Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Plant dalk 'n kombinasie?

Gus Louw van Parklands skryf: 

Ernst, ek wil iets teen my nege-voet-muur aan die suidekant (skadu) plant wat altyd groen is en mooi blomme het vir die meeste maande van die jaar. 

Ek woon op ’n duin. Water is nie ’n probleem nie en ek maak my eie wurmwater en wurmkompos. Ek sal verkies dat dit ten minste ses voet hoog groei of ’n ranker is. 

Annie Oase se mooi kurktrekker-ertjie (Vigna caracalla).

Antwoord:

Gus, ek sal graag wil help, maar ongelukkig is daar nie plante wat aan daardie standaard voldoen nie. Daar is baie rankplantsoorte, maar soos met alle lewe bestaan die perfekte een nie en almal het maar hulle voor- en nadele.

Jy kan ’n kombinasie plant en só die voordeel van elkeen hê. Aan die suidekant van die hoë muur kan jy ’n net laat oorhang.

Plant swartoognooi (Thunbergia alata), ’n vinnige knaap met oranje of geel blomme. Dit is ’n pionier-rankplant en sal ook aan die kus aard. Daarmee saam kan jy ook die Port Saint Johns-klimop (Podranea ricasoliana) wat stadiger groei en jou oplossing vir die langer termyn is, plant. Laasgenoemde het pienk klokvormige blomme, vlesige wortels en is dus baie droogtebestand. Ander rankers wat jy kan oorweeg, sluit in die Kaapse kanferfoelie (Tecoma capensis) met in rooi, oranje of geel blomme. Dit kan jy aanplant pleks van die Port St. Johns-klimop. Nog ’n soort is die Trots-van- de-Kaap (Bauhinia galpinii), baie mooi oranjekleurige blomme! Dit is ook ’n rankende struik wat in die somer tot herfs blom. Die mooi rankaalwyntjie (Aloiampelos ciliaris) is stadiggroeiend, maar sal ook rank teen so ’n muur en uiteindelik ’n mooi vertoning in die lente gee, en boonop suikerbekkies lok.

Jenni Carreira van Capital Park, Pretoria, skryf: 

Ongeveer vyf jaar gelede het ek ’n Eureka-suurlemoenboom present gekry, en omdat die perseel onder plaveisel is, het ek dit in ’n groot pot geplant met ’n mengsel van potgrond en kompos. Die boom kry so elke vier tot vyf dae water, (afhangend aan hoe warm dit is) en so een keer per maand ’n handvol kunsmis. 

Tans is daar so 25 suurlemoene van verskillende groottes, asook ’n klompie blommetjies. Die probleem is dat die suurlemoene nooit ryp (geel) word as dit ’n sekere stadium bereik het nie. Dit bly net groen en groei nie verder nie. Iemand het voorgestel die boom kry nie genoeg son nie. Tog staan die pot waar dit oggend- en heeldagson kry in die somer, hoewel die son in die winter teen drie-uur al weg is. 

Antwoord: 

Jenny, ek dink ook dat hy nie genoeg son kry nie. Sonnige winters met skerp son is belangrik vir sitrus. Die son stel die plant in staat om te fotosinteer en dus in die vrug te belê. Word daardie bron belemmer, dan is die vrugte die eerste plek waar dit wys, aangesien die plant eerste na sy blare kyk.

Annie Oase skryf: 

Ernst, ek het ’n rankplant gekoop sonder ’n naam. Aangeheg is twee foto’s: Die eerste een is wanneer die plant begin blom, dan die tweede wanneer die blom oopgegaan het. Ek wil graag weet wat die plant is. My plantboeke is te oud en die plant kom nêrens voor nie. 

Antwoord:

Annie, jou plant heet die kurktrekker-ertjie of corkscrew flower (Vigna caracalla) vanuit tropiese Suid-Amerika. Dit het baie mooi geurige blomme in die laatherfs met wit tot pienk pers blomme. Die blomme is kenmerkend gedraai. 

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.