Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Hoe kan clivias se sade in tyd versamel word?

Hugene Scott van Welgelegen, Kaapstad, skryf:

Ernst, ek sal so graag jou raad wil hoor vir my kokerboom, wat nie blare wil uitstoot nie. Dis een nag omgestamp, maar die stam is sterk en groen. Net geen blare. Ek hoop maar vir ’n wonderwerk. Ek het ook twee worsbome en ’n kremetartboom aan die groei gekry wat ek by die Krugerwildtuin se kwekery gekoop het.   

Antwoord: Hugene, kokerbome groei baie stadig en op hul eie tyd.Wees net geduldig en jy sal gou sien watter rigting die boom gaan – groei of vrek. Dit neem net tyd. Moenie in die versoeking kom om dit nat te maak nie! As sy basisplaat gevrot het, loop kokerbome nie weer uit nie. Andersins sal dit weer wortel skiet en begin groei. Ek het al gesien hoe mooi hulle in die Kaap groei en aard. Worsbome aard ook baie goed in die Wes-Kaap en sal ’n mooi groot boom word. Kremetartbome groei in die droër dele soos Welgelegen. So plant dit op ’n warm aansig, met grond wat goed dreineer. 

Thomas Kuhn van Danhof, Pretoria, skryf: Ernst, in ons tuin groei ’n pekanneutboom wat ongeveer 18 jaar oud is. Gewoonlik vorm daar heelwat neute, maar ongeveer 30% daarvan val af voordat die neut ryp is. In ander gevalle bly die neut aan die boom totdat dit skynbaar ryp is, maar wanneer die dop oopgebreek word blyk dit dat die vrug nooit ontwikkel het nie. Al wat oorbly is ’n oneetbare, verskrompelde vruggie. Soms kruip daar ook ’n wurmpie weg tussen die skil en die dop van die neut. Ek kan nie dink dat dit goed is vir die boom of die vrugte nie.

Ons het ook heelwat clivias in ons tuin. Ek versamel graag die sade om nuwe plante te kweek. My ervaring is egter dat die meeste van die sade afval voordat dit ryp is. Ons het, onder meer, ’n klompie plante wat geel blomme dra. Ek was in groot afwagting dat die sade ryp word sodat ek nuwe plante kon kweek. Tot my uiterste teleurstelling het al die sade van die geel clivias afgeval voordat dit ryp geword het. Is daar ’n manier om te verseker dat die meeste van die clivias se sade ryp word en nie voortydig afval nie?’ 

’n Voorbeeld hoe clivias se vruggies later oranje,
’n Voorbeeld hoe clivias se vruggies later oranje, rooi of geel verkleur.

Antwoord: Thomas, pekanneute (Carya illinoensis) kom van nature van die suidelike dele in Amerika. Hulle word algemeen in die droër binnelandse dele gekweek, waar hulle beter aard. Daarom word so baie in die Bloemhof-distrik aangeplant. Dit het baie peste en plae. Bome wat te swaar gelaai is skop soms van die neute af. Daar is ook ’n stinkbesie wat die neute op ’n jong ouderdom steek en hulle laat verskrompel. Daarom die teleurstelling. Ek vermoed ’n sameloop van faktore het gelei tot jou boom se swak oes. Die nat weer vanjaar speel ook ’n rol.

Wat jou boslelies of clivias betref: Hulle blom in die lente. As die blom bestuif word met stuifmeel van ’n geneties ander plant sal vruggies vorm. Hulle neem min of meer een jaar om te ontwikkel. Die vruggie kleur later oranje of rooi (in die geval van rooi blommende plante) of geel (in die geval van geel blommende plante).

Meer oor:  Vra Vir Ernst
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.