Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Grasdissel langer as 'n meter

Elsa van die Steenkampsberge skryf: 

Ernst, kan jy help om ’n grassoort en blom te identifiseer? Die gras groei selfs langer as een meter by ons.

Antwoord: 

Elsa, dit lyk na dekgras (Hyparrhenia hirta), en soos die volksnaam aandui word dit ook as dekmiddel vir huise gebruik. 

Die blom heet die grasdissel, ’n inheemse soort (Dicoma zeyheri).

Die plant kom volop voor in grasveld op die Hoëveld.

grasdissel
Elsa se foto van haar grasdissel (Dicoma zeyheri).

Dit spruit gewoonlik ná ’n brand uit. Dicoma anaomala kom weer voor in die suide van die land, maar met baie kleiner blommetjies.

Die grasdissel is aantreklik en het die potensiaal om opgeneem te word in siertuinbou. 

Elsa Venter van Kirkwood in die Sondagsriviervallei skryf: 

Ernst, ek was jare gelede met jou in telefoniese verbinding oor ’n pragtige groot huilboerboon.

Destyds wou ek weet of ons die boom kon verplant, omdat daar sitrus aangeplant sou word. Nou wil ek wil graag jou mening hoor oor ons kokerboom.

Ons het dit seker sowat vier jaar gelede geplant en dit was regtig nog altyd ’n mooi, gesonde plant.

So ’n paar maande gelede het die blare egter begin geel word en dooie kolle gekry.

Die kwekery op Graaff-Reinet (Obesa, waar ek dit gekoop het) se mening was dat die plant te min son of te veel water kry. Ander meen dit kan ’n fungus wees.

Vanoggend het ek foto’s gaan neem en klein goggas of luise en miertjies op die kokerboom opgemerk. 

Antwoord: 

Elsa, dit bly maar moeilik om kokerbome suksesvol buite hul natuurlike verspreidingsgebied te kweek. 

Plantluise en swamme is veral ’n probleem in die stede.

Daarom is dit altyd beter om inheemse plante van jou eie omgewing aan te skaf wat by die plaaslike klimaat en habitat aangepas is.

Ons het ook kokerbome op Babylonstoren. Hulle word ook gereeld lastig geval deur plantluise, wat die miere aandra na hul kroontjies.

Die plaag val ook ander aalwyne aan, maar gelukkig is dit maklik om te beheer met ’n insekdoder soos Malathion.

Spuit net die kroontjies, want dis waar die luise woeker.

Maak ook gebruik van Antrap, want die Argentynse miertjies is die skuldige party.

Hulle voed nie alleenlik op die heuningdou wat die luise afskei nie, maar beskerm en versprei ook die luise. As die miere beheer word, sal die luise vrek.

Die geheim met kokerbome buite hul gebied: Gee geen water nie. Die boom moet met die reënval klaarkom.

As die stam onder eers begin vrot, kan jy die boom afskryf, want dit sal nie weer wortelskiet nie.

Jy kan koperoksichloried voorkomend op die blare spuit wat swamme sal weghou.

As die plant beseer word, maak gebruik van blomswawel om die wonde te behandel.

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.