Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Help! Boomaalwyn lyk treurig
Jerusalemkersie
’n Jerusalemkersie (Solanum pseudocapsicum).

Maksie Baard skryf: 

Ernst, wat is die plant op die foto? 

Sommige het gesê haal uit, dis giftig; ander sê dan moes sy lankal dood gewees het! Nog een sê alle plante wat rooi/oranje vrugte dra, is giftig – maar dan moet tamaties ook mos giftig wees?  

Kan jy help? 

Antwoord: 

Maksie, jou plant heet die Jerusalemkersie (Solanum pseudocapsicum) en het in dele van ons land genaturaliseer. 

Dit is ’n meerjarige struikie wat tot 1 m hoog groei, met donkergroen blare en mooi, rooi bessies. 

Dit is slegs effe giftig, maar sal jou nie doodmaak nie. Dit sal hoogstens jou maag omkrap. 

Dit kom van Peru en Ecuador in Suid-Amerika en word oor die wêreld heen vir hul dekoratiewe rooi vruggies aangeplant. 

Rooi aan ’n vrug beteken: Kom eet my! Die plant gebruik mense, diere en insekte om hul saad te versprei. Die plant wil ons nie vergif nie. 

Elke plant het maar sy eie verspreiders en in dié geval sekerlik ’n tipe voël of ander diertjie wat by die effe giftige vrugte aangepas is. 

In die meeste gevalle wys rooi dat dit eetbaar is, maar daar is ook uitsonderings. Rooi aan ’n sprinkaan dui weer op ’n waarskuwing vir diere en sê: Moenie my probeer eet nie, want ek smaak sleg en is giftig! 

In hierdie geval word dit aposematisme genoem. 

Die Jerusalemkersie kan tot sowat tien jaar oud word en is rypbestand. 

Sandy Botha skryf: 

Ernst, my boomaalwyn lyk die laaste tyd treurig.  

Daar is drie van hulle. Wat staan my te doen? Moet ek hulle uithaal en oorplant? Sal die stuk weer groei en plant ek dit net so? 

Antwoord: 

Sandy, jou boomaalwyn (Aloidendron barberae) het by die grondoppervlak beskadig geraak. 

Gebruik julle randsnyers? Dit ontbas dikwels plante en die plante vrek dan. 

In dié geval sal jy sien dat die boomaalwyn aan die onderkant van sy stam en bokant die skade sy nuwe bywortels begin groei om die plant weer te bewortel. 

Die onderste deel waar die wortels was, loop ook weer uit! Dus sal die onderste deel weer groei én die boonste. 

Jy het dus baat gevind by die seerkry van die plant en nou het jy twee lewende plante.

As dit nie die randsnyer is nie, het iets anders die plant van onder laat vrot. Dan is dit moontlik swak gedreineerde grond en dit kan ook herstel word. 

Jy kan gerus die bo-deel met wortels weer plant. Dit sal vinnig weer groei en ’n mooi boom word. 

Boomaalwyne groei goed in skadu; hulle groei gewoonlik in immergroen woude op hellings en verkies dus goed gedreineerde grond met ’n hoë organiese inhoud wat jy met kompos kan aanvul. 

Voete in die skadu en kop in die son – dis wat hulle verkies.

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.