehad het en by vriende gebedel. Uit die bloute het die plant opgekom met sy massiewe blare. Die boonste stingel met die blommetjies is amper al ’n meter lank, maar dit het nie mooi geblom nie. Net sulke klein geel spikkels gemaak.

Dit lyk baie soos Arno Kotze se plakkie. Ek woon aan die oostekant van Johannesburg. Nou is dit duidelik dat die stingel besig is om te vrek en die blare van die basis is oranje verkleur, maar lyk amper verlep en pap. Dit hang nou egter tot op die grond en verberg die enigste kleintjie. Kan ek van die onderste blare uitknip sodat die kleintjie aan die son blootgestel word en moet die basisplant dan heeltemal in ’n later stadium afgesny en verwyder word en wanneer?

Antwoord:  

Una, jou plant is sekerlik die bergplakkie Kalanchoe thyrsiflora of K. montana, veral dalk die eersgenoemde wat so baie op die Witwatersrand se koppies voorkom. Albei het daardie tipe groeiwyse soos jy verduidelik het hier bo. Dit is normaal as die bloeiwyse sy funksie voltooi het vir die plant om dan terug te vrek. Gewoonlik vrek die hele plant, maar in baie gevalle is daar altyd kleintjies aan sy basis wat weer groei voortsit. Die kleurverandering is ook normaal om fotosintese te beperk weens die blare wat besig is om te vrek. Jy kan die blare afsny as jy wil en die kleintjie aan sy basis sal goed groei as jy hom later uitplant. Die beste is maar altyd gedurende sy natuurlike groeiseisoen wat in die laat lente begin en dus dan die regte tyd.

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.