Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Vra vir Ernst: Trek dit maar met die hand uit

Maria van Heerden skryf:  

Ek het verskeie kwekerye genader vir advies en almal se raad is: Trek dit uit.  

Maar dit is nie moontlik nie. Hierdie biesietipe gras en waterlelies groei ons oewer totaal toe. Ons het natuurlik ’n stuk gelos, asook die waterlelies, want die watervoëls maak neste en dit is pragtig. Ons wil net ’n deel verwyder/vernietig, want dit versper ’n mens se hele uitsig.  

Ons bly teenaan die Homestead-meer en dis nog van die min plekke in die land wat ’n mens kan geniet. Ek weet ons is bevoorreg met die wonderlike natuurskoon en glo my, ons geniet dit. Kinders en kleinkinders geniet dit steeds om kano te ry en van ons stoep af vis te vang. Maar wat kan ek spuit om dit dood te maak wat nie die voëls en visse sal vernietig nie? 

tuin
Maria van Heerden se foto van haar tuin wat aan die water grens en al haar biesies en ander waterplante.

Antwoord: 

Maria, waterplante groei baie snel juis omdat water die een vryelik beskikbare bron is. Daarom groei die meeste oorheersend en kan dit soms damme toegroei. Dit bekamp erosie en plaas ’n demper op die verspoeling van grond ensomeer. Dit kan dus onversteurd vinnig versprei, veral in die somer. 

Histories was daar altyd diere wat die plante in toom gehou het. Dit sluit in seekoeie, olifante en verskeie bokke wat die plante gevreet het. 

Aan die ander kant is die digte biesiebevolking baie belangrik vir broeiende voëls, rietpaddas en ander waterdiere. 

Daar is geen manier om dit te beheer anders as om dit met die hand te verwyder of om ’n grondverskuiwingsvoertuig te huur en die plante fisiek te verwyder nie. 

Jy kan chemikalieë gebruik, maar sal ongelukkig grootskaalse besoedeling veroorsaak en uiteindelik meer kwaad as goed aanrig. 

Daar is nie ’n veilige middel wat jy kan spuit nie.

Maak die damrand jou en jou gesin se oefenplek, en in plaas van gimnasium toe gaan, kan julle die waterplante met die hand stelselmatig verminder. Dit is goeie oefening en ’n lekker manier om in die somer af te koel.

Awie Coetzee skryf:  

Ernst, ek woon in Pretoria en het seker so 35 jaar gelede ’n broodboomplantjie as geskenk ontvang. Ek het wel ’n permit vir die plant verkry; dit is ’n E. transvenosus (Modjadji-broodboom), volgens die permit.  

Sowat twee jaar gelede het die plant ewe skielik ’n kelk met sade gevorm. Van die sade het nou ontkiem en nuwe plante gevorm. 

Ek verneem graag wat my te doen staan om die nuwe aankomelinge te wettig. Ek sal graag met verloop van tyd van hulle Kaap toe wil neem. 

Antwoord: 

Awie, sover ek weet kan jy broodboomsaailinge sonder probleme Kaap toe vervoer. 

As jy daar aanland en die saailinge begin groei, kan jy later om ’n hou-permit by Cape Nature aansoek doen. Hulle is nie snaaks nie en sal dadelik ’n permit aan jou uitreik. Kyk op hulle webtuiste (wat jy kan Google); dit gee jou al die instruksies.

Meer oor:  Vra Vir Ernst  |  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.