SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Tuine
Vra vir Ernst: Swaardlelie uit Mpumalanga

Elsa du Plessis skryf: 

Kan jy my help met dié identifikasie? Ek het die plant einde April in die Steenkampsberg in Mpumalanga gekry.  

Elsa du Plessis se foto van die Ohrigstad-swaardlelie (Gladiolus rufomarginatus) wat sy in die Steenkampsberg afgeneem het.

Antwoord:  

Elsa, jou plant heet die Ohrigstad-swaardlelie (Gladiolus rufomarginatus). Ek het deur elke illustrasie van Peter Goldblatt en John Manning se mooi geïllustreerde boek Gladiolus in Southern Africa (Fernwood, 1998) gewerk, maar kon nie jou plant daarin vind nie. 

Ek het die foto vir John Manning gestuur en hy het dit geïdentifiseer as G. rufomarginatus, wat net in Ohrigstad bekend was. Hy is baie opgewonde en sê dit is ’n nuwe verspreidingspunt vir die plant. Die Steenkampsberg is vol verrassings en is veral bekend om sy baie mooi geel aronskelke. Dit is ’n bergagtige grasveldstreek wat winters brand en dan steek die mooi veldbolsoorte kop uit.

Volgens hul boek het ons 163 inheemse swaardlelie (Gladiolus)- soorte. Omdat die groep so aantreklik is, is dit g’n wonder nie dat daar al ’n hele paar boeke daaroor verskyn het.

Van die mooiste inheemse soorte wat gekweek word, is Gladiolus dalenii, met sy helder oranje tot oranje-rooi blomme, wat baie in tuine gesien word. Sy verspreiding is die somerreënval-dele van Suid-Afrika.

Die grootste swaardlelie-diversiteit is egter in die winterreënvalstreke van die Wes-Kaap en in die Worcester-distrik is daar om en by 40 soorte. Dink maar aan die mooi kalkoentjie (Gladiolus alatus), sandveldlelie (Gladiolus caryophyllaceus) ensomeer. Daar is ook baie somerreënval-soorte, veral in die grasvelddele van die oostelike Hoëveld.

Dawid Botha van Frankfort skryf: 

Ernst, my vrou het amper die mooiste tuin in die straat en sy doen baie moeite, maar ons sukkel met die krismisrose. Gewoonlik is dit hier by ons in die Noordoos-Vrystaat ’n geharde plant. Ons doen toe aankope by ’n kwekery in Vereeniging en binne weke het die blare wit skimmel op. Ons het dit afgespuit, maar dit bly sukkel. Verlede jaar het ek dit van Julie, terwyl die plant nog rustend was, af weekliks gespuit teen meeldou, poeierdou en wat ook al. Ek doen ook groot moeite om onder die blare te spuit. Dit het vanjaar amper gewerk, maar helaas, die krismisrose groei aanvanklik mooi en dan begin ons probleme. Ons het ander ou krismisrose digby met geen probleme nie – net die aangekooptes het die probleme.  

Antwoord: 

Dawid, dit was ’n baie vogtige somer en krismisrose kry soms ’n poeieragtige meeldou. Dit behoort met ’n normale somer te verbeter. 

Verwyder alle ou dooie blare onder die plante wat klammigheid kan veroorsaak. Die feit dat jou ander krismisrose so mooi groei, laat my wonder wat die verskil in plantplek is. 

Krismisrose vaar beter met ’n suidelike en oostelike aansig waar dit effens koeler is. 

Dit verkies suurderige grond (dan is die blomme blou), maar sodra die grond alkalies raak, is die blomme pienk. Sodra die jong blare weer uitloop in die lente, kan jy met ’n sistemiese swamdoder spuit. Dit kan ook wees dat jy ’n kultivar gekoop het wat met die teelproses sy siektebestandheid verloor het. Krismisrose (Hydrangea macrophylla) kom vanuit die ooste en is baie gewilde plante wat in die Hydrangeaceae-familie voorkom. Daar is heelwat soorte.  

Meer oor:  Ernst Van Jaarsveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.