Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Plant sommer die ruiker

Johann Vorster van Centurion skryf: 

Ernst, met my vrou se verjaarsdag op 27 Mei vanjaar het sy ’n ruiker ontvang met onder meer drie pragtige wit roosblomme. Die res van die ruiker het later vergaan, maar die drie rose het ’n maand lank mooi gebly.

Met verbasing het ons toe agtergekom dat die drie stingels uitlopers begin vorm het, maar het nog nie enige wortels gevorm nie, soos wat vanoggend se foto aantoon. Is dit werklik so uitsonderlik soos wat dit vir ons lyk? Die plan is om dit uit te plant en te hoop dat dit wel wortels sal vorm.  

Johann Vorster se roos wat uitgeloop het in die bak.

Antwoord: 

Johann, die stingels is groen en fotosinteer, en natuurlik ook omdat hulle in water gehou is, kon dit bekostig om uitlopers te vorm. Jy kan die uitlopers uitplant in ’n houer in sanderige grond en hulle behoort wortels te vorm. Plant met sowat helfte in die grond en hou nat.

Ek sou net wag dat die ryptyd verby is voordat ek hulle buite plaas. Verskaf dus beskutting teen ryp. Die plant wil genoeg lig hê vir fotosintese, om juis genoegsaam voeding te vorm wat hy sal gebruik om wortels te groei.

Onthou ook die spruitsels is nie son gewoond nie en ’n mens moet hulle verkieslik geleidelik verhard tot volson. Die beste is maar gedeeltelike skadu totdat die plante goed gewortel het.

Ek sou dit in die houer hou totdat jy eers sien dat die plant sterk groei.

Leon Jaquire skryf:  

Ernst, ek het aalwyne wat al paar ’n jaar oud is. Ek het dit ’n paar maande gelede uitgeplant. Ek merk nou op dat daar swart kolle op die blare voorkom. Tussen die blare kom groeisels uit en in die een se kroon is daar ’n gelerige, poeieragtige stof.
 
Antwoord: 

Leon, twee sake is hier ter sprake. Jy het aalwynkanker wat die vergroeisels veroorsaak aan die basis van die plant, en ook ’n donker swam (Montagnella sp.), wat die kolle veroorsaak. Wat die eerste saak betref, die kanker word veroorsaak deur klein myte wat onbeheerde selgroei veroorsaak. Dit kan jy maklik behandel met Karba-poeier wat jy by enige koöperasie kan kry. Maak ’n dik verf met die poeier aan en smeer aan die geïnfekteerde dele. Vir die swartkolswam is koperoksie­chloried die beste vir voorkoming, of gebruik ’n sistemiese swamdoder.

Leon van Malmesbury Kwekery skryf:

Deesdae ondervind ons al hoe meer probleme met vrot op aalwyne. Dit is nie die gewone vrot en pap blare nie. Weet jy wat die probleem veroorsaak? Wat kan ek gebruik om dit te verhoed en/of gesond maak?

Antwoord: 

Aalwyne is inheems en daar is sommer baie plae wat hulle gereeld knou. In jou geval kan dit een van twee moontlikhede wees. Plantluise, swam of albei. Soms is daar plantluise onder die blare en kroontjie. Die blare vou dan terug weens die vog wat onttrek word. Lig die blaar op en kyk of daar tekens van die fyn luisies is. Gewoonlik is miere ook teenwoordig. Die miere beskerm die luise en melk hulle vir heuningdou. Dit kan die kroon ook laat verswak of verrot. As dit nie luise is nie, kan dit ’n tipe roes wees wat kop uitsteek as gevolg van die baie vogtige weer hierdie winter. Dit veroorsaak die vlekke in die kroon. Vir die luise spuit ek Malasol (Malathion), en vir die swamme koperoksiechloried of ’n dergelike sistemiese swamdoder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.