Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Kan ek die snotbessie eet?

Carina Rabie van Moreletapark, Pretoria, skryf: 

Ernst, die groot boom op die foto het bykans al sy blare afgegooi nadat dit verbruin het. Die boom loop nou oral uit en is beslis nie besig om dood te gaan nie.  

Die kleiner boom regs, direk langs die grote, is steeds groen en gesond en kry nou blommetjies. Dit laat my glo dat daar nie ’n siekte ter sprake is nie. Sou dit wenslik wees om die grote te top voordat nuwe blare in September uitkom, of wat sou jy aanbeveel? 

Ons twee beeskloue (Bauhinia) is ook treurig met min blare, hoewel dit nie lyk of hulle doodgaan nie. Dit lyk of die swaar reën wat ons kry die inheemse bome knou. Ons twee blinkblare is steeds lowergroen en moet ’n paar keer deur die jaar gesnoei word. 

Antwoord: 

Carina, ek is baie bly jou boom makeer niks nie en dat hy uitloop. Dit wys net hoe gou ons mislei kan word deur aan te neem die plant het ’n swam. 

Ernst van Jaarsveld
Ernst van Jaarsveld

Soms maak bome só: Dit lyk of hulle vrek, hulle gooi van die ou blare af en loop weer fluks uit.

Dit moes seker die baie reën gewees het wat dit so geil laat groei het.

As jy wil snoei, kan jy gedurende die winter sy top snoei, maar as dit nie nodig is nie, hoef jy nie. Behalwe as jy wil snoei met ’n spesifieke doel, byvoorbeeld om dit in ’n vorm te sny.

Met snoei moet ’n mens altyd die boom se natuurlike vorm in gedagte hou. Jy kan ook alle onnodige takke snoei wat soms oorvleuel. Alle dooie hout kan jy ook verwyder en só jou boom kosmeties help. 

Die beste voeding vir bome sluit maar natuurlike kompos as bedekking om die boom in. Dit moet nie ingewerk word nie, net as ’n deklaag gegooi word en elke keer as dit reën, sal die voeding by die wortels uitkom.

Hester Kitshoff skryf: 

Ernst, hierdie bos (foto links) kom wyd op ons plaas voor en dit lyk nie of die bessies geëet kan word nie.  

Antwoord: 

Hester, jou plant heet die snotbessie (Diospyros lycioides) en sy rooi, ryp vruggies is slymerig as jy dit oopbreek. Die ander naam vir hom is bloubos. 

Hester Kitshoff se snotbessies op hul plaas in die
Hester Kitshoff se snotbessies op hul plaas in die Vrystaat .

Dit word deur verskillende diere, soos blouape en bobbejane, benut (sy saad versprei só) en ek het dit ook al geëet, maar sommige bronne sê dit kan nadelig wees. 

Dit is inheems en kom wyd voor in ons land, veral op die Hoëveld-koppies, en is baie dekoratief met die mooi, klein vruggies. Die naam bloubos is verwarrend, want die snotbessie groei dikwels saam met die regte bloughwarrie (Euclea crispa) op koppies op die Hoëveld, saam met kiepersol en mispel (Vangueria infausta). 

Die snotbessie is ’n groot struik en is aangepas vir droogte en ryp. Sy blommetjies is koppievormig en roomkleurig. Dit kweek maklik van sy saad, wat in die lente of somer gesaai word. Dit is ’n nuttige struik wat ook as heining ingespan kan word. 

Dit is verwant aan die kakivrug (Diospyros kaki), ook bekend as persimmon, wat van China kom en nou oral op die mark is. Dit is ook naverwant aan ons inheemse jakkalsbessie (Diospyros mespiliformis), ’n waarlik groot boom met ’n donker stam van die Bosveld, en ook verwant aan die jakkalsbos (Diospyros austro-africana), ’n struikie in die Karoo. 

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.